Die Hervormer

Kos is op die tafel

Die Amerikaanse teoloog Leonard Sweet is onlangs deur Ekerk se Learning Communities na Suid-Afrika gebring om te kom praat oor die toekoms van die kerk, die uitdagings wat ons ervaar en ons elkeen se rol daarin. Tydens ’n twee dae lange seminaar het hy onder meer gesels oor sy nuutste boek, From tablet to table.

Volgens Sweet is een van die grootse probleme wat ons vandag in die gesig staar, die feit dat ons ’n generasie sonder ’n identiteit die wêreld instuur. Ons het ’n groep mense geword wat so vinnig by mekaar verby leef dat ons mekaar nie ken nie, wat mekaar se stories nie ken nie en wat veral nie meer die storie van ons geloof ken nie.  

Hy het met passie vertel hoe hierdie probleem opgelos kan word. Die eenvoudige oproep is vir gelowiges om weer by die tafel te gaan aansit. Hy sê vir hom is die mooiste woorde: Kos is op die tafel.

Die idee van ’n tafelgemeenskap is niks nuut nie. Ons sien telkens in die Bybel hoe Jesus, die groot Storieverteller, Homself en sy storie oor en oor met mense deel, om die tafel. Jesus was oral besig om saam met mense brood te breek en wyn te drink. So het gelowiges en niegelowiges deel geword van Jesus en sy verhaal, deel begin word nie net van mekaar se verhale nie maar van mekaar se lewens, planne, drome, foute, vrese en bekommernisse.

Gelowiges was in ’n besondere mate deel van mekaar se lewens en afhanklik van mekaar tydens die eerste beweging van die kerk toe daar daagliks om die tafel in huise bymekaargekom, saamgeëet en saam kerk gehou is. Om die konsep deel te maak van ons kerke impliseer min of meer die volgende: Om weer identiteitbouers van ’n generasie te word, het ons ’n sterk narratief nodig. Narratiewe bou en versterk identiteit sonder om te hard te probeer. Identiteit word die maklikste oorgedra rondom die tafel.

So word die tafel met ander woorde die heilige ruimte waar ons stories met mekaar sal deel, waar verhoudings opnuut gestig en gevestig word. Die gedekte tafel is die plek waar gesinne weer deel word van mekaar se lewens, waar gemeentes weer saam deur die lewe gaan en waar die gemeenskap die kans kry om deel te word van ’n gemeenskap van gelowiges wat fisiese en geestelike kos kry. Dit is tog waaroor saam eet gaan – verhoudings wat gebou word. So word daar aan die tafel dissipels gemaak.  

Sweet noem dat die meeste mense twee plekke het waar hulle hul tyd deurbring: die werkplek en die huis. Almal het egter ’n derde plek nodig waar ons tuis en gemaklik kan voel. Wanneer die kerk haar tafels gedek hou, kan elke gemeente so ’n derde plek word, nie net vir gemeentelede nie, maar vir die gemeenskap.