Die Hervormer

Kerkwees – op voetspoor van Christus

Die afgelope tyd het nuwe woorde en begrippe wat nie altyd maklik is om te verstaan nie, in omloop gekom. Een so ’n begrip is die “institusionalisering” van die kerk. Wat word daarmee bedoel?

Dit is algemeen bekend dat Jesus nie ’n kerk gestig het soos wat ons vandag die kerk ken nie. In Jesus se tyd was daar geen kerkgeboue, teologiese fakulteite, ’n kerkkantoor, kerklike tydskrifte of gedrukte Bybels nie. Die kerk het spontaan voortgevloei vanuit die mense wat Jesus gevolg het en sy lering verder versprei het. Hulle het dit wat Jesus hulle geleer het oor die koninkryk van God verder oorvertel. Hulle het uitgegaan en mense geleer wat Jesus hulle geleer het, hulle het van mense dissipels (volgelinge of leerlinge) van Jesus gemaak. Daarvan lees ons in Matteus 28 waar Jesus die dissipels opdrag gee om uit te gaan na al die nasies toe. Ons lees in ’n gedeelte soos Lukas 10 dat Jesus sy dissipels uitstuur om mense te help, om hulle te genees en om aan hulle te vertel dat die koninkryk van God naby gekom het. Die vroegste Christene het ’n verskil gemaak in die lewens van die mense met wie hulle te doen gekry het.

Van ’n oop sisteem na ’n instituut
Die vroeë Christelike gemeenskappe kan beskryf as ’n “oop sisteem”, dus ’n groep met min strukture, basiese waardes en beginsels wat mense aan mekaar verbind en ’n openheid teenoor vreemdelinge. Dit het veroorsaak dat die vroeë kerk geweldig vinnig gegroei het, want mense kon hulle met die waardes van die Christene vereenselwig en deel word van ’n nuwe familie. Binne 300 jaar na Jesus se kruisiging was daar reeds sowat 35 miljoen Christene en het hulle die grootste godsdienstige groepering in die Romeinse Ryk gevorm.

Die Christene het mettertyd van ’n vervolgde minderheid tot ’n invloedryke meerderheid verander. Met die Edik van Milaan (313 nC) het keisers Konstantyn en Licinius gesamentlik aan die Christelike geloof amptelike erkenning verleen en het die kerk bepaalde voordele ontvang, veral finansieel. Die kerk het ook talle kerkgeboue en vaste eiendom bekom. Die kerk het verander: Jesus se volgelinge het ’n organisasie met mag, aansien, geboue en politieke invloed geword. Die kerk het ’n “institusionele” karakter aangeneem. Dié institusionele karakter van die kerk is deur die loop van eeue verder uitgebou en versterk, veral wanneer die owerheid en die kerk baie nou aan mekaar verbonde was.

Navorsing wat die afgelope tyd vanuit verskillende vakdissiplines gedoen word, toon aan dat kerke soos die Hervormde Kerk ’n besonder sterk instititusionele karakter vertoon. ’n Tipiese voorbeeld daarvan is die feit dat ons in die Hervormde Kerk die kerklike apostolaat en diakonaat “geïnstitusionaliseer” het. Gemeentes en individuele lidmate voel nie verantwoordelik vir missionale bediening nie – dit is die Kerkkantoor in Pretoria se verantwoordelikheid. Bejaardes en sorgafhanklike kinders word in inrigtings versorg. Arm mense is die verantwoordelikheid van maatskaplike werkers. Die oomblik wanneer die kerk as instituut funksioneer, word dit ’n groot organisasie met kantore, geboue, inrigtings en vergaderingstrukture. Die kerk as  instituut dryf op ’n see van vergaderings.  

Aan die ander kant is dit óók waar dat ons nie die situasie in Jesus se tyd kan naboots nie.  Die tyd en konteks het te ingrypend verander. Ons kan nie 2 000 jaar se geskiedenis ignoreer nie. Ons aanvaar ook dat die Kerk, soos wat dit nou bestaan, ’n legitieme en egte uitdrukking van kerkwees is – met al die institusionele eienskappe wat dit vertoon. Ons is ook bewus daarvan dat dit sin maak om sekere dinge gesamentlik te doen, omdat dit onbekostigbaar of selfs onmoontlik is vir individuele lidmate of gemeentes om bepaalde aksies op hul eie te bekostig. Daarom kan dit sinvol wees om dinge soos teologiese opleiding en sommige diakonale aksies sinodaal te verrig.

Roeping van gemeentes
Die uitdaging waarvoor ons tans staan, is om te bepaal wat deur lidmate en gemeentes plaaslik gedoen moet word en wat in sinodale verband gedoen moet word. Wat kan en moet gemeentes doen? Wat kan en moet in sinodale verband gedoen word? Uiteraard kan die vrae verskillend beantwoord word. Ek is van mening dat missionale en diakonale bediening veral by gemeentes moet tuiskom. Gemeentes wat nie missionaal of diakonaal in ’n gemeenskap aktief is nie, raak totaal onsigbaar en het geen potensiaal om te groei nie. Dit is ook strydig met die wese van kerkwees en ’n hardkoppige ongehoorsaamheid aan die opdrag van die Here Jesus Christus. Wanneer ’n gemeente sy missionale en diakonale roeping en opdrag verwaarloos, hou so ’n gemeente eintlik op om gemeente van Christus te wees.

Die Hervormde Kerk bestaan uit 290 gemeentes. Die Hervormde Kerk het kollektief ’n bepaalde teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, soos wat elke gemeente in hul plaaslike gemeenskap ’n bepaalde teenwoordigheid (presence) het. Ons is individueel en kollektief verantwoordelik om kerk van Jesus Christus te wees, om sy dissipels te wees, om in sy voetspore te volg, om met integriteit kerk te wees in die gemeenskap waar ons geplaas is.

Die Kommissie van die AKV het in die gesprek oor kerkwees deeglik rekening gehou met die nuutste navorsing en insigte. Ons het toenemend onder die besef gekom dat die Hervormde Kerk in institusionalisme vasval. Dit stel besondere uitdagings aan die Kerk, onder andere om gevestigde strukture in stand te hou en te bekostig. Dit is uitdagend om ’n bepaalde kerklike kultuur wat oor dekades ontwikkel het met nuwe inhoude te vul en te soek na nuwe gestaltes van kerkwees wat die mense van die 21ste eeu met nuwe oë na die Kerk sal laat kyk – nie ter wille van die Kerk se oorlewing nie, maar ter wille van die evangelie wat aan die Kerk toevertrou is. Ook dit is ’n feit: Waar die Kerk aan integriteit mank gaan, verduister dit die evangelie...

Kerk op voetspoor van Christus
Die Hervormde Kerk seil onder ’n nuwe vlag. Die vlag van politieke invloed, mag en rykdom is gestryk. Die nuwe vlag wat gehys word, sê ons wil Kerk wees op voetspoor van Christus.  Ons wil in Christus se voetspore volg. Ons wil op elke vlak van kerkwees diensbaar wees. Dit deurbreek die bande van institusionalisme en konfronteer ons met moeilike vrae:

  • Hoe kan ek as Christen in Jesus se voetspore volg?
  • Hoe kan ons as gemeente in Jesus se voetspore volg?
  • Hoe kan ons as gemeentes van ’n bepaalde ring in ons gemeenskap in Jesus se voetspore volg?
  • Hoe kan die Hervormde Kerk in Suid-Afrika in Jesus se voetspore volg?

Tydens die ringsvergaderings van 2015 gaan die Kommissie van die AKV afgevaardigdes na die ringsvergadering vra om oor die vrae te dink en te praat. Dit  kan ons as Hervormde Kerk help om meer soos Jesus se volgelinge te leef, en minder soos ’n groot organisasie.