Die Hervormer

Teologiese afrigting of religieuse studies – is daar 'n derde moontlikheid?

Hoe kan ons as Kerk gelowige teoloë oplei om die evangelie van Jesus Christus met geloof en ook met verantwoordelikheid te kan verkondig? Ons opleiding moet in elke opsig die en tussen geloof en rede akkommodeer.

Die onlangse drie-in-een-geleentheid (opening van die Hervormde Teologiese Kollege, Inligtings- en Besprekingsvergadering, en Predikantevergadering 2015) was ’n briljante inisiatief. Die kombinasie van die drie geleenthede bring kostebesparing mee en trek drie belangrike aspekte van ons kerklike praktyk bymekaar.

Oor die algemeen was die reaksie en terugvoer van predikante oorweldigend positief. Waardering is uitgespreek oor veral die Predikantevergadering wat op ’n dinamies alternatiewe maar tog soms ongemaklike wyse die welwese van die predikant belig het. Die Inligtings- en Besprekingsvergadering was ’n bietjie minder opwindend, maar belangrike inligting is meegedeel oor die toekoms van die Kerk.

Verhouding tussen die Kerk en die Fakulteit
Ek wil egter graag oor die saak van teologiese opleiding wat tydens die opening van die HTK ter sprake gekom het, reflekteer. Veral oor die verhouding tussen die Kerk en die Fakulteit, en dan ook per implikasie oor die verhouding tussen geloof en rede.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het reeds lank terug gekies – en hierdie keuse telkens bevestig – dat ons graag ons predikante aan ’n teologiese fakulteit aan ’n universiteit wil laat oplei. Die verhouding met die Universiteit van Pretoria strek al oor soveel jare dat ’n mens jou ook amper nie ’n ander alternatief kan indink nie. Studente ontvang noodsaaklike kennis van die brontekstale en word begelei om krities te kan dink binne en oor die teologie, Bybelwetenskappe en kerklike praktyk. As deel van ’n sekulêre universiteit word hulle geskaaf en gevorm om ook met die ander wetenskappe in gesprek te kan tree en ’n bydrae te kan lewer tot die soeke na verstaan van die werklikheid. Hierdie wetenskaplike vorming en ontwikkeling is kosbaar omdat dit die studente lei tot selfstandige denke en in staat stel om ook in die bedieningspraktyk in gesprek te tree met lidmate wat binne ’n sekulêre wêreld leef en werk. Tog is hierdie ontwikkeling nie genoegsaam vir die Kerk nie. Goeie wetenskaplikes of akademici is immers nie noodwendig “goeie” predikante nie.

Rede én geloof
Die Kerk probeer om aan studente meer as bloot intellektuele toerusting te bied. Dalk bestaan die HTK in ’n sekere sin ook om studente geestelik te begelei en te laat ontwikkel tot volwaardige predikante van die Kerk. Mense wat ’n balans soek tussen rede en geloof. Hierdie gebalanseerde teologie, wat deeglik kennis neem van wetenskaplik gefundeerde navorsing maar ook ruimte laat vir die onverklaarbare dimensies van die werklikheid, tipeer in ’n mate Hervormde teologie.

Die probleem is dat hierdie balans soms versteur word. Die druk van die Kerk om sekere geloofsoortuigings te handhaaf, kan teoloë blind maak vir die realiteite wat die wetenskap na vore bring. Natuurlik hou dit die gevaar in dat teologiese studie kan ontaard in teologiese afrigting. Studente sou in hierdie sin gelei word tot kitsoplossings en goedkoop antwoorde, sonder om self krities te kan reflekteer, ook oor hul eie geloof. Aan die ander kant kan die druk van die sekulêre wêreld die krag en waarde van menslike rede en positivistiese wetenskapbeoefening oorbeklemtoon. Die sosiale eis dat alle godsdienste gelyk is, kan hiertoe bydra. Studente sal dan ewe wetenskaplik begelei word tot geestelike blindheid en die rede sal die geloof uitstof aan die hand van sy eie reëls. Die enigste oplossing sal dan wees om teologiese studie eerder as religieuse studie te tipeer en dan op positivisties-wetenskaplike wyse, vanuit ’n tipe sosiologiese of godsdiensfenomenologiese vertrekpunt, na die Christelike geloof as menslike fenomeen naas ander godsdienste te kyk.  

Die vraag is hoe ons as Kerk gelowige teoloë kan oplei om die evangelie van Jesus Christus met geloof en ook met verantwoordelikheid te kan verkondig.

Ons moet nie die fout maak om op eg platoniese wyse die geloof vir die Kerk en die rede vir die Fakulteit toe te eien nie. Dit sou dieselfde positivistiese fout wees as om hierdie twee aspekte van menswees – geloof en rede – van mekaar te probeer skei binne jou eie eksistensie. ’n Meer postmoderne wetenskapbeskouing het ons immers deeglik bewus gemaak van die veronderstellings waarmee ons maar altyd die werklikheid aanskou. Inteendeel, die naaste wat ’n mens aan objektiewe studie kan kom, is om jou eie subjektiwiteit te erken. Jou geloofsoortuigings maak deel uit van hierdie subjektiwiteit en selfs as jy sou beweer dat jy geen oortuiging het nie, is hierdie bewering jou oortuiging. Die enigste eerlike manier om dus wetenskaplike navorsing ook binne die teologie te doen, is om jou eie vertrekpunt te erken. Wanneer gelowige teoloë byvoorbeeld navorsing oor ’n spesifieke Bybelteks doen, is die veronderstelling dat hulle deeglik bewus sal wees van hul eie geloofsoortuigings en dit nie sal ontken of maak asof hulle “suiwer” wetenskaplik die geloof eenkant toe kan skuif en dan net met die rede besig kan wees nie.

Hierdie tipe eerlikheid maak jou nie blind vir ander moontlikhede en perspektiewe nie, dit open eerder die moontlikheid van dialoog. Ek kan net met jou in gesprek tree as ek ek is en jy jy is. Dialoog tussen die natuurwetenskaplike bioloog wat fokus op die ontwikkeling van die embrio vanuit ’n biologiese vertrekpunt, kan net eerlik gevoer word as die teoloog erken dat hy of sy teoloog is en vanuit ’n teologiese vertrekpunt saam waarneem, gesels en luister. As ons teologies oor die werklikheid wil reflekteer, doen ons dit vanuit ons teologiese vertrekpunt, wat iets anders behels as ’n bloot filosofiese refleksie.

Die antwoord sou dus wees dat die balans, die groot en tussen geloof en rede, binne die wese, denke, woorde, navorsing, ensovoorts, van elke teoloog gehandhaaf word. Die oplossing is nie om rede op kliniese wyse van geloofsoortuigings te probeer lossny en dan as halwe wese te probeer voortbestaan, navorsing te doen, te doseer of te studeer nie. Die oplossing is ook nie om van Maandag tot Saterdag jou akademiese hoed op te sit en koud en klinies die werklikheid op positivistiese wyse te probeer verklaar, en dan Sondag te preek oor die dinge wat jy nie kan verklaar nie maar wel kan verstaan. Nee, ons Kerk het dosente, studente, predikante en lidmate met integriteit nodig. Mense wat die dinamiese multidimensionele aard van menswees en van die werklikheid erken en omhels.

Ons opleiding moet in elke opsig die en tussen geloof en rede akkommodeer. In elke dosent se oë moet studente tegelyk die dinamiese energie van wetenskaplike studie saam met die wonder van geloofsverwondering kan raaksien. Studente moet in die woorde en optrede van dosente die kille feite van wetenskaplike navorsing saam met die warm liefde van God se genade ontdek. Die Kerk moet van dosente nie net akademiese artikels met trots ontvang nie, maar ook met dankbaarheid die inspirasie wat gelowige teoloë aan ’n soekende kerk kan bied.

Enige lewende wese het balans of homeostase nodig om te kan bestaan of te kan groei. Ons Kerk se bestaan, voortbestaan en groei gaan afhang van die verhouding waarin geloof en rede tot mekaar staan binne die Fakulteit, in die wese van dosente, predikante en in elke lidmaat.