Die Hervormer

Stoepstories: Vanwaar die toga!

Ons klompie Stoepsitters, ’n ou bynaam vir lidmate van die NHKA, is gewoond aan ’n bepaalde manier van doen in ons kerklike lewe en veral in ons eredienste, maar ons weet nie altyd hoekom ons dinge doen soos ons hulle doen nie.

Toe Oupa Stoep so ’n jong dominee was, kom staan daar ’n seuntjie en pluk aan Oupa se toga, wat hy nog nie na die diens uitgetrek het nie: Ek hou daarvan as jy jou swart jas dra! sê die jongeling. Ek is baie bly, antwoord Oupa, nogal gevlei, maar hoekom hou jy daarvan as ek dit dra? Want enige vriend van Batman is ’n vriend van my! sê die jong man en blaas Oupa se ego goed af.

Maar waar kom die gebruik dat die predikant ’n toga dra vandaan?

Die toga wat Hervormde predikante tydens eredienste dra, het ’n baie lang geskiedenis. Dit dateer uit die tyd van die Kerkhervorming. Voor die Kerkhervorming in die 16de eeu was dit (en is dit steeds) die gebruik dat die Roomse ampsdraers togas gedra het, in verskillende kleure, maar gewoonlik in wit met gekleurde omboorsels of bande. Die kleure van die toga was ’n aanduiding van die ampsdraer se rang en status. Die hiërargiese struktuur van die Katolieke Kerk se ampte (ab / priester / biskop / aartsbiskop / kardinaal / pous) is aangedui in die tipe togas wat hulle gedra het. Kardinale het byvoorbeeld rooi togas gedra. Dit is begrond deur die Roomse ampsbegrip, naamlik dat die amp ’n officium is (dus ’n belangrike posisie waartoe jy bevorder word deur die kerklike owerhede).

Met die Kerkhervorming is hierdie hiërargiese ampstruktuur verwerp, asook die amp as officium. Die amp word verstaan as ’n ministerium, dus  ’n dienswerk. Die ampsdraers staan in diens van God, tot diens van die gemeente. Om weg te kom van die Roomse ampsbegrip, het die Hervormers weggedoen met die Roomse toga en dit vervang met die eenvoudige swart, akademiese toga. Die toga was dus ’n aanduiding van iemand wat akademies toegerus is en ’n graad behaal het in die teologie. Dit was ook anders as die Roomse priesters wat baie dikwels nie eens kon lees of skryf nie. Daarmee is ook ’n tradisie gevestig in die Hervormde kerke dat nie enige persoon homself tot biskop kan verklaar en allerlei kwaksalwery bedryf nie, maar dat die predikant opgelei en amptelik beroep en bevestig moet word.

Omdat die toga wat predikante dra vanuit die akademiese wêreld kom, sou iemand wat ’n doktorsgraad behaal het, heeltemal geregtig wees daarop om sy of haar rooi akademiese toga te dra tydens eredienste, en daar was al doktore wat dié gebruik gevolg het. Oupa Stoep is maar te dankbaar dat hy net geregtig is om ’n swart toga te dra, want ’n rooi toga sou sy wit baard dalk pienk laat vertoon het, en dit kon beteken dat die arme kindertjies in die gemeente lank traumaberading sou moes ontvang!

Die Kerkorde skryf, so ver Oupa Stoep kon vasstel, nêrens voor dat ’n predikant ’n toga móét dra nie. Dis elke predikant se keuse of hy of sy ’n toga wil dra of nie. Baie predikante oefen die keuse uit om sonder ’n toga te preek, en dit doen geensins afbreek aan die boodskap wat hulle bring nie. Oupa Stoep is egter een van die ou skool predikante wat voel of hy nie al sy klere aan het nie as hy sonder ’n toga op die kansel klim.

Interessant genoeg gebeur dit meer en meer – veral tydens begrafnisse – dat mense, oud en jonk, wat uit ander kerkverbande kom, ná die diens kom dankie sê en dan veral dankie sê omdat Oupa Stoep sy toga gedra het. Dit het vir ons gevoel of ons weer in ’n kerk is en nie net by ’n praatjie nie, sê hulle dan. Dit laat ’n mens wonder of dit tog altyd die aangewese weg is om meer wêrelds as die wêreld te probeer wees, veral as dit by eredienste kom...