Die Hervormer

Praat maak beter

Die skok van die gebeure by Hoërskool Driehoek is nog vars in ons geheue. Die ramp het ook lidmate en predikante van die Kerk geraak. Die media het berig wat almal wat daar betrokke was, beleef het.

’n Brief van ’n leerling wat dit sien gebeur het, vertel dat sy nie weer wil teruggaan na die skool toe nie. Dit was ’n traumatiese gebeurtenis wat ’n gemeenskap en land geraak het. Trauma affekteer die fisiese, psigologiese en kognitiewe wese van die mens. Selfs gelowiges kan begin twyfel in God, hoop verloor en die sin van die lewe bevraagteken. Daar is van oral hulp aangebied en gekwalifiseerde beraders en sielkundiges het kinders en onderwysers gehelp om emosies rondom die gebeurtenis te verwerk. 

Dit laat onbewustelik ook die vraag ontstaan op watter wyse gelowige lidmate ondersteuning kan bied aan mense wat trauma beleef of dit aanskou.

Traumatiese-insidentreduksie (TIR)

Hierdie tegniek funksioneer vanuit die beginsel dat trauma wat nie deurgewerk word nie altyd in ’n mens bly, selfs vir jare na die voorval. Dit word in die onderbewussyn gebêre waar tyd dit nie genees nie, slegs bedek. Onverwerkte trauma kan ontwikkel in ’n posttraumatiese stresversteuring (PTSV). TIR word effektief vir die hantering van trauma toegepas vanaf twee weke tot dekades na ’n voorval. Dit is veral effektief om die pynlike effekte van ’n traumatiese insident, soos onwelkome gevoelens, emosies, sensasies en pyne, te verwerk. Die tegnieke help mense om op ’n sekere wyse oor die ervaring te praat om sodoende die emosionele lading van die gebeurtenis te verminder. 

Die vraag Wat het met jou gebeur? help die persoon om die gebeurtenis verskeie kere te vertel. Binne die herhaalde feitelike oorvertelling word die emosionele lading van die gebeurtenis ontsluit. Elke hervertelling verskil van die vorige, want dit bring nuwe insigte en inligting rondom die gebeure wat verberg of vergeet was, na vore. Die trauma word uit die onderbewuste deur herhaalde oorvertelling na die bewuste gebring. Daar word op elke trauma afsonderlik gefokus, en die insident word deur vrae herhaaldelik ondersoek, totdat die effek van die emosionele band verminder of verdwyn.

Die proses word as afgesluit beskou wanneer ’n bepaalde punt bereik is waar iemand fisies verligting ervaar en die fokus gemaklik terugskuif van die gebeurtenis na die hede, sonder die moeilike emosies. Al vra die tegniek direkte vrae volgens ’n vaste patroon, word daar nie geïnterpreteer of geëvalueer nie, en sodoende word die persoon bygestaan om self by die oplossing of afsluiting uit te kom.

Soos enige terapeutiese ingrype, vind dit plaas binne ’n veilige terapeut-pasiënt-vertrouensverhouding. 

TIR en die Christelike Seemansorganisasie (CSO)

Hervormde predikante wat vir die CSO werk, is almal opgeleide TIR-fasiliteerders. Die Suid-Afrikaanse hawens is gewoonlik die eerste stop vir seemanne op die lang vaart van die Ooste af. Aan boord word hulle gekonfronteer met traumatiese insidente soos seeroweraanvalle, ongelukke en selfs dood. Hulle moet ook krisisse wat by die huis gebeur aan boord verwerk terwyl hulle nie tuis kan wees nie.

’n Goeie voorbeeld was die storms wat verlede jaar die Filippynse eilande getref het en groot skade veroorsaak het. Talle seemanne se huise is vernietig en familielede beseer. Hulle moes hierdie verlies aan boord verwerk. Ons was die eerste persone met wie hulle daaroor kon praat en vir wie hulle kon vertel wat met hulle gebeur het. Die aanwending van TIR kon die seemanne effektief deur die trauma begelei sodat hulle met hul werk kon voortgaan.

Hoe kan ons help?

Rondom die Hoërskool Driehoek se tragedie word ons opnuut bewus van hoe traumatiese gebeure uitkring en mense emosioneel affekteer. Leerlinge is bang om skool toe te gaan. ’n Skool in Pretoria word deur ouers gesluit omdat hulle vrees dat die ou skoolgeboue ’n risiko inhou vir hul kinders se veiligheid. Beheerliggame en onderwysers vrees dat so iets ook by hul skole kan gebeur.

Die vraag kan gevra word of slegs professioneel opgeleide persone emosionele ondersteuning kan bied aan mense wat traumatiese gebeure beleef of aanskou het. Kan gewone lidmate en ampsdraers van die Kerk ook betrokke wees? Dit is tog dikwels ouers, vriende, ’n ouderling, ’n diaken en ’n dominee wat eerste met mense se trauma en krisisse in aanraking kom. Die koerante het berig dat kinders dadelik hul ouers geskakel het, wat hulle na die toneel gehaas het. Soos die gebeure later uit die publike oog vervaag, is dit hierdie groep mense wat steeds kontak met die getraumatiseerdes het.

Die beginsels van TIR fokus op die hervertel van ’n traumatiese gebeurtenis totdat die emosionele lading verminder of verbreek is. Dit bevestig die ou waarheid dat om te praat oor iets wat moeilik is, kan help om dit beter te maak. Predikante sal getuig hoe mense, nadat hulle die storie van hul krisis vertel het, sê: Dankie, Dominee, nou voel ek sommer ligter. Hierdie verandering in gemoed vind plaas nog voordat enige raad gegee is of ’n oplossing bereik is. Dit is belangrik om raak te sien dat om iemand ruimte te gee om te praat oor wat gebeur het en net te luister sonder oordeel of opinies, dikwels effektiewe ondersteuning is. 

Ook by kinders, familie en vriende beleef ons dat wanneer mense die geleentheid en veilige ruimte gegun word om verskeie kere te vertel wat gebeur het tydens ’n krisis, hulle daarna verlig verklaar: Dankie dat jy geluister het, ek voel nou sommer beter. Elke gelowige kan ander deur moeilike tye bystaan deur hulle geleentheid te gee om te vertel wat gebeur het en net te luister sonder om raad te gee of te oordeel.

Sulke ondersteuning is effektief, maar kan nooit professionele hulp vervang nie – veral wanneer trauma in ’n stresversteuring verander het. Om mense te help vertel wat gebeur het, is ’n bruikbare instrument vir gelowige lidmate wat dikwels eerste met die krisis te doen kry. Dit begin gewoon met ’n veilige, stil plek, dalk ’n koppie warm tee, en die vraag: Vertel my wat het met jou gebeur, ek luister.

Verdere inligting: www.tirasa.co.za en www.cso.co.za

(Ds Danie Taljard is leraar in Gemeente Sionshoogte

en betrokke by die Christelike Seemansorganisasie)