Die Hervormer

Stoepstories

Ons begin ’n nuwe rubriek waarin ons gaan probeer vleis gee aan baie van die gebruike wat eie is aan die Hervormde Kerk. Ons klompie Stoepsitters, ’n ou bynaam vir lidmate van die NHKA, is gewoond aan ’n bepaalde manier van doen in ons kerklike lewe en veral in ons eredienste, maar ons weet nie altyd hoekom ons dinge doen soos ons hulle doen nie.

’n Subopskrif sou ook kon wees: Wat maak van ’n Stoepsitter ’n Stoepsitter? In die eerste aflewering wil ons egter reg aan die begin begin, naamlik: Waar kom die byname Stoepsitters, Gatjieponders en Doppers vir onderskeidelik lidmate van die NHKA, NG Kerk en Gereformeerde Kerke vandaan?

Dié drie byname vir die lidmate van die drie susterskerke word deesdae nie meer so algemeen gebruik nie, maar jare terug was dit algemene gebruikstaal. Meeste van die tyd is die byname met deernis – amper soos troetelname – gebruik, maar daar was helaas ook gevalle waar die byname as skeldwoorde gebruik is.

Daar is ook baie teorieë oor die oorsprong van die benamings Gatjieponders, Doppers en Stoepsitters, party minder vleiend as ander en party meer verbeeldingryk as ander.

Die mees gesaghebbende bron wat opgespoor kon word, is ’n artikel wat Neels Jackson in 1992 geskryf het toe hy nog kerklike verslaggewer van Beeld was. Neels het met verskeie hoogleraars in Kerkgeskiedenis gaan praat en tot die volgende slotsom gekom:

Die oudste van die kerklike byname is die naam Doppers, wat gebruik word om lidmate van die Gereformeerde Kerke van Suidelike Afrika (GKSA) te beskryf. Die waarskynlikste teorie is dat Doppers kom van die Nederlandse dorpers, wat gedui het op mense wat van die platteland af kom en nie stedelinge is nie. Dit kon gebruik word om meer eenvoudige mense aan te dui, maar nie in ’n negatiewe sin nie. Een van die verbeeldingryker teorieë wat die rondte doen, is dat manlike lidmate van die GKSA in die vroeë jare na hul ontstaan in 1859 almal dieselfde haarstyl gehad het – dit het gelyk of hul hare gesny is deur ’n dop op hul koppe te sit en alles wat onder die dop uitsteek, af te sny! Oupa Stoep vermoed dié storie is ’n bietjie vergesog!

Die naam Gatjieponders vir lidmate van die NG Kerk kom na die beste van ons wete van die tipe baadjies of manelle wat NG predikante gedra het. Dié manelle was langer as die baadjies wat mans vandag dra. Party het ’n manel gedra wat ’n kaggelpyp genoem is en voor en agter ewe lank is, soos die manel wat gesien kan word op die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria. Ander predikante het egter begin om ’n Engelse manel te dra wat net agter oor die boude lank was. Daar is spottenderwys daarna verwys as ’n gatjapon – en dis hoe die bynaam Gatjaponners of Gatjieponders toe ontstaan het. Prof Flip van der Watt, voormalige hoogleraar in Kerkgeskiedenis van die NG Kerk, het nooit die term Gatjieponders as negatief beleef nie en het ook nie omgegee om ’n Gatjieponder genoem te word nie.

Die gebruik om na lidmate van die NHKA as Stoepsitters te verwys, is blykbaar ’n Wes-Transvaalse ding. Dit spruit uit die jare na die mislukte kerkvereniging aan die einde van die 19de eeu, toe daar nie genoeg predikante was om in al die gemeentes in veral die Wes-Transvaal erediens te hou nie. Die stoere Hervormers wou nie saam met die Gatjieponders of Doppers eredienste bywoon nie en het dus Sondaeoggende op hul stoepe gesit en kyk hoe lidmate van die ander kerke verbystap na hul eredienste toe – en so het ons die Stoepsitters geword!

Oupa Stoep onderneem om ’n antwoord te probeer waag op enige van ons Stoepsitter-eienaardighede waaroor jy mag wonder. Stuur jou navraag na produksie@nhk.co.za en hulle sal ’n posduif inspan om dit by Oupa Stoep te kry.