Die Hervormer

’n Groen(te) droom

My hartsvriend Etienne Fourie sit my nou die dag aan die droom oor kos. Nie luukse eksotiese kos soos dié waarvan hy ’n meesterkok is nie, maar basiese kos. Kos soos groente wat oral en maklik groei, selfs in die winter, groente soos spinasie, kool, tamaties, beet, wortels en so.

Terwyl ek so dagdroom, sien ek beddings en beddings groente oral waar gelowiges bly. Party van die beddings is op sypaadjies, ander op ongebruikte stukke grond, ander in blombakke by woonstelblokke – maar oral sien ek groentebeddings, nie groot nie, so groot soos Oupa sy beddings gemaak het. Maar oral, in elke dorp, voor gelowiges se huise, en selfs hier en daar waar dit moontlik is, by kerkgeboue.

Soos dit nou maar in ’n droom gaan, sien ek die groente geil staan, en daar is ’n bordjie by die beddings, nogal in die taal wat die meeste in die bepaalde streek gepraat word: Vat vir jouself, los ook vir dié wat na jou kom.

 En dan droom ek verder hoe mense daar verby kom: ’n enkelma, of ’n pa, moeg na die dag se werk iewers, op pad huis toe, en hulle buk dan af en pluk ’n paar spinasieblare, ’n wortel of twee, drie, ’n paar tamaties en beet. Dankbaar dat daar vanaand iets is om ’n ete van te maak vir ... ag hoe sal ek tog weet? Dalk ’n klompie honger kinders, dalk ’n oumens, of terminaalsieke, vir wie hulle moet sorg, maak eintlik ook nie regtig saak  nie.

Soos dit maar is, is dagdrome presies net dit, drome. Ek wonder toe: Wat van die werklikheid? Is so iets hoegenaamd moontlik, om nie eens te praat van realisties nie? Ons bly immers in Suid-Afrika!

Blykbaar is so iets wel goed moontlik! Iewers, so lees ek onlangs in ’n koerantberig, het iemand regtig so groente op ’n ongebruikte stuk grond naby sy huis geplant. Nog iemand het toe regtig ook die moontlikheid gesien om die sypaadjie voor sy huis so te benut. Aan die straat se kant so teen die heining af, groei daar spinasie en beet en tamaties vir wie ook al die behoefte het. En wonder bo wonder gedra die ontvangers daarvan hulle heel ordentlik, pluk net wat nodig is, los vir dié wat na hulle kom, en is dankbaar. Soos ons weet, is daar ten spyte van alles steeds baie welwillendheid tussen die mense van ons mooi en vrugbare land.

En vra iemand: Sal alles oral so ordelik en mooi verloop sonder enige probleme? Heel waarskynlik nie. Vandale en kansvatters is daar ongelukkig oral en altyd, water is skaars ek weet, en so kan ’n mens seker nog honderde probleme opnoem waarom so iets hier by ons nooit sal werk nie.

Of so ’n groen(te) droom ooit sal realiseer? Ek weet nie. Dan aan die ander kant dink ek – dalk tog wel, hier en daar. Ek glo vas, dis die klein dingetjies wat die grootste verskil maak. Vyf broodjies en twee vissies in die hande van ons Here het ’n menigte gevoed, dan nie? ’n Mosterdsaadjie wat iemand geplant het... ’n Pakkie saad wat iemand iewers plant.

Natuurlik, dit weet ons tog goed, een pakkie saad sal nie al die honger verlig nie, maar dan weer, hoe meer pakkies saad geplant word, hoe meer mense word gevoed... en bo alles, uit eie krag is ons nie tot veel in staat nie, maar onder die seënende hand van ons Here kan menigtes gevoed word. Ons glo tog God werk, dan nie? Laat ons onthou Hy werk deur sy kinders.

Groentes wat feitlik dwarsdeur die jaar gesaai kan word: beet, geelwortels, kool, spinasie, uie. Vir saad wat seisoengebonde is, kan ’n mens die inligting op die pakkie kry.

(Dr Christo van der Merwe is ’n emerituspredikant van die NHKA)