Die Hervormer

Nooit te oud om te leer nie

Ek het met my rugfusie nie noodwendig altyd nuwe dinge geleer nie, maar baie ou waarhede weer ontdek en waardeer.

Ek het op ’n harde manier geleer dat ek beter na my liggaam moes geluister het. Ek moes die simptome gouer ernstiger opgeneem het en professionele hulp gesoek het. Maar daar is darem versagtende omstandighede. Ek het gedink ek is redelik fiks. Ek het lank aan langafstand-padwedlope deelgeneem, drie keer ’n week in die gimnasium gaan oefen, en minstens een keer ’n week gholf gespeel. En buitendien, wie sal die uitnodiging kan laat verbygaan om saam met jou twee seuns en jou kleinseun aan ’n gholftoernooi op Pietersburg deel te neem – al strek die toernooi ook oor drie dae. Na die drie dae het ek laerugpyn ervaar en baie broos gevoel. En instinktief geweet dat ek dit vorentoe rustiger sal moet vat.

Verder het ek geleer ’n mens mag en moet op my ouderdom nee kan sê as jy twyfel oor die wenslikheid om iets te doen. Ons het by goeie vriende op Leeupoort gekuier, en ons gasheer wou ons vir ’n wildrit deur die reservaat neem. Die twee vroue het dadelik beswaar gehad oor die swak toestand van die grondpad na die onlangse reën. Met my seer rug en al, is ek en my vriend toe alleen in sy bakkie daar weg. Tydens ons wildrit het ons ’n diep slaggat getref, en ek het ’n skerp pyn in my lae rug gevoel en onmiddellik geweet hier is groot probleme! Hoe groot, sou ek eers later uitvind. Die res van die naweek het ek oorleef deur pynpille te sluk.

En toe tree ek weer irrasioneel op. Ten spyte van akute rugpyn wat my letterlik krom trek as ek regop is, ry ons saam met goeie vriende vir tien dae Sanlameer toe en gaan speel weer gholf. Hierna was die pyn egter so erg dat ons vroeër teruggekeer het huis toe.

My huisdokter het voorgestel dat ek ’n ortopediese chirurg gaan spreek. Intussen is my broer en swaer onverwags oorlede, en my gemoed was redelik donker en swaar. Uiteindelik kry ek ’n afspraak by ’n spinale chirurg. Na ’n reeks toetse moes ek hoor ’n operasie was al oplossing. Die derde, vierde en vyfde werwels sou met ‘n rugfusie herstel moes word. Van die vierde werwel se kussinkie was daar volgens die chirurg niks oor nie, wat die oorsaak was dat die senuwee daar vasgeknyp het en die akute pyn veroorsaak het. Dit was die direkte gevolg van daardie slaggat waarin ons op Leeupoort gery het.

Ek sou na die operasie vir minstens drie maande met ’n harde rugstut moes lewe. Dit sluit in slaap, stort, eet en loop. Die rugstut sou vir 24/7 my getroue metgesel wees. Ek kon net lê en staan en loop, maar sit was hoegenaamd nie toelaatbaar nie. Wat sake nog verder gekompliseer het, was dat ek geen anti-inflammatoriese middels vir tot 18 maande na die operasie kon gebruik nie, want dit sou die beengroei belemmer. Ek het al vir meer as 20 jaar anti-inflammatoriese middels vir my rumatoïede artritis gebruik. Glo my, om daagliks met die gewrigspyne van rumatoïede artritis saam te leef en meestal op jou rug te lê, te staan as jy eet en met ’n rugstut te slaap en te stort, is nie maklik en lekker nie!

Maar ek het geleer met ’n bietjie humor en om vir jouself te kan lag, kan jy dit regkry om die uitdagings van persoonlike higiëne, stort, skeer, tande borsel, lees en TV kyk die hoof te bied. Ek het ook geleer hoe belangrik en onmisbaar ’n goeie ondersteuningstelsel is. My vrou, kinders en kleinkinders het my absoluut gedra deur die tye toe ek moedeloos was en gewonder het of dit alles die moeite werd is!

Ek het ook die antwoord geleer op die vraag wie die herder van die herders is. My kollegas was my herder wat my voor en na die operasie onderskraag het met hul besoeke, inspirerende Skriflesings, gebede, telefoonoproepe en SMS’e! Watter voorreg om predikant van die Hervormde Kerk en deel van so ’n groep predikante te kan wees!

Ek het veral ook weer geleer niks is vanselfsprekend nie, allermins jou gesondheid. Ek het weer my skoonpa se woorde onthou toe ek nog by my vrou gekuier het en meermale met sportbeserings daar aangekom het: ’n gebreekte sleutelbeen, geskeurde ligamente en blou toonnaels. Ou seun, het hy vir my gesê, jy moet na jou liggaam kyk as jy jonk is!

En veral het ek die waarde van ons Christelike geloof as ons anker deur die teëspoed en storms van die lewe ervaar. Om te mag weet al gaan ek ook deur watter donker dieptes, ek is nooit alleen nie, want die Here is my Herder!

(Ds Wimpie Steyn is ’n emerituspredikant van die NHKA)