Die Hervormer

’n Reisperspektief – Reformasie 500 jaar

Ons het in 2017 ’n jaar lank “fees gevier” om Reformasie 500 jaar te herdenk. Daar was opnuut verskille in mening van wat gepas sou wees en wat nie – wie welkom sou wees en wie nie…

Ek bly egter daaroor nadink: die besondere ervaring tydens ons onlangse reis in Europa en ons besoeke aan plekke van die Reformasie.

Natuurlik is dit ons gewoonte om gemeentes en kerke tydens so ’n reis te besoek – plekke waar die kerkruimtes verkondig, waar geloof visueel uitgebeeld word en waar ons kerkmusiek ervaar wat geloof klinkend uitdra. Ons doen dit vanuit spirituele oorweging, sintuiglik en as “eerste natuur”.

Een Sondagoggend vroeg en in die reën stap ons na ’n kerk. Ons het helaas ook daaraan gewoond geword om by van die mees aanskoulike kerkgeboue verby te stap – wat in restaurante of allerlei sentrums omskep is.

Dié oggend tref dit my egter sterker as gedurende die week: Ons is op pad na ’n erediens en stap by twee “Protestantse” kerkgeboue verby, om uiteindelik by ’n pre-Reformatoriese kerk tuis te kom. Onmiddellik word ons omring met die egtheid van die verwelkoming deur mense by die deure. Ons word ingesluit en omvou met die warmte van die erediensruimte, die “heiligheid” van die musiek, en die gewyde atmosfeer. Ons kry die gevoel van “behoort” in die manier waarop ons in die erediens opgeneem word en God se teenwoordigheid kan ervaar. ’n Besonder sterk stuk Woordverkondiging deur die preek, wat omring word deur ’n besonder goed gestruktureerde liturgie. Die fokus val op die insluiting van kinders in die erediens – ingesluit in dieselfde warmte wat ons as vreemdelinge kon ervaar.

My gedagtes loop terug na die twee ander kerke van die Reformasie wat leeg staan of as iets anders benut word…

Wat het verkeerd geloop en wat doen die “pre-Reformatoriese” kerk dan steeds reg?

Ek vind die antwoord daardie oggend in die oeroue “ritueel” wat steeds met volle oorgawe en respek in stand gehou word. Die kinders neem steeds daaraan deel, ook aan die Nagmaal, waarvan ons eie kinders as volgende generasie weerhou word. Wat het ons om aan die volgende generasie aan te gee? Wisselende giere en “aanpassings” by die nuutste tendense, ten einde die kerk “aktueel” te probeer hou? Ons kinders word dikwels in allerlei “kindergroepe” besig gehou terwyl die erediens aan die gang is. So sluit ons hulle uit! En die “grootmense” staan alleen asof hulle geen “geloofsnageslag” het nie.

Wat het ons om aan te gee?

Ek buig op die knielbankie om die wyn en brood te ontvang, en langs my kniel ’n kind van ongeveer 11 jaar oud – met dieselfde oorgawe en respek as ek – en ek dink aan die armoede in ons eie Kerk. Ons is so “inklusief” met alles – veral om ook die “buitewêreld”, die “alledaagse” in te bring en om dinge “eietyds” te maak. Faal ons dalk in die belangrikste: om die geloof aan volgende geslagte aan te gee?

(Dr Wian Kloppers is redakteur van Konteks)