Die Hervormer

Zambië hou basaar

Ina Finberg skryf:

Die dag toe prof Bieks Beukes sê dat ons basaar gaan hou, was almal geskok: ’n boerebasaar in Kitwe, met boeresport en pannekoek en alles wat met ’n basaar saamgaan? Min het ons geweet hoe ’n groot sukses dit sou wees! Na die basaar het almal wat daar was – Italianer, Brit, Griek en Zambiër – gevra wanneer ons weer kom. Die atmosfeer was gelaai met opwinding, en boeregasvryheid in sy volle glorie.

Ons gemeentelede is nie baie nie, en elkeen het ingespring. Weke voor die tyd het almal gewerskaf, vleis bewerk, gebak, en soos daar gebak is, is lysies gemaak van wie wat sal gee en sal bak en hoeveel pakkies daar sal wees om te verkoop. Besighede is besoek en donasies gevra. Dit was wonderlik om te ervaar hoe bereid die besighede was om te help. Ons moes aan hulle verduidelik wie die Netherdutch Reformed Church is en wat ’n basaar is.

Die basaar is geopen met gebed deur prof Bieks, en Willie agter die mikrofoon. So nou en dan raak hy self so opgewonde en vergeet hy om Engels te praat! Maar niemand het regtig omgegee nie en die Afrikaans was vir die klomp Zambiërs lekker om na te luister. Almal het met oorgawe deelgeneem aan die pretloop, Fancy dress competition for kids en die boeresport. Die toutrek was opwindend en die manne en dames het mekaar goed opgedreun. Die ouers wat net gou kom inloer het, moes maar langer bly, want die kinders is goed besig gehou deur Rachelle en Lise met vindingryke aktiwiteite. Die geur van boerewors was in die lug en daar was vragte en vragte pannekoeke. Dit was wonderlik om regte boerewors en vleis en vars groente vars van die plaas te kon koop. Die eg Suid-Afrikaanse geregte het die Zambiërs verstom en hulle kon nie genoeg kry van melktert, beskuit en koeksisters nie. Laaste op die program was die veiling van sekere items, en met Willie se oorredingsvermoë het ons goeie pryse behaal.

Ons sien kans vir volgende jaar se basaar! Met die seën van die Here en almal se samewerking, in Zambië en uit Suid-Afrika, staan ons wins reeds by oor die K220 000 (R308 000). Kinders se ouers en ouers se kinders het selfs uit Suid-Afrika gekom om te kom help. Ons is diep dankbaar. Hierdie geld gaan beslis help dat die evangeliebediening in Afrikaans in Zambië kan voortgaan. (Skrywe verkort)