Die Hervormer

My ervaring van die NHSV Kongres

Giesela Schwarzer, Kleinbrakrivier, skryf:

Ek het die voorreg gehad om die NHSV Kongres gedurende Julie in Pretoria by te woon as voorsitter van NHSV Mosselbaai. Soos gebruiklik, was die samesang tydens die openingsgeleentheid Sondagaand hemels, met orrel-en-trompet-begeleiding. Yolande Korkie se aanbieding was hoendervleis-aangrypend, en sy het drie uitdagings aan kongresgangers en elke Christengelowige gerig.

  • Leer jou Bybel uit jou kop uit, want hoe gaan jy die vertroosting uit God se Woord ervaar as jy nie ’n Bybel het nie en ook nie een mag kry nie? Sy en haar man het eerstehands beleef dat Moslems die Koran woord vir woord uit die kop uit ken.
  • Bid vir jou vyand, of enigeen wat jou te na gekom het, al verander hy/sy of jou omstandighede nie. Die laaste gebed wat Jesus aan die kruis gemaak het, was vir sy vyande, en Hy het gevra dat God hulle sal vergewe.
  • Dra vrugte, al het jou moeilike omstandighede nie verander nie.

Maandag het ons geluister na ’n dramatiese hoorbeeld van Elsabet Louw, wat verkrag is in ’n openbare toilet. Na aanleiding van die vertroosting wat haar bediende haar gegee het, het sy die Melita-verkragtingsondersteuningsnetwerk regoor die land begin. Sy het aan ons die skrikwekkende statistiek voorgehou dat elke 17 sekondes iemand in ons land verkrag word. Sy het die Panty-projek begin, waar daar in elke polisiestasie in ons land ’n pakkie aan ’n slagoffer gegee word met ’n broekie daarin, omdat dié kledingstuk as bewysstuk gehou word. Die dag is afgesluit met ’n kreatiewe en terapeutiese inkleuraktiwiteit en komiese vertellings deur Elsabe Aldrich wat die lagspiere behoorlik laat werk het.

Die laaste dag is ons weer geïnspireer deur Hans J van Rensburg en sy span vrywilligers van Doulos wat daagliks vir ongeveer 2 000 behoeftige mense in en om Pretoria sorg en die moeilike lewe te midde van armoede ’n bietjie draagliker maak. Ds Ferdie Nortje van George het met ’n skyfievertoning die absolute verwoesting van die brande in die Knysna- omgewing gewys en vertel van die totale verliese wat lidmate van ons Kerk gely het. Die vuur was so intens dat die pistool in ’n brandkluis wat uitgegrawe is, vasgesmelt het aan die metaal. Ds Hannes van der Merwe het ons weggestuur met ’n boodskap uit Galasiërs, dat ons God se liefde moet gaan uitleef deur die vrugte van die Gees.