Die Hervormer

As dit brand om jou en binne jou...

Die lewe is nie maklik nie. Die wêreld waarbinne ons leef ook nie. Elkeen kan getuig hoe die wêreld en sy mense jou partykeer kan verniel. Ons hoef maar net rondom ons te kyk om die verminktes te sien... veral geestelik en emosioneel gewond, geteister, uitgedaag!

In hierdie deurmekaar en stukkende, soms anargistiese wêreld, is jou onmiddellike omgewing – jou dorp, jou huis, jou gesin – die plek waar jy laer trek as die wêreld onderstebo raak. Dis hiér waar jy jou wonde lek as die lewe nóg ’n draaibal na jou geslinger het... as dit rondom jou brand.

Maar wat gemaak as die plek waar jy skuil en laer trek sélf die plek is wat brand? Hoe gemaak as die sluimerende politieke onstabiliteit só onstabiel raak dat dit nie meer sluimer nie, maar letterlik jou veilige hawe se deur afbreek... as vernielende politieke besluite en ekonomiese chaos nie meer net op die televisie en in koerante na jou geslinger word nie, maar deur klip en yster jou vensters breek? Wat doen jy as jou eiendom en jou huisgesin se veiligheid bedreig word... as dít waaraan jy jou lewe lank gebou het en dit wat jy versamel en geërf het, dít wat sentimentele waarde het, dít wat nooit weer vervang kan word nie, die gevaar loop om permanent verlore te raak? Wat maak jy as so ’n situasie inderdaad ’n werklikheid word?

Lichtenburg en Coligny is twee plattelandse dorpe in Noordwes, 25 kilometer uitmekaar. ’n Mens vind hier twee gemeenskappe wat al vir baie jare nou met mekaar saamwerk. Hulle deel een munisipaliteit, naamlik Ditsobotla. Baie van die mense wat in Coligny woon, werk in Lichtenburg, én andersom. Heelwat kinders van Coligny en omgewing gaan in Lichtenburg skool, en andersom. Die mense leef vreedsaam onder mekaar en is oor die algemeen goed vir mekaar.

En toe begin dit brand! Die pot wat lankal prut, ontplof! Populistiese uitsprake, politieke onbekwaamheid en onvervulde beloftes die vuurhoutjie. Gewone basiese dienste word nie gelewer nie. Ditsobotla-munisipaliteit is bankrot… en dis nie omdat daar nie geld is nie! Dit is noodwendig dat die pruttende pot sy ontploffende punt sou bereik.

Maar die ding het ’n leliker draai begin maak. Veral Coligny het erg deurgeloop. Die opstande oor gebrekkige dienslewering het aanvanklik in Lichtenburg begin, maar uiteindelik na Coligny oorgeloop, aangevuur deur die dood van ’n kind wat van ’n bewegende bakkie afgeval het.

Skielik raak die gemeenskaplike gevoel oor die gebrek aan dienslewering (onder wit, bruin én swart) ’n rassekwessie. Skielik gaan dit nie meer oor dienslewering nie. In ’n oogwink kry alles ’n raskleur. En die politici spring in en wurg politieke munt uit die ongelukkige situasie. Skielik is die vreedsaamheid daarmee heen. Skielik is jou veilige hawe nie meer veilig nie. Skielik is alles geweldig onseker!

Vreedsaamheid maak plek vir vrees, onsekerheid, bitterheid, ongelukkigheid. Wetsgehoorsame burgers weet nie wat om te doen nie. Wat is jou regte? Skielik het die kriminele element alle regte… en jy kan maar net staan en toekyk. Jou veilige hawe, jou tuiste, jou sekuriteit brand, word geplunder, beroof, besteel, gebreek… en jy mag net kyk - die polisie het skynbaar nie die vermoë om jou te beskerm nie. Hulle is nie opgelei (of goed genoeg opgelei) vir die situasie nie, ook nie na behore toegerus nie. Coligny brand!

Met dit alles kom Coligny tot verhaal. ’n Reaksiegroep word op die been gebring om ekstra oë en ore vir die polisie te wees. Coligny slaap nie meer nie. Voertuie ry in die aande om die beurt op en af in elke straat om moontlike nuwe gebeure te monitor. Gebedsgroepe word gestig in Lichtenburg, Coligny en regoor die land. ’n Ander vuur begin brand – nie rondom jou nie, maar binne jou. Toe die nood op sy ergste was, is dit dalk nie so ervaar nie, maar as jy nou terugkyk, is ’n mens verslae dat die uitloop van die geweld in Coligny en Lichtenburg nie veel erger was nie. Die hele situasie was op ’n naaldpunt en kon so maklik in ’n bloedbad ontaard. Ja, daar was enkelinge wat die saak tot by daardie punt wou dryf, maar die oorgrote meerderheid van die twee gemeenskappe wou die pad van vrede loop. In my oë is dit nie die werk van mense nie. ’n Ander vuur het begin brand!

Terwyl hul besighede en huise geplunder en gebrand word, was die inwoners se hoofgedagte dié van vrede. Hoe kan ons met mekaar gesels? Hoe kan ons die vreedsaamheid terugkry? Uiteindelik het die vuur van die Heilige Gees vinniger versprei as dié wat huise en besighede brand, en het daar, ten spyte van die absolute chaos en anargie, meer stabiliteit gekom.

Soos nou weer met die brande in Knysna, is ook tydens die opstande in Coligny besef hoe groot en oop mense se harte kan wees. Nie net is vir mekaar gebid nie (van regoor die land), maar fisiese ondersteuning is ook by wyse van klere, komberse, groente, meubels en finansiële hulp van oral gebring en aangewend. Tussen die rook en gebreek deur, kom ’n gevoel van hoop… Tussen die trane en onsekerheid, verrys ’n dankbaarheid – oor die mens se gees nog nie geblus is nie. Opgewondenheid ten spyte van die chaos. Coligny het weer opgestaan. Die rommel en klippe is opgeruim. Die vensters is vervang. Die wonde is verbind. Alles terug na normaal!

Daardie eerste Sondag na die onsmaaklike gebeure preek ek in my Coligny-gemeente. Ons is maar min in die kerk… so tussen 35 en 40 (Coligny is ’n baie klein gemeente). Ons sing, en dit klink asof honderde gelowiges saam sing! Dit laat jou klein voel… oor dié grootsheid! Ons volkie kan baie houe vat, én dan steeds die Here loof vir sy goedheid en genade! Ek besef: Die vlees is dalk broos en seer, maar die geloof is nie gekneus nie. Inteendeel! Ons weet nog beter waar ons krag vandaan kom.

(Ds Jacobs is leraar

in Lichtenburg-Oos en Coligny)