Die Hervormer

God se genade volg ons oral

Ds Suzelle van der Merwe, Suid-Korea, skryf:

Na aanleiding van die voorbladartikel in die Junie 2017-uitgawe: My man het ’n goeie pos beklee, maar is as gevolg van swart ekonomiese bemagtiging afgelê. Geen Afrikaanse woord vertaal eintlik vir my die emosionele trefslag van hierdie retrenchment nie. Die finansiële impak was ingrypend in ons lewens, om nie van die emosionele impak te praat nie.

Ons het ons huis en voertuie verkoop, maar moes begin skuld maak om kop bo water te hou. Die gemeente was ondersteunend, maar is self in ’n oorlewingstryd gewikkel. Toe ons die geleentheid kry om Suid-Korea toe te kom, het ons dit gesien as antwoord op ons smeekgebede. Ons plan is om hier te werk vir twee jaar en ons finansies te probeer herstel.

Ons ervaar egter ook ’n roeping in hierdie land. Die grootste oorsaak van sterftes onder Koreaanse jongmense is selfdood. Die jongmense hier gaan gebuk onder onbeskryflike druk om akademies te presteer. Hul familie, maar ook die samelewing in die geheel, is nie werklik simpatiek nie. Hulle sien dat dit tot universele hoë standaarde in hul prestasies lei, en daarop is hulle trots.

Ons werk meestal met jong tieners en glo dat ons ’n positiewe invloed op hul ontwikkeling kan hê. Die gemeente waar ons betrokke is, het ook ’n sterk jeugaksie. In die afgelope maand het ek twee sake van depressiewe tieners teëgekom. (Al my klasse saam bevat slegs 32 leerlinge.) Ek kon met hulle ’n vertrouensverhouding begin bou.

God se genade volg ons waar ons ook al gaan. Ons toekoms is in sy hand en ons vertrou op sy leiding. Ek het altyd vir tieners in Suid-Afrika gesê: Bid asof jy nie geleer het nie, maar leer asof jy nie gebid het nie. God se genade is vir ons ’n voorreg, maar ons het ook die verantwoordelikheid om getrou te wees in ons daaglikse lewe en nie terug te sit en te verwag dat goeie dinge in ons skote sal val nie.

Ek het aansoek gedoen vir behoud van ampsvoorreg, omdat ek myself steeds as predikant sien en nie losgemaak wil word van my beroep (en roeping) as predikant nie. As onderwyseres in ’n vreemde land voel ek egter dat ek steeds ’n getuie van die genadige en almagtige God se liefde is. Ek beleef iets van die “amp van die gelowige”. Om my roeping in die beroep wat ek tans beoefen te kan uitleef, is ’n voorreg.