Die Hervormer

Hersiening van die Kerkorde

Kerkordelike maatreëls is nooit in sement gegiet nie. Soms is dit nodig om die huidige kerkordelike maatreëls te wysig. So word die veranderende omstandighede verreken waarin die kerk haar dienswerk moet verrig. Kerkordelike wysigings verhoed dat die kerk vasval in geykte strukture en dit verseker ook dat die kerk steeds dien in veranderende omstandighede soos dié waarin die Hervormde Kerk haar tans bevind.

Die 70ste Algemene Kerkvergadering het verskeie wysigings aan ordinansies in die Kerkorde goedgekeur. Afgesien daarvan is ook besluit om voort te gaan met die herskryf van die Kerkorde. Die vergadering het verder besluit dat die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip behou word as uitgangspunt van die Kerkorde en manier waarop die Kerk haarself verstaan. ’n Presbiteriaal-sinodale kerkbegrip beteken dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is. Hy regeer sy kerk eerstens deur sy Woord en Gees en tweedens deur die ampte wat in vergaderings byeenkom.

Nog ’n saak wat in gedagte gehou word met die hersiening van die Kerkorde, is dat dit ’n missionale gerigtheid sal hê. ’n Kerk kan nie net op sigself gerig wees nie, maar moet ook na buite gerig wees om te dien in die wêreld.

Dit is egter belangrik om die Kerkorde te sien as afgelei uit die Skrif en belydenis, sonder dat dit daaraan gelykgestel mag word. Ons verstaan van kerkwees soos ons dit aflei uit Skrif en belydenisskrifte, vind neerslag in ons Kerkorde. Die verband Skrif-belydenis-kerklike orde moet deurgaans aan die orde wees.

Wanneer gepraat word oor ’n kerkorde, is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit ’n teologiese gesprek is. Alhoewel daar tog raakpunte is met die wêreldse reg (ius circa sacra), bly die gesprek oor die kerkorde iets wat tuishoort in die kerklike reg (ius in sacra).

Dit is ook belangrik dat die maksimum-minimum-beginsel geld. Dit beteken dat dit nie nodig is om by die formulering van ordereëls en ordinansies oorbodige inhoud daaraan te gee nie, maar net genoeg sodat die kerkorde nie verwarring veroorsaak nie. Tog moet die kerkorde so geformuleer word dat dit duidelik is en die kerk se verstaan van haarself, soos wat sy dit uit die Woord kry, neerslag vind in die kerkorde.

Die volgorde van hoofstukke soos dit voorkom in die huidige Kerkorde word gewysig ten einde ’n logieser verloop te hê. Sommige van die ordereëls en ordinansies se opskrifte word ook gewysig. Ordereël 1 en Ordinansie 1 is afgehandel en die kommentaar van die toetskomitee is bespreek. Ordereël 2 en Ordinansie 2 (Ordereël  4 en Ordinansie 4 in die huidige Kerkorde) asook Ordereël 3 (Ordereël 5 in die huidige Kerkorde) is bespreek en aan die toetskomitee gestuur vir kommentaar. Ordereël 4 en Ordinansie 4 (Ordereël 2 en Ordinansie 2 in die huidige Kerkorde) is in medewerking met die Proponentseksamenkommissie volledig hersien met voorstelle om die proses van aansoek en toelating tot die evangeliebediening te reël. Om die ordinansies rakende hierdie saak bondiger te formuleer, is ’n reglement saamgestel wat die proses van toelating volledig beskryf.

Die Komitee beoog om die hersiene Kerkorde teen Junie 2015 voor te lê vir bespreking. Die kommentaar wat dan ingewin word, sal verwerk word en aan die ringsvergaderings van 2016 voorgelê word. Daarna sal ’n dokument voorberei word vir bespreking en besluitneming tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering. Daar word gereeld aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering terugvoer gegee oor die vordering.

Die Komitee vir die Hersiening van die Kerkorde bestaan uit ds Leon Geel, adv Joël Fourie, prof Natie van Wyk, drr Barry van Wyk, Robert Jones en Frikkie Labuschagne. Die Komitee vergader maandeliks.