Die Hervormer

Die Christen en die gebruik van dagga

Dagga is gewettig. Hoe raak dit die lewe van ’n gelowige voor die aangesig van God? Teologiestudent Thomas Dreyer lewer kommentaar.

As student op universiteit het ek reeds binne die eerste week met dagga te doen gekry. Daar is waarskynlik nie ’n student in Suid-Afrika wat nie dieselfde kan sê nie. Sommige jongmense meen dat dit hulle help om te fokus, soos die medikasie Ritalin byvoorbeeld sou doen, maar sonder dat hulle ’n voorskrif nodig het. Of dit nou vir “akademiese”, “mediese” of sosiale gebruik is, redes word gevind vir die gebruik van dagga.

Op 31 Maart 2017 beslis die Wes-Kaapse Hooggeregshof dat die besit, verbouing en gebruik van dagga deur volwassenes in private wonings nie onwettig is nie. Die Hof versoek vervolgens die Parlement om alle tersaaklike wetgewing in dié verband binne die volgende 24 maande te wysig ooreenkomstig hierdie uitspraak.

Watter effek sal hierdie wetgewing hê op individue, gesinne en geloofsgemeenskappe?

Dagga is as ’n skedule 7-middel geklassifiseer, wat beteken het dat dit onwettig is. Die proses om dit na ’n skedule 6-middel afgegradeer te kry sodat dit op voorskrif beskikbaar kon wees, was nog aan die gang ten tyde van die uitspraak. Volgens sekere medici het die gebruik van dagga geen wesenlike newe-effekte nie, terwyl ander meen dat dit selfs in verband gebring kan word met geestesafwykings soos skisofrenie.

Die wetlike uitspraak beteken nie dat dagga nou landwyd vrylik beskikbaar is vir kommersiële gebruik nie. Dit uitspraak berus net op die wet op privaatheid – ’n redelike skraal wetlike grondslag. Die uitgangspunt is dat wat mense in die privaatheid van hul huise doen, niemand anders se saak is nie, solank niemand skade ly nie.

Ek meen nie dat die regsuitspraak in die algemeen veel sal verander aan die praktyk van daggagebruik nie. Mense wat teen die gebruik van dagga was, sal dit steeds nie gebruik nie, terwyl persone wat dit in die geheim gebruik het, daarmee sal voortgaan. Hulle kan dit nou net meer vrylik aanplant, gebruik en openlik daaroor gesels. Wat in die donker was, sal nou net aan die lig kom.

Die geloofsgroep die Rastafariërs, wat sê dat dagga ’n spirituele ervaring tot gevolg kan hê, meen dat die wet teen die gebruik van dagga hulle verhinder het om hul geloof te beoefen. Die nuwe wetgewing maak vir hulle en soortgelyke gelowe ’n groter ruimte oop.

Wat maak ons dus van beskrywingspunt 33 van die 71ste AKV, wat sê dat elke gelowige op grondvlak die verantwoordelikheid het om deel te neem aan die bediening van die evangelie? Vir Christengelowiges strek hul waardes verder as mense se reg op privaatheid. Ons lewe in God se teenwoordigheid – voor God se aangesig. Ons hart en ons saak moet reg wees voor God. Ons is nie in die eerste plek verantwoordelik voor die wêreld of laat ons lei deur uitsprake wat in die wêreld gemaak word nie, maar is verantwoordelik voor God en laat ons lei deur die Gees. Gelowiges se keuses hang nie in die eerste plek daarvan af of iets regtens as wettig of onwettig beskou word nie, maar of dit verantwoordbaar is voor God.

(Mnr Dreyer is ouderlinglid van die Kommissie van die AKV)