Die Hervormer

Die geboorte van Jesus

Johan Dreyer skryf:

Prof Gert Pelser se artikel in die November/Desember 2016-uitgawe verwys.

Prof Pelser sê dat Paulus bloot daarop wys dat God sy Seun gestuur het en dat Hy op ’n bepaalde tyd uit ’n vrou gebore is, en in Filippense 2 haal Paulus ’n Christushimne aan waarvolgens Christus Homself verneder het deur die gestalte van ’n mens aan te neem. Hy het dus as’t ware sy geboorte/menswording self bewerkstellig. Daarna verwys prof Pelser na die mitiese voorstelling by Johannes waarvolgens die Woord mens geword en onder ons kom woon het. Dat ook hierdie Woord se menswording ’n selfhandeling was, is voor die hand liggend. Hy sê ook 1 Timoteus 3: 16 verteenwoordig ’n ander tradisie waarvan sekere dele eksegeties baie moeilik te verklaar is, maar waarin onder andere ook blootgestel word dat Jesus as mens in die wêreld gekom het. Dan kom hy tot die verstommende slotsom: In nie een van hierdie gevalle is daar dus sprake van enige maagdelike “verwekking” van Jesus nie.

Die waarheid is dat die maagdelike geboorte nêrens weerspreek word nie; inteendeel, in die werklikheid wat ons as mense beleef, kan ’n maagdelike geboorte net by wyse van ’n Godsingrype plaasvind.

Wat betref die mitologie wat prof Pelser insinueer en Wilco Beukes in die Januarie/Februarie 2017-uitgawe noem: Teen middernag van 27 Augustus 2016 soos gesien vanaf die aarde, het Jupiter en Venus in lyn gekom, en die gevolg was ’n “besonder helder ster” op die westerkim in die suidelike halfrond. Die samekoms van die sterre was in die konstellasie van die Maagd (soos in die bruid van die Lam). Die samekoms van die sterre gebeur nie eensklaps nie, maar “groei” soos die sterre nader aan mekaar beweeg in die menslike gesigslyn vanaf die aarde. Die vorige keer dat Venus en Jupiter in een gesigslyn gekom het soos gesien vanaf die aarde, om een helder ster te laat opkom, is meer as 2 000 jaar gelede, maar daardie keer was die samekoms in die konstellasie van die Leeu (tekenend van Juda of dan Israel soos hulle in die na-ballingskap genoem is), ten tyde van Jesus Christus se geboorte.

In Fiavius Josephus Eyewitness to Rome’s first-century conquest of Judea (uitgegee deur Macmillan 1993) word verskeie historiese skrywers aangehaal: dat so laat as in die regering van keiser Claudius 41-45 nC wrakstukke van Noag se ark (hout gepreserveer met pik) nog sigbaar was in die Armeense berge. (Twee briewe geïntegreer en verkort)