Die Hervormer

Praat ons teologie of mitologie?

Wilco Beukes skryf:

Die artikels van dr Ungerer en prof Pelser in Die Hervormer van November/Desember 2016 verwys.

Die Hervormde Kerk het bykans ’n dekade gelede besluit om weg te beweeg van die ou herder-kudde-model van bediening na ’n missionale model van kerkwees. As die krimpende lidmaatgetalle bekyk word, lyk dit of daar minder as niks van hierdie poging gekom het. Waar lê die fout?

As ons oor ampsbeskouing dink, lyk ’n prediker met ’n toga aan, op ’n verhewe preekstoel, nie juis na die ideale voorbeeld van iemand wat besig is met dissipellering nie. Jesus se “voetspore” is op die grond tussen mense (alle mense). Kom ons loop ook daar waar sy spore is, daar waar die evangelie liggaam moet kry, hetsy in die kerk, op die straathoek, in die nuwe huisgemeente, by ’n omgeegroep of tydens huisbesoek. Op die ou end word geloof gewek deur die werking van die Heilige Gees, maar dan moet ons verkondiging gegrond wees op die hedendaagse nuwe waarhede en lewenswerklikhede wat denkende mense sal verstaan.

Verkeer die lidmate miskien onder die indruk dat die predikant of die kerk die volle waarheid “verswyg” of dit doelbewus in versagte vorm aanbied? Dink ons dat die gemeentelede nie ontvanklik is vir nuwe teologiese insigte met betrekking tot die Bybelse boodskap, wat gegrond is op nuwe verantwoordelike wetenskaplik-teologiese navorsing nie? Sal dit die gemeente ontstel as die mitiese en metaforiese begrippe/taal van die Bybel geïnterpreteer word teen die agtergrond van die godsdienshistoriese, mitiese, sosiaal-wetenskaplike en kulturele milieu?

Dieselfde predikant wat Sondag vir ons vertel van Jona en die vis, van die ark wat derduisende diere en ’n paar mense behoue laat bly het, en die geboorte van Jesus in Betlehem roerend beskryf met fantastiese beelde en voorstellings, probeer dan met Bybelstudie gedurende die week (waar net ’n paar lidmate opdaag) om die eintlike boodskap oor te dra.

Moet ons nie liewer vertel van die baie geloofsgedrewe goeie werke wat gedoen word  nie? Of van mense wat ons ken, wat glo dat hul geloof hulle gered het van rampspoed of wat deur gebed, gesprek en verkondiging tot geloof in Jesus Christus gekom het? Sal dit nie meer indruk maak as die Kinderbybelstories wat steeds die lig sien nie?

Dan kan miskien gevra word of daar in die opleiding van predikante die noodsaaklike aandag gegee word aan die kritiese omgang met die Bybelboodskap – of vind sodanige opleiding maar net nie neerslag in die praktyk nie? (Brief ietwat verkort)