Die Hervormer

Hoe gemaak met Advent?

Iets wat nie bewysvoering nodig het nie, is dat die woorde en handelinge van Jesus tot gevolg gehad het dat daar betreklik vroeg mense rondom Hom versamel het wat ’n antwoord probeer vind het op die vraag: Wie is hierdie Jesus van Nasaret? Maar nie net dit nie, hierdie vraende groepies het algaande geloofsgemeenskappe geword wat sy woorde en handelinge as van betekenis vir hul lewe en omstandighede verstaan het en dit aan ander begin deurgee het. 

Dat hierdie gemeenskappe se interpretasies nie alleen van mekaar verskil het nie, maar in bepaalde opsigte selfs onversoenbaar met mekaar was, kan duidelik gesien word in die neerslag wat dit gevind het in die verskillende dokumente van die Nuwe Testament, sowel as in verskeie ander geskrifte uit die vroeg-Christelike era. Dit blyk verder dat sekere interpretasies met verloop van tyd uitgebrei is en al verder van die waarskynlike historiese kern af beweeg het. Dit is trouens ’n bekende verskynsel van mondelinge oorlewering dat ’n vertelling oor ’n  gebeurtenis dikwels só uitgebrei of gewysig word dat dit uiters moeilik is om by ’n historiese kern uit te kom.

So het Jesus dit ook nie vrygespring nie dat wat Hy gesê en gedoen en ervaar het, in so ’n mate in legende gehul is dat dit bykans ’n onbegonne taak is om by ’n waarskynlike kern van die Jesusgebeure uit te kom. Hierby moet gemeld word dat dit veral die Paasgebeure was wat ’n sterk impetus verskaf het vir die ontstaan van die verskillende tradisies. Dit is asof die Jesusvolgelinge besef het dat dit dringend tyd geword het om alles deur te gee wat hulle van Hom gehoor, gesien en ervaar het.  

As ’n mens sou vra watter Nuwe-Testamentiese gedeeltes prominent figureer in die kerk se Adventviering, sal sonder twyfel verwys word na Matteus en Lukas se berigte oor Jesus se geboorte. Maar ons weet dat hierdie twee nie die enigste is wat oor Jesus se geboorte berig het nie, al word daar by die ander bloot na sy geboorte as feit verwys. So wys Paulus bloot daarop dat God sy Seun gestuur het (Rom 1: 3-4; vgl ook Heb 1: 1-2) en dat Hy op ’n bepaalde tyd uit ’n vrou gebore is (Gal 4: 4). En in Filippense 2: 6-11 haal hy die bekende Christushimne aan waarvolgens Christus Homself verneder het deur die gestalte van ’n mens aan te neem. Hy het dus as’t ware sy geboorte/menswording self bewerkstellig.

Bekend is ook die mitiese voorstelling by Johannes (1: 1-5; 9-14) waarvolgens die Woord  mens geword en onder ons kom woon het. Dat ook hierdie Woord se menswording ’n selfhandeling was, is voor die hand liggend. 1 Timoteus 3: 16 verteenwoordig ’n ander tradisie waarvan sekere dele eksegeties baie moeilik te verklaar is, maar waarin onder andere ook blootgestel word dat Jesus as mens in die wêreld gekom het. In nie een van hierdie gevalle is daar dus sprake van enige maagdelike “verwekking” van Jesus nie.

Tradisioneel is Matteus en Lukas se berigte onproblematies aanvaar as weergawes van wat werklik gebeur het en het dit die kerk van stof voorsien wat ’n bepaalde romantiek geadem het en op allerlei wyses illustratief voorgestel kon word: ster, skaapwagters, engelekoor, stal, moeder en kind, die kind in ’n krip, omringende diere, ensovoorts. Inderdaad handige materiaal ook vir Kinderbybels! So ’n benadering hou ongelukkig nie daarmee rekening of weet nie daarvan dat deurtastende historiese ondersoeke lank reeds uitgewys het dat hierdie weergawes nie histories haalbaar is nie, maar as legendaries beskou moet word. Ons het hier met vertellings te doen, nie met geskiedenis nie, en daarom is hulle nie histories begrond nie.

Dat Matteus en Lukas onderskeidelik geput het uit nieverwante tradisiemateriaal wat onafhanklik in hul onderskeie geloofsgemeenskappe ontstaan het, word gou duidelik wanneer die twee weergawes met mekaar vergelyk word. Hoewel hulle op ’n paar punte met mekaar ooreenstem, verskil hulle in die meerderheid gevalle aansienlik van mekaar. Albei meld dat Jesus tydens Herodes die Grote se regering gebore is, dat Hy in Betlehem gebore is, dat Nasaret sy tuisdorp was, dat Josef sy “pa” was (vgl Joh 1: 45) en Maria sy ma, dat die twee verloof was maar nie getroud nie, dat Maria nie deur Josef swanger geraak het nie, maar deur die toedoen van die Heilige Gees. En hoewel elke weergawe ’n eie geslagsregister van Jesus bevat, is dit behalwe vir inhoudelike verskille, opvallend dat Matteus sy weergawe met die register begin, terwyl Lukas syne daarmee afsluit, en ook dat Lukas van Jesus af terugbeweeg tot by Adam, terwyl Matteus van Abraham af tot by Jesus beweeg. En volgens Matteus was die naam van Josef se pa Jakob, terwyl dit volgens Lukas Eli was.

Tot sover die ooreenkomste. Die verskille is heelwat meer en nie van geringe aard nie. Lukas weet niks van die sterrekykers uit die ooste, vlug na Egipte, kindermoord of die terugkeer na Nasaret toe nie. Hierteenoor meld Matteus niks van die geboorte van Johannes die Doper, aankondiging aan Maria dat Elisabet swanger is, Elisabet se groet, loflied (Magnificat) van Maria, geboorte en naamgewing van Johannes, loflied van Sagaria, volkstelling, stal, skaapwagters, engelekoor, besnydenis, afsondering en reiniging van Jesus, Simeon en Anna by die tempel, en die kind Jesus tussen geleerdes in die tempel nie. Hieruit blyk duidelik dat ten spyte van die paar genoemde ooreenkomste tussen die twee vertellings, dit eenvoudig nie moontlik is of sin maak om hulle histories te probeer harmonieer nie. Hierdie feit plaas reeds die twee weergawes se historiese betroubaarheid onder verdenking. Maar daar is meer.

Die probleem met betrekking tot hul historiese onbetroubaarheid, berus veral op ’n paar onwaarskynlikhede en onjuisthede. Die eerste is Betlehem as geboorteplek. Daar is min twyfel dat die profeet Miga se uitspraak dat die Messias dáár gebore sou word, die aanleiding en grond vir hierdie aanname was. Dit is veral ten opsigte van Matteus maklik te verklaar, aangesien hy moeite gedoen het om die Jesusgebeure grotendeels as die vervulling van Ou-Testamentiese profesieë te sien. Daar is trouens net te veel wat daarop wys dat die geboorte in Nasaret plaasgevind het en nie in Betlehem nie.

Verder is daar geen bewys dat Augustus ’n sensus oor sy hele ryk laat plaasvind het nie. En hoewel Sirenius ’n volkstelling in sy gebied laat hou het, het dit eers in 6 nC plaasgevind en nie soos hier gestel word gedurende die heerskappy van Augustus wat in 4 vC oorlede is nie. Hierbenewens is daar geen historiese aanduiding dat van onderdane verwag is om vir ’n sensus te beweeg na die dorp of stad waar hul voorgeslagte eens gewoon het nie.

Die gedagte van Goddelike verwekking was in Joodse kringe totaal ondenkbaar, maar wel ’n algemeen aanvaarde beskouing ten opsigte van heersersfigure en uitstaande persone in die Hellenisties-Romeinse wêreld van daardie tyd, soos byvoorbeeld die verwekking van Alexander, Plato, Augustus. Om hierdie opvatting op Jesus van toepassing te maak, was waarskynlik bedoel as teenvoeter teen hierdie heidense opvatting. Dit is opvallend en van besondere betekenis dat Paulus, hoewel hy na Jesus as Seun van God verwys, nie sy verwekking nie maar sy opstanding beskou het as die gebeurtenis op grond waarvan Hy Seun van God geword het (Rom 1: 4; vgl ook Hand 2: 36). Verder was dit wyd in die antieke  bekend dat kinders van hoë afkoms wat as bedreiging vir bestaande maghebbers beskou is, om die lewe gebring is. En les bes, hoe trek ’n mens met ’n swak baba op ’n donkie deur die Sinaiwoestyn?

Ten slotte, waarom het Markus niks van hierdie “geskiedenis” geweet of vermeld terwyl dit besondere gesag aan sy baanbrekerevangelie kon verleen het nie? Dit is eenvoudig ondenkbaar dat hy nie hierdie inligting sou gebruik het nie. Daarom is daar bykans algemene instemming dat tradisies soos hierdie eers teen die einde van die eerste eeu ontstaan het.

Hou dit wat hierbo gesê is nou die einde van ons Adventviering in? Hoegenaamd nie! Dit beteken net dat ons dit moet vier terwyl ons bewus bly van die betrokke historiese vraagstukke wat ons nie durf ignoreer of wegwens nie. Dit beteken verder dat ons Adventviering grondiger en omvangryker gerig moet wees op die totale betekenis van die Jesusgebeure.