Die Hervormer

Ek onthou nog – Nagmaal op die dorp

Oom Danie van Niekerk het op 21 Augustus sy 90ste verjaardag gevier. Hier dink hy terug aan jare gelede, toe Nagmaal nog ’n groot uittog beteken het.

Nagmaal het altyd op die dorp Middelburg (Transvaal – tans Mpumalanga) plaasgevind waar daar drie susterkerke was. So ’n uittog het byna ’n week lank geduur waarvan twee volle dae net op die pad deurgebring is aangesien die spoed waarmee die wa en osse voortbeweeg het, maar ongeveer 5 tot 6 kilometer per uur was. Die afstand wat afgelê moes word, was 40 kilometer.

Reeds so teen Dinsdag word alles in orde gebring; die trekgoed en jukke met kettings word reggesit voor die wa, ingehaak en die hoeveelheid rieme uitgetel en die stroppe aan die skeie gesteek vir ongeveer 10 of 12 osse. Die wa self word wiel vir wiel opgedomkrag, die wiel halfpad uitgeskuif en behoorlik ghries gesmeer, terug gestoot in posisie en laat sak. Die middag voor die vertrek word die nodige dan op die wa gelaai. Dit behels onder andere: eetgerei, potte, panne, wateremmers, vuurmaakhout, ’n tafel of twee, ’n katel, stoele, beddegoed (die kinders het sommer op die grond geslaap of in die watent). Verder miskien nog ’n paar dosyn eiers in mieliepitte in ’n houtkassie gepak om te verhoed dat dit breek as die wa stamp, en ’n paar sakke mielies om by die handelaars te ruil vir kontant.

Intussen het ons kinders se entoesiasme hoog geloop, seker maar net soos kinders vandag wanneer ’n karavaan gepak word vir ’n vakansie. So ’n uittog was ’n fees want die hele gesin was op die wa, Ma en die kleiner kinders agter in die watent. Die watent was regoor die twee agterwiele van die wa vasgebout en groot genoeg dat die mat van ’n dubbelbed daarin pas. So ’n mat met matras is dan daarin geplaas. Die watent was oorgetrek met wit seil wat met kerse bestryk (“gesmeer”) was vir waterdigmaking, aan die voor- en agterkante was oprolstroke wat toegeknip kon word in geval van reën of wind en as snags daarin geslaap word.

Die volgende oggend is baie vroeg geroer en as die son oor die horison kom loer het, was ons klaar ingespan en het die wiele begin rol oor die lang pad na die dorp toe. Twee van die plaaswerkers, ’n man en ’n vrou, het saamgegaan en die ander het op die plaas agtergebly om die vee te versorg en ’n oog oor die plaas te hou. Daar was destyds in daardie omgewing net plaaspaaie behalwe tot so ’n paar kilometer duskant die dorp. Met plaaspaaie word bedoel dat paaie nie deur die staat gebou of onderhou was nie en ook nie brûe gehad het nie. ’n Mens moes deur driwwe gaan, wat beteken het dat almal op die vlakste plek moes deurgaan, water of nie; as die water te diep was, moes jy omdraai.

Teen die middag was omtrent die helfte van die afstand afgelê en moes daar uitgespan word sodat die osse kon water suip en vreet. By sulke geskikte plekke is gewoonlik bordjies op paaltjies deur die staat aangebring met die woord UITSPANNING. Dit het die trekboer wetlik beskerm sodat hy sy vee daar ongehinderd kon laat wei en laat suip – natuurlik binne perke. Hy kon ook daar oornag. Dit kon geskied sonder die toestemming van die plaaseienaar.

Vir die volgende uur, solank die osse wei, is vuur gemaak, koffiewater gekook en koue kos wat spesiaal vir dié doel voorberei is, te voorskyn gebring en genuttig.

Na so ’n uur se verposing is die osse weer ingespan en die laaste helfte van die skof het begin toe die sweep oor die osse geswaai, die wa in beweging gekom en die wiele al kloppende begin rol het in die wapad dorp toe.

Taamlik laat die middag na nog ’n paar uur se ry en met nog ’n entjie son, het ons op die dorp aangekom. Middelburg was toe nog maar ’n klein plattelandse dorpie teenoor wat dit vandag is. Die meeste van die strate was wel al geteer. Wanneer die osse op die teerstrate loop, was die geklap van hul pote nogal opvallend; so ook perdepote se draf as ’n perdekar verbykom.

Op die kerkplein, wat omtrent ’n hele straatblok of meer beslaan het, was toe al heelwat waens ingetrek van mense wat nader aan die dorp gewoon het. By aankoms word die wa dan netjies in ’n ry ingetrek (geparkeer) net soos al die ander. ’n Tent of twee word opgeslaan aan die een kant van die wa en al die “huishoudelike” benodigdhede afgelaai. Gou was alles in plek, is gegroet en koffie gemaak.

Diegene wat Middelburg naastenby ken, sal weet dat die ou deel van die dorp aan die Olifantsrivier lê, ongeveer aan die suidwestelike kant. Aan die oorkant van die rivier is daar ’n groot kop wat bekendstaan as Kanonkop. Vandag is die hele gebied bebou, maar destyds was dit een enorme stuk oop veld teen die kop uit. Teen daardie kop, op die stuk oop veld, het die osse gewei solank die Nagmaal geduur het. Dit het soms gebeur dat aldrie susterkerke gelyktydig Nagmaal vier, en dan was dit werklik ’n aardigheid om te sien hoeveel osse teen daardie kop gewei het! Bediendes was by elke wa en het die osse opgepas.

Terug by die waens op die kerkplein is oor en weer gekuier en allerhande lekkernye genuttig. Van die huis af het soetkoekies en melktert, brood en boerebeskuit saamgekom. Verder was daar ook gemmerbier en lemoenstroop. Laasgenoemde was die produk van ’n ou boerereseppie en is met water geneem (die gebruik daarvan het blykbaar al uitgesterf). ’n Drank wat toe ook al op die mark was, was EXA. Melk is ook van die plaas af saamgebring, veral met die oog op gebruik langs die pad. Voor vertrek is dit eers “gedokter” met “melkdruppels” om bederf teë te werk; dit kon ook nie skoon geneem word nie, net in koffie en tee. So ’n naweek se uitstappie met die wa was vir ons kinders ’n ware piekniek en ’n rariteit!

Dit is met nostalgie dat ’n mens weer terugdink aan daardie dae. Heerlike stil middae, rye en rye waens ordelik ingetrek, rokies wat so oral tussen die waens in die windstilte opstyg, gedempte stemme van Nagmaalgangers oral soos daar gekuier word, die skaterlag van kinders wat die plesier uitjubel; alles daar op die kerkplein om die kerkgebou, die huis van die Here, met sy hoë toring en die haan bo-op. Wonderlike dae, vervloë droomverlore dae, nou in die vergetelheid begrawe omdat plek gemaak moes word vir die moderne, die gejaag van tyd, steeds vinniger en vinniger – ’n gejaag na wind!