Die Hervormer

Oor berge en dale

7 Thomas JoubertOm die 90 kilometer van die Visriviercanyon te stap, het jy net ’n paar dinge nodig. Lekker medestappers is onontbeerlik, asook ingeloopte skoene en ’n bietjie humor vir die moegword. Jy moet lig pak, want jy moet alles self dra. Die Vis leer ’n mens met hoe min jy kan klaarkom, of anders gesê, dat ons heeltemal te veel letterlike en figuurlike bagasie in die lewe saampiekel. Ek het Junie weer die Vis gaan stap. Ons was 15 stappers, almal vriende, geen klakouse nie.

Die eerste dag van die Vis klim ’n mens 400 meter af in die canyon, van die rand af tot by die rivier. Die afklim is moeilik. Jou sak is nog vol en ken nog nie die rondings van jou lyf nie. Dit is mooi en jy kyk rond, maar jy moet ook mooi kyk waar jy trap, want een mistrap hier en jou stap is verby. Ons het rustig tot onder gevorder, in die skadu van ’n rots by die water gerus en geëet, en die dapperes het in die yskoue water geswem.

Vir dié wat nie weet nie, daar is geen mensgemaakte goed in die canyon nie,  jy slaap waar jy wil. Langs die rivier is daar plek-plek sulke sandstrande. Jy kies een, gooi jou grondseiltjie oop en jou slaapsak en siedaar: ’n heerlik ruim slaapkamer met die canyon se kante jou mure en die sterrehemel jou plafon. Jy sorg dat daar ’n plat klip of twee naby genoeg is vir ’n kombuis, anders sit jy maar die stofie in die sand. Die wonderlike van die canyon se sand is dat dit nie vasklou nie, dit val sommer af met een skud of veeg.

Ons het voortreflike aandetes geëet. Ons het vier-vier saam kos gemaak. Jy skep drinkwater en waswater uit die rivier. Van bad gepraat – die assebliefie-geriewe werk so: vrouens gaan stroomop en die mans stroomaf. Die water is koud, en as jy warm gestap is, nog kouer, maar dit is verfrissend.

Die Vis is so tussen 80 en 90 km, afhangende van die kortpaaie. Die paadjies is nie gemerk nie, maar in die woestyn bly die spore lê. Hier en daar is daar stapeltjies klippies. By baie plekke moet jy oor klippe, rotsies of rotse klouter. Ander plekke stap jy oor ronde rivierklippe, wat meestal stil lê, maar nie almal nie, of gruispaadjies of sand of stof.

Wat het ons vroeër sonder kopliggies gemaak? ’n Kopliggie is soos ’n selfoon, ’n ellendige ergernis waarsonder ons nou moeilik kan klaarkom. Dit is gerieflik wanneer die son sak en jy moet kosmaak of opruim. Dit is veral gerieflik om in die donker jou sleutels te gaan soek. Maar dit is muskietlastig vroegaand wanneer jy ingekruip het en die ander se liggies in jou oë skyn. Heen en weer en op en af lig dit, en net as jy so wil wegraak, skyn iemand se liggie in jou oë, steurend verby.  

Dag twee

’n Bobbejaan het byna ons besondere oggendgodsdiens ontwrig. Hy wou kom kyk of daar iets te aas is, en dit terwyl een van die groep die Griekwapsalm 121 a cappella daar in die oopte sing. Stilwordmooi. Selfs die bobbejaan het later stilgesit en geluister. Dag twee se pad loop veral oor groot rotse en klippe en klipplate en sand. Ek wens daar was ’n geoloog by, maar dan sou ’n mens nog stadiger loop, want die verskeidenheid van klippe is groot. Ons vorder. Daar is klagtes, maar meer lag-tes, want as jy in die Vis is, is daar eintlik net een moontlikheid,  jy moet anderkant uit. Dit was ’n droë jaar. Die rivier is vlak en loop plek-plek net-net of glad nie. Die een mikpunt was die Vespa-motorfiets wat al jare daar staan. Hierdie jaar is hy soos ’n sebra geverf. Die laaste stuk na die warmwaterbron wou net nie korter word nie, maar vertellings van palmbome, sonsambrele en poelstoele en koue piña coladas het almal aan die loop gehou. Die heerlikheid om jou moeë lyf in die warm water te laat sak, is aan te beveel. Die maan was donker en die sterre so naby, jy kon so lê en met jou kierie se punt teen hulle tik.

Dag drie

Ons maak klaar en stap weg van die warmbron. Ons goeie leier lei ons goed. Daar is klagtes oor ouderdom en oor hoekom ’n mens dit al weer doen en 12 jaar gelede was dit makliker, maar ons loop en die humor hou ons aan die gang. Soms draai die canyon so dat voor agter word en oos word wes en noord en suid raak ook deurmekaar, maar hou net stroomaf, dit sal jou by Ai-ais bring. Die barheid van die klipkranse en omgewing het my aan ’n paar pelgrimspsalms laat dink. Die verweerde klip laat jou ver dink aan wat tyd eintlik is. Ons vorder mooi tot by ’n lang breë strand. Ek wil hoër op slaap, maar die ander dring aan op oewer-erwe. Ons kosma gee instruksies vir aandete en gaan bad stroomop. Sy het niks van sout gesê nie en ek, wat nie weet van kosmaak nie, vergeet om sout in die rys te gooi. Gelukkig was die gedroogde maalvleis so geurig dat dit nie te erg was nie. In die nag spring die visse sommer hier vlakby en die wilde perde snork ook naby. Die perde het my laat onthou van die wildedonkies van Psalm 104. ’n Ent weg was daar ’n kommosie onder die bobbejane. Ek was niks bang nie, want met die gesnorkery het nie eens ’n muskiet dit naby ons gewaag nie.

Dag vier

Die canyon raak nou plek-plek oper. Die sandlopery werk met die kuite. Kortpad. ’n Paar rante oor sien ons weer die rivier, en daar hardloop ’n mooi koedoe in die verte. Lang ente oor ronde rivierklippe laat ’n mens verlang na sand, en lang ente sand laat ’n mens verlang na klippe. Ek dink die woord onherbergsaam kon sy ontstaan hier gekry het. Soms loop jy alleen, net met jou gedagtes, ander kere is die kwinkslae en slimmighede van die groep ’n teenmiddel vir die moeg.

Na die plek waar jy na die Viervingerklip omkyk, is ons mikpunt ’n graf. Die Duitse soldaat wat vroeër aan die Boerekant in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het, luitenant Thilo van Trotha, was 111 jaar gelede besig met vredesonderhandelinge by die Bondelswart Namas. Hy is van agter geskiet omdat die Bondelswarts gedink het hy gebruik die onderhandelinge om hul aandag af te trek, terwyl die Duitse berede troepe van die Viervingerklip af ’n aanval loods om gesteelde vee terug te kry. Hy is op 14 Junie 1905 dood en was maar 27 jaar oud. Tragies, alleen onder ’n hoop klippe.

Ons moes by Sandy Beach gaan slaap, iemand praat van Sandy Bay, maar dit laat niemand juis  vinniger loop nie. Na ’n kortpad loop ons links in plaas van regs, en ons eindig by Boulder Beach in plaas van Sandy Beach. Dit is nader en op nog ’n kortpad. Ons maak ’n kuiervuur en ons eet en kuier. 

Dag vyf

’n Mens is bly dit is die laaste dag, maar ook jammer daaroor. Die oopheid en die stilte maak jou gedagtes stil en jou kop oop, en dit is goed. Ons kruis die rivier en vat die kortpad. Die canyon is nou wyer met koppies en rante en min water. Die padoppervlakte is meestal gruis en loop maklik. Dit bly egter ’n ongenaakbare wêreld. Na nog ’n kortpad lê daar ’n droë wit perdegeraamte. Die russtoppe word al korter. Die bakens verskyn: die pompstasie, die antennas bo Ai-ais, die keerwal – en toe is daar nie meer keer nie. Daardie eerste koue bier was welverdiend en het goed afgegly. Dit was my derde Vis. Nou gaan ek eers weer stap waar daar meer bome is.

Gaan stap gerus die Visrivier. Vra enigeen wat dit al gedoen het, dit is ’n onvergeetlike ervaring.