Die Hervormer

Sing jou lied vir die Here

Geagte Redakteur

Richard Steinmann se skrywe in Die Hervormer van April 2016 het my genoodsaak om iets te probeer sê oor hoe ek aanbidding en sang in die kerk verstaan.

Ek haal graag ’n stelling in sy skrywe aan wat volgens my die hart van sy argument raak. Hopelik is daar nog plek en tyd in ons kerke vir behoorlike God geïnspireerde en geesgedrewe beoefening van godsdiens waar daar nie na die menslike tydgees, modes en opvattings gebuig word nie. Die teendeel is dan inderdaad om liewer tuis te bly – en die kerke word al leër...

Met al die moets en moenies en die voorskrifte oor staan en sit in ons Kerk het ek al dikwels gewonder wie nou eintlik bepaal het dat die erediens lyk soos dit lyk en dat kerkmusiek klink soos dit klink. Ek probeer my in my geestesoog voorstel hoe dit in die 16de tot 19de eeu moes wees in die kerk. ’n Tydperk wat nie net geken was vir die fel en selfs bloedige konflik wat daartoe gelei het dat die Kerkhervorming plaasgevind het nie, maar wat ook geken was vir die oormatige beklemtoning van wie adelstand is en wie nie.

Dit klink soms vir my asof ons Kerk in die nadenke oor ons etos en oor wat behoorlike God geïnspireerde en Geesgedrewe beoefening van godsdiens sou wees, tot die slotsom gekom het dat ons Kerk tot die adelstand behoort. Ons wil dan liewers in die paleise en stadshuise, opgesmuk met wit pruike, op die maat van klassieke musiek, statige danspassies uitvoer, as wat ons buite om die vuur, uit die hart en siel, ritmies op die getokkel van ’n kitaar dans.

Dit is belangrik om te verstaan dat die inrigting van die erediens nie die uitvloei van Goddelike inspirasie is oor HOE God aanbid moet word nie, maar dat dit die invloei van menslike tradisies is. Dit wat ons is en wat ons aanspreek en dit wat iets van ons emosies en die diepte van ons siele weerspieël, kom uiteindelik in die erediens tuis. Ongeag hoe die erediens ingerig word of in wat en hoe ons sing, staan en bid. Dit wat tradisioneel as waardige aanbidding gesien word, is ook maar net gebore uit menslike tradisies wat in die kerk tuisgekom het.

Ek ervaar die afsluiting van sy skrywe as so ’n ligte kragvertoning. Doen soos ek sê, of dra die konsekwensies. Dit gaan juis nie oor die een of die ander nie, die kerk gaan oor ’n insluitende liefdesgemeenskap wat elkeen – hoe gering of eenvoudig ook al – in die uitleef van sy geloof akkommodeer en respekteer.

Ons is nie almal dieselfde nie en daarom kan daar onmoontlik ’n reël neergelê word hoe ’n gelowige die blydskap en dankbaarheid wat in sy hart is, moet uitdruk. Wat vir een waardig en eerbiedig is of  ’n opregte uitleef van sy hart, het nie noodwendig vir ’n volgende persoon dieselfde betekenis nie.

Die kerk word nie leër as gevolg van die inrigting van die erediens nie, maar inderdaad as gevolg van ’n gebrek aan geloof. Hierdie gebrek aan geloof lei ook tot die liefdeloosheid waarmee mense in die kerk mekaar verkleineer en verniel. Daarom, sing jou eie lied vir die Here! As dit ’n lied is wat al drie honderd of meer jare in die kerk gesing word, is dit goed so, maar as jou buurman se lied jou in geloof aangryp, sing sommer saam met hom ook.