Die Hervormer

Ons moet praat!

Berigte en hofsake oor geweld is amper ’n gegewe in ons tyd, maar geweld dateer al van die Bybelse tye. In Rigters 19 lees ons van ’n Leviet en sy byvrou. Dis ’n verhaal van ’n vrou wat deur dié met die mag, wat hulle kragdadig en met mening ingespan het, misbruik is. Dié misbruik is boonop half vermaaklik landwyd bekend gemaak. Dit is skokkend, maar soos die spreekwoord sê: Daar is eintlik niks nuut onder die son nie.

Net soos in Rigters, word die eietydse verhale landwyd stuk vir stuk bekend gemaak; op elke lamppaal en koerant word daaroor berig. Die magsmisbruik word so maklik bekend gemaak en verwoord. Is dit genoeg om dit bloot te verwoord, of is ’n meer besliste ingryping dalk nodig?

Opvallend is die woorde waarmee Rigters 19 eindig: So iets het nog nooit gebeur vandat die Israeliete uit Egipte weggetrek het nie. Van toe af tot nou toe is so iets nie gesien nie. Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!
In Augustus word Vrouedag gevier, en dan is daar ook nog die veldtog Veertig Dae teen Geweld teenoor Vroue en Kinders. Ek skryf spesifiek oor geweld teenoor vroue, maar geen mens – man of kind – word uitgesluit nie. Dink maar hoe Batseba se man ’n slagoffer van geweld geword het, omdat ’n koning sy mag misbruik het. Enige vorm van geweld is ’n vorm van magsmisbruik.

My vertelling kom van ’n vriendin wat ingestem het dat ek haar verhaal verwoord. ’n Verhaal soortgelyk aan die boek Dis ek, Anna, wat onlangs verfilm is. Sy vertel my dikwels hoe die lirieke van Anna Davel se Viooltjies haar seer die beste opsom:

sy liefde is al weer op haar lyf ingekleur
kyk hoe mooi is die blou wat met pers inskakeer
voeg daad by die woord soos die ou mense sê
en wys tog ’n vrou dat jy in haar belê

gee haar viooltjies wat weke sal blom
’n perse op die arm wat oornag opkom
op die oogbank ’n ligroos
op die bobeen ’n sny
wat elke ware vrou haar so sal beny

sy sê dis net soms, hy’s eintlik ’n lam
hy sal na hierdie keer verseker regkom
sy liefde is anders, probeer tog verstaan
die stryd van die dag moet hy iewers verslaan

sporadies versier hy haar vel met sy haat
smeek dalk haar lyf om vergifnis, want haar siel sit op straat

Sy vertel my van jare se worsteling, of dit wat met haar gebeur het werklik gebeur het en of dit nie maar ’n verbeeldingsvlug is nie. Al is die viooltjies ingekleur, het sy soms gewonder of dit nie eintlik tog die badkamerkassie was, of die struikel oor die trap, wat verantwoordelik was vir die persblou nie, soos sy so maklik aan die buitewêreld verklaar het. Sy vertel my van jare se twyfel oor wie haar sal glo, omdat die persoon wat ander sien en dink hulle ken, so anders lyk. Die mens wat haar lyf so inkleur, is dan die mens wat ander met ’n diepe, menslike insig benader; met ’n sagtheid, selfs ’n skaamheid wat ander mateloos beïndruk.

Sy vertel my van die wonder oor God. Sy bestaan, sy wete. Hy is mos alomteenwoordig. Hy sien en weet mos alles, hoekom gryp Hy nie in nie? Sy vertel my van die emosionele magsmisbruik, ’n misbruik wat soms verwyt en al die groenblou verkleuring aan haar eie patetiese gedrag toedig. Net om hom weer op ’n dag te hoor smeek om vergifnis, te hoor hoe hy beloftes maak voor ’n God oor wie sy nog steeds wonder: Waar is Hy midde-in alles?

Sy vertel my oor haar reis na onsekere verwagtings: Wat word nou eintlik van haar verwag? Sy vertel my van die siek, sikliese gang van gebeure. Hoe sy soms geag is as die engel van lewe, net om dan weer as die engel van die dood uitgekryt te word. Sy vertel my hoe sy slinks en slim van ’n eie loopbaan en ’n inkomste weerhou is. Gedegradeer is tot iemand wie se hart biologies klop, maar lankal eintlik nie meer leef nie. Sy vertel my hoe sy nagte oor haar kinders moes waak, hoop en bid hulle bly veilig agter toegesluite deure. Hoe sy soektogte moes loods na die een wat so graag die viooltjies bring, want hy sou dikwels dreig om te verdwyn en homself te dood. Sy vertel ook hoe sy verskeie kere op die selfdoodpogings afgekom het.

Sy vertel van die wonderlike gawe wat sy ontwikkel het om die een leuen na die ander te fabriseer; soos dat die een wat die viooltjies so uitdeel, maar net siek en oorwerk is. Sy vertel dat sy robotagtig die masker van leuens haar eie maak, dat sy haarself nie ken of meer wil ken nie. Al wat oorbly, is oorleef. Hoe om te leef, is toegeweef in ’n spinnerak van ’n wrede waansin wat geen perke meer ken nie.

Sy vertel my van die kere toe haar eie lewe aan ’n sekondedraadjie gehang het. Sy vertel my van die dag toe sy alles letterlik gelos, haar kinders geneem en tree vir tree, al hoe verder en verder weg van ’n ryk donkerte na ’n armer maar ligter oopte gestap het. Sy vertel my die geweld sluimer nog altyd. Dreigement op dreigement van hoe sy dalk nie môre die son sal sien opkom nie. Sy vertel my hoe die regsisteem haar nie werklik bystaan nie. Sy herhaal keer op keer: As ’n vrou verkrag word, verkrag die sisteem – veral die regsisteem – haar nogmaals keer op keer. Jy word maar soos die vrou in Rigters 19, opgebruik, opgekap en uitverkoop.

Ek het gewonder wat ek vir so ’n persoon moet sê. Ek leer self maar elke dag; ek worstel maar self met die twyfel en dans baie dikwels met die weemoed. Ek glo God het mens geword; die Woord het vlees geword. Vir my en vir haar en vir dié wat seermaak. Die volgorde is egter: Die Woord het vlees geword. Ons is so geneig om die vleeslike net weer in woorde toe te vou. Ons verwoord so graag die mooi en die minder mooi. Hetsy as predikers, skrywers, sprekers, digters, joernaliste. Dit is nodig dat die seer, die magsmisbruik, wyd en syd verkondig word. Wat is die doel en betekenis van ’n Vrouedag en 40 dae teen geweld as alles net by woorde bly? Advertensies, motiveringsprekers, gebedskringe, verwoord die seer so “mooi” en daarna gebeur niks nie. Alles bly dan net leë woorde.

Ek vra my vriendin wat en wie haar gehelp het in die tye toe die donker haar kom haal het en sy gevoel het die Here soek nie na haar nie, en sy Hom ook nie kon vind nie. Sy antwoord eenvoudig en beslis: Al die kere dat sy in die koue gange van hofsale en polisiekantore gesit het, was dit die fisieke daar wees van diegene wat langs haar sit en staan. Sonder woorde het mense van vlees en bloed met hul blote teenwoordigheid gesê: Ek glo jou. Ek is hier vir jou, maak nie saak wat gebeur nie. Sy sê in hul oë kon sy nie meer die hel van die seer waarvan sy moes wegkom, sien nie. In hul oë kon sy sien: Hier, net hier, het die Here ook vir haar mens geword. Hy is hier teenwoordig, by haar, in die mens hier langs haar. Sy kon selfs in die hole en gate van die samelewing voel, Hy wat mens geword het, is in die mens langs haar aanwesig.

Sy sê ’n vers wat haar bybly en moed gee om viooltjies te pluk, te plant en uit te deel aan elkeen wat woordeloos daar was en is vir haar, is Johannes 1: 14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Die viooltjies hét toe inderdaad mooi blomme geword waarop die lig al meer en meer deurgebreek het. As sy die lied van Anna Davel kon oorskryf, sal dit nou so klink:

sy liefde is nou in haar wese ingekleur
kyk hoe mooi is die een se teenwoordigheid
wat met die ander inskakeer
voeg daad by die woord soos die ou mense sê
en wys tog ’n vrou dat jy in haar belê

gee haar jou teenwoordigheid wat weke sal blom
en wat elke ware vrou haar so sal beny
sporadies versier ons mekaar
met mekaar se teenwoordige liefde
en so sit ons siele nooit weer op straat nie