Die Hervormer

...en intussen loop die kerke leeg

Gedurig hoor ’n mens allerlei opmerkings oor die kerk, selfs van voorgangers en predikante.  Daar kan waarheid in van die standpunte wees, maar intussen loop ons kerke leeg. Hier hoor ons die mening van ’n lidmaat wat tot onlangs een van ons Kerk se orreliste was.

Die opmerkings sluit die volgende in: Ek kan God net so goed buite as binne die kerk dien. Ek vind God eerder tussen die bome en in die natuur. Ek dien God in my binnekamer. Daar is nie genoeg verskeidenheid, afwisseling en vermaak vir die kinders in die kerk nie. Ek kyk en luister eerder na die TV en radio, dis tog so mooi!

Godsdiens is diens aan God gegrond op gegewens uit die Bybel en al die teologiese, kerklike en menslike beredenerings en besluite deur die eeue heen. Die afgelope tyd was daar verskeie uitstaande artikels in ons publikasies oor die teologiese begronding van godsdiens en gepaardgaande liturgie. Met die Hervorming is godsdiens en die liturgie ingrypend versober na wat geglo word nader is aan die “ware” verstaan van die Bybelse opdrag en die verkondiging van die evangelie van die Nuwe Testament. Maar nêrens vind die gewone lidmaat eenvoudige aanduidings van hoe ons eintlik in die aanwesigheid van die ewige Majesteit moet optree nie.

Natuurlik is daar geen Bybelse riglyne nie en bepaal die tyd en omstandighede alle menslike sienings. Godsdiens is egter diens aan God die Almagtige. Dis nie ’n sosiale of vermaaklikheidsbyeenkoms nie. Dit is ’n erediens in liefde tot God en daardeur uitreik na jou naaste. Daarom die uitspraak alles wat ordelik en welvoeglik is. Dít moet dus my ingesteldheid wees wanneer ek daaraan deel het.

Hierdie skrywe gee nie voor om ’n wetenskaplike ondersoek of teologiese debat te wees nie, maar dien hopelik om die stem van ’n gewone lidmaat van die Hervormde Kerk te laat hoor oor sekere opvattings en gebruike wat steurend is in die kerk.

Musiek
Sedert die Hervorming is die musiek vir die erediens gedienstig gestel aan die Woordverkondiging, die kerklike jaar en/of die geleentheid. Dit gaan nie om soetsappige musiek, strelende tone en sentimentele liedjies met immer herhalende woorde nie. Kerkmusiek is nie agtergrondmusiek nie, maar moet gebruik word om die Woordverkondiging te versterk en die aard van die geleentheid te vestig.

Die orrelis of musiekmaker(s) moet die atmosfeer en strekking van die erediens aan die gemeente probeer deurgee. Die hele musiekrepertoire is beskikbaar, mits gepas en speelbaar, vir voorspeling en naspeling by ’n erediens. Direk voor of tydens die binnekoms van die voorganger, predikant en kerkraad behoort die orrelis/musiekmaker egter oor te gaan na ’n voorspel tot stigting van die eerste aangegewe psalm of gesang. Ook die naspeling na die diens dra die afsluitingsboodskap verder, voordat oorgegaan word na repertoiremusiek. In ons Afrikaanse Hervormde Kerk is die liturg, predikant, voorsanger en soms voorleser een en dieselfde persoon, en is afwissende stemminge en optredes wel nodig. In Nederland (PKN) en ander soortgelyke hervormde kerke word afsonderlike persone gebruik, wat sorg vir afwisseling en groter betrokkenheid.

Musiek in die erediens is die draer van die “gesonge gebede” van die gemeente. Dit is geen geleentheids- of vermaaklikheidsverposings nie. Dit dra by tot die gemeente se deelname aan en belewenis van die diens. Voorspel, begeleiding, meditasie en atmosfeerwisseling ondersteun die woordbepaling en gee uitdrukking aan die gesprekvoering tussen voorganger en gemeente.  

Vir die Ons Vader (Gesang 266) sal die orrelis byvoorbeeld as inleiding vir die gebed sag en ingehoue net die eerste nege note aangee. Die ingetoë begeleiding volg die vertolking van die woorde eerder as die spanningslyn van die musiek – veral nie ’n spanningsopbou op die frase dié wat teen ons sondig, en beslis nie op maar verlos ons van die bose nie. Ons beklemtoon nie die sondig en die bose nie. Eers van Van U is die ryk... kan die musiek groots en in toon- en geluidsterkte toeneem tot die eerste Amen; dan met die herhaling, weer in gebeds-inkering eindig. Indien die Ons Vader of enige ander gebed, gesang, psalmtoon, antwoordfrase of lied deel is van die prediker se gebed, gee die orrelis slegs ’n sagte akkoord en begelei verder met uitkomende stem.

Psalm 130, die Voortrekkerwysie, se melodie is in drieslagmaat, “walsmaat”, maar die orrelis sal dit beslis nie as sodanig en streng daarvolgens speel nie. Natuurlik moet die psalm inkennig en gedrae gespeel en gesing word en nie vinnig en op die dansritme van die drieslag- of ses-vier-aanduiding nie. Veral ook vir die oorspronklike psalmmelodieë, moet die orrelis noulettend let op die woord-toon-verhouding, en die woorde noukeurig volg sodat die begeleiding, harmonisering en vertolking reg laat geskied aan die oorspronklike psalmtone, strofesang of kerklike toonstyl.
Elke lied, elke sangstem, elke musiektoon, elke musiekgenre moet meewerk aan die oorkoepelende aard, geleentheid en kerklike tydperk van die godsdiensbeoefening (die liturgie). Daarom moet ons baie versigtig omgaan met die hedendaagse musiekidioom van kreunende en intense forsering, herhalende woordfrases, oorverdowende elektroniese begeleiding en polsende slaginstrumente. Dit kan eerlikwaar nie inpas in ’n gestruktureerde erediens nie.

Dit is verblydend dat die Hervormde Kerk deur al die jare die kerklike jaarindeling behou het en dit die afgelope jare intensief bevorder het. Een van die kleinste gemeentes van die Kerk het reeds vanaf die vroeë 1950’s, teen alle destyds geldende menings in, liturgiese gebruike, strofesang en antwoordsang in eredienste en veral op kerklike feesdae beoefen. Daar is ook diensordeblaadjies gedruk om die diens te verduidelik, sodat die gemeente presies kon weet hoe en wanneer hulle spontaan moes deelneem. Veral afwisseling van al die liturgiese elemente en die wisselwerking tussen voorganger/predikant en gemeente dra by om die meelewing van die gemeente aan te wakker. Sulke gebruike en elemente vereis wel groter voorbereiding en toewyding, maar die gevolglike insig, geesdrif en meelewing tydens ’n diens kan nie onderskat word nie.

Kantor, kantory, ander musiekinstrumente en soliste het sekerlik plek in ’n erediens, maar dit moet bydra tot die kerklike en ten dienste wees van die Woordverkondiging en gemeentelike inlewing. Dit moet beslis nie gaan om vertoon, versiering of eie optrede nie. Hierdie komponente vorm deel van die gemeentelike bydrae en behoort dus saam met die orrel agter in die kerk geplaas te word. Die musikale inlewing, gesigsuitdrukkings en bewegings van sulke deelnemers moet geensins tot vermaak van die gemeente beleef word nie. Dieselfde geld vir al die ander bykomstighede en ongepaste versierings.

Kerklike ruimte
Natuurlik is daar plek in die kerkruimte vir versiering, maar weer eens moet dit inpas by dit waarmee ons besig is, naamlik godsdiens.  Daar is in die Hervormde of protestantse kerk vier hoofelemente wat sentraal in die liturgiese ruimte hoort: die preekstoel; die Nagmaaltafel; die doopvont; die voorleser se kateder. Geen ander element het permanente staanplek in die liturgiese ruimte voor in die kerk nie.

Christelike simbole en kunswerke kan gebruik word, maar slegs ter illustrasie van ’n sekere faset, en nie as vasstaande prinsiep nie. Dit sluit in gekleurde (kerkjaarkleure), geborduurde en versierde voorhangsels, Nagmaaltafelbekleding, kerse en blomme, maar alles net om die vier vasstaande elemente, of die een of ander Christelike of kerklike aspek, te ondersteun. Alle ander niksseggende versiersels het geen plek voor in die kerk in die liturgiese ruimte nie. Dit kan noodgedwonge agter in die kerk, voorportaal of buite uitgestal word.  
“Ampsdrag” is byna oral afgeskaf. Gelukkig laat die Hervormde Kerk, die Anglikaanse en die Lutherse tradisie nog toe dat ten minste akademiese of kerklike togas gedra kan word. Dit gee uitdrukking aan die toewyding en agting waarmee die diens benader word en verklaar aan die deelnemers dat ’n besondere ingesteldheid en bemagtiging aanwesig is.

Hopelik is daar nog plek en tyd in ons kerke vir behoorlike God geïnspireerde en geesgedrewe beoefening van godsdiens waar daar nie na die menslike tydgees, modes en opvattings gebuig word nie. Die teendeel is dan inderdaad om liewer tuis te bly – en die kerke word al leër... (Artikel verkort)