Die Hervormer

Wees my, sondaar, genadig...

Geagte Redakteur

Die skrywe van dr Stephan Hoffman in Die Hervormer van Desember 2015 het betrekking. In die hele debat rondom selfdegeslagverhoudings en homoseksualiteit is daar ’n saak wat my hinder en iets wat myns insiens nie genoegsaam beredeneer en bedink word nie.

Dit wil vir my voorkom asof daar by sommige in die NHKA die behoefte bestaan dat homoseksualiteit as sodanig vir eens en vir altyd as sonde benoem moet word, soos wat die NGK in ’n onlangse uitspraak rassisme as sonde benoem en veroordeel het. Die ongemak wat ek daarmee beleef, is dat die NHKA met so ’n uitspraak op die terrein van “sondelyste” sou beweeg, en dit kan tog nie.

Die NHKA was immers nog altyd van oortuiging dat sonde ’n ontologiese aangeleentheid is, met ander woorde, in die hart van ons menslike wese en bestaan. Sonde is nie (in die eerste plek) iets wat ons doen nie, dit is iets wat ons is en waarvan ons, indien ek Paulus in sy brief aan die Romeine, veral hoofstuk 7, reg verstaan, nie op hierdie aarde vry sal wees nie.

Ek herinner my ook aan Luther se uitspraak van simul iustus et peccator, met ander woorde, wesentlik, per definisie – dit is wat ek is. Luther tref geen onderskeid tussen sondige dade en die diepste innerlike wese van die mens wat hierdie dade motiveer nie. Sonde kom immers uit die hart van die sondaar. Daarom is selfs ons beste werke met sonde bevlek, want ons kom nou maar een maal nie weg van die eie belang en die selfsugtige strewe van die sondige natuur nie.

Luther was oortuig dat geen goeie werk immuun is teen diens aan die eiebelang nie. In ons beste voorneme en edelste motiewe is daar immers altyd ’n stukkie eiegeregtigheid, en dit kom weer neer op die beskouing dat ons God nie genoegsaam vir ons verlossing vertrou nie, maar dat daar nog iets is wat deur ons bewerkstellig moet word. God se genade alleen is nie genoeg nie – ek moet self nog tot my verlossing bydra. Vir Luther lei hierdie beskouing uiteindelik tot liefdeloosheid teenoor God en die verheerliking van die self. Dit maak die verlossing wat deur Jesus Christus verkry is, oorbodig.

Indien die NHKA steeds die reformatoriese beginsel huldig dat die eie menslike wil so deur die sonde gekorrupteer en besoedel is dat ons nie in staat is om onsself te verlos nie, en dat verlossing derhalwe van buite moet kom, en dat dit suiwer vanuit God se oorvloedige genade deur die versoening van Jesus Christus aan die kruis aan ons geskenk word, dan behoort daar geen ruimte in ons Kerk te wees vir hierdie Fariseër-agtige eiegeregtigheid nie. Luther maak die punt dat dit juis die goeie werke is, waarop ons so roem, wat hoogmoed in die hand werk.

Die uitsprake wat dikwels deur ons in hierdie debat gemaak word, herinner gans te veel aan die woorde in die gebed van die Fariseër in Lukas 18: 11: O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie homoseksueel (Luk 18: 11 lees hier tollenaar) nie. Terwyl ons eintlik behoort te sê: O God, wees my, sondaar (ontologies), genadig.