Die Hervormer

Suid-Afrikaanse Erfeniswetgewing en die kerk

Die onlangse kontroversie rakende die verskuiwing en vandalisering van standbeelde het uitgewys dat daar groot onkunde oor die bewaring van erfenishulpbronne bestaan, asook oor erfenis en geskiedenis in die algemeen.

Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) stel duidelike prosesse in plek vir die bestuur van ons kultuurerfenis. Die Wet sluit alle vorme van erfenis in, naamlik:

  1. Plekke, strukture en geboue van kulturele belang.
  2. Plekke geassosieer met mondelinge oorleweringe of lewende erfenis.
  3. Historiese vestigings en dorpslandskappe.
  4. Landskappe en natuurlike verskynsels van kulturele belang.
  5. Geologiese terreine van wetenskaplike of kulturele betekenis.
  6. Argeologiese en paleontologiese terreine.
  7. Grafte en begraafplase.
  8. Belangrike terreine wat met die geskiedenis van slawerny verband hou.
  9. Roerende voorwerpe – argeologies, etnografies, militêr, skone kunste, boeke, ensovoorts.

Vir kerke sal nommers 1, 2, 3, 7 en 8 van belang wees. Benewens kerkgeboue, kan voorwerpe soos meubels en Nagmaalserviese ook as deel van die erfenis gereken word. Die Wet plaas klem daarop dat enige plek wat vir die gemeenskap van kulturele belang is, as erfenis gesien word. Kerkgroeperinge en gemeentes is ’n definitiewe deel van die gemeenskap en word op hierdie wyse ingesluit. Die Kerk kan dus as groep ’n sterk saak uitmaak vir die bewaring van dit wat deur hom as belangrik geag word.

’n Spesifieke regeringsliggaam, die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) of South African Heritage Resources Agency (SAHRA), reguleer die erfenis van Suid-Afrika, maar elke provinsie het ook ’n erfenisliggaam. Erfenishulpbronne kan formeel tot erfenis verklaar word. Die kultuurerfenis word in drie kategorieë ingedeel, naamlik Nasionale Erfenis (Graad I), Provinsiale Erfenis (Graad II) en Plaaslike Erfenis (Graad III).
 
Die formele beskerming van kultuurhulpbronne wat moontlik op kerke van toepassing kan wees, sluit die volgende in:

  • Voorwerpe van kulturele en historiese belang.
  • Voorwerpe verbind met mondelinge oorleweringe of lewende erfenis.

Die Wet maak egter voorsiening vir ’n algemene beskerming van kultuurhulpbronne, wat beteken dat iets nie noodwendig verklaar hoef te word nie, omdat die Wet dit outomaties beskerm. In soverre dit kerke raak, sluit dit die volgende in:

  • Begraafplase en grafte.
  • Strukture (byvoorbeeld kerkgeboue).
  • Openbare monumente en gedenktekens.

Strukture is waarskynlik die belangrikste aspek van die Wet in soverre dit kerke aangaan. Alle strukture ouer as 60 jaar word deur die Wet beskerm en mag net verander of vernietig word indien ’n permit deur SAHRA uitgereik is. Dit beteken dus dat grafstene ouer as 60 jaar ook beskerming geniet. Dieselfde geld monumente, standbeelde en gedenktekens.
 
Die 60-jaar-klousule moet egter korrek verstaan word omdat dit tog nie moontlik is om alles ouer as 60 jaar te bewaar nie. ’n Kundige (erfeniskonsultant) moet dus die kulturele belang daarvan bepaal. Die volgende kenmerke word in ag geneem:

  • Kulturele waarde.
  • Sosiale waarde.
  • Historiese waarde.
  • Wetenskaplike waarde.
  • Estetiese/argitektoniese waarde.

Hiervolgens word dan bepaal of ’n plek bewaar moet word en indien wel, in watter mate dit moontlik aangepas of verander kan word. Sodanige verslag word aan die erfenisowerhede voorgelê sodat ’n beslissing gemaak kan word.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie proses, soos deur die Wet uiteengesit, ’n groot rol speel in die bewaring van ons Suid-Afrikaanse erfenis. Daarom moet dit te alle tye gevolg word en kan dit ook kerke help om korrek op te tree.