Die Hervormer

Homoseksualiteit

Geagte Redakteur

Die artikel van dr Wim Dreyer in blitspos@nhk van 15 Oktober 2015 (en die verkorte weergawe in Die Hervormer van November 2015) verwys.

Eerstens wil ek groot waardering uitspreek oor die openheid waarvoor gepleit word in die inleidingsparagraaf. Inderdaad behoort daar sensitiwiteit en respek te wees vir verskillende opinies.

Ek is egter van mening dat ’n paar denkfoute in die artikel gemaak word:

  • Die argaïese, dualistiese en kunsmatige streng onderskeid tussen leer en lewe is teologies onhoudbaar. Leer- en lewenskwessies is juis onlosmaaklik verbind.
  • Die suggestie dat Paulus nie kon onderskei tussen homoseksuele oriëntasie en homoseksuele promiskuïteit nie (omdat hy nie oor die wetenskaplike insig beskik het nie) en daarom niks oor homoseksuele dade te sê het nie, is ’n drogargument. Paulus spreek hom ondubbelsinnig uit oor seks tussen mense van dieselfde geslag (sien Rom 1: 26-27). Seks tussen mense van dieselfde geslag word direk afgewys, of dit nou binne die konteks van die afgodsdiens, promiskuïteit of wat ook al was. Paulus begrond sy afwysing op die teennatuurlike aard van hierdie gedrag. As ons wou maak asof Paulus homoseksuele dade in enige ander konteks sou goedkeur, sou dit grens aan oneerlikheid.

Die grootste beswaar wat ek egter teen die artikel het, is die verskraling van die problematiek tot die eenvoudige vraag: Wie is in die kerk van Christus aanvaarbaar? Hierdie vraag is beslis nie op die tafel nie en dit is misleidend om te impliseer dat die debat in wese daaroor handel.

Die kwessie oor homoseksualiteit handel ook nie daaroor nie. Die Kerk het reeds (soos tereg in die artikel uitgewys) getoon dat almal in die Kerk welkom is. Ons huidige standpunt oor homoseksualiteit is juis dat almal met liefde verwelkom moet word, maar dat ons nie die daad kondoneer nie. Indien hierdie kwessie gedryf word tot bespreking op ’n AKV, sou die ware vraag wees Watter vorm van seksuele gedrag is in die kerk van Christus aanvaarbaar? en die antwoord hierop was nog altyd die huwelik tussen man en vrou.

Hopelik is dit nie nodig om hieroor debat te voer nie. Ek sou baie eerder op ’n AKV wou reflekteer oor die goeie werk wat die Kerk kan en moet doen vandag, as oor die slegte wat ons nie moet doen nie. Daar is ’n arm, honger en verwarde wêreld wat wag dat die Kerk met leer en lewe die boodskap van hoop, geloof en ware liefde aan hulle sal bring!   

Almal is aanvaarbaar in die Kerk, maar alles is nie aanvaarbaar nie. Die Kerk moet op grond van die liefdesgebod verdraagsaam, liefdevol, vriendelik optree teenoor alle mense. Ons moet mense met deernis en liefde verwelkom en omarm. Ons mag mense nooit uitsluit en verwerp nie.

Ons mag egter nie oneerlik wees en maak asof alle vorme van gedrag aanvaarbaar is nie, ons kan nie alle dade kondoneer op grond van die evangelie nie. Jesus sterf juis as gevolg van die sonde aan die kruis, sodat die sondaar gered kan word. Onverdiende liefde en genade teenoor die sondaar keur nie die sonde goed nie, maar eis juis dat ons in dankbare gehoorsaamheid sal stry teen die sonde.

Om waarlik in verhouding met God te kan lewe, moet ons: die sonde nie ontken nie, maar erken; die verlossing van God deur Jesus Christus glo en dankbaar gaan lewe in reaksie op God se genade. As die Kerk een van hierdie aspekte nalaat, is ons nie meer kerk van Christus nie, maar net ’n filantropiese kultuurklub wat gedryf word deur humanistiese behoeftes en eise.