Die Hervormer

Apologie aan ongehude moeders

Ek is nou 64. Ek dink terug aan die Kerk toe ek kind was. Ek was in standerd 6 (graad 8), en ’n jong meisie in ons skool het swanger geraak. Ek dink sy was in matriek. Sy was mooi. Maar skielik is sy nie meer in die skool nie.  Dit was so hier by Augustus, en almal het gepraat.

Selfs in die Kerk is gepraat – skande! Die dominee en kerkraad plaas die meisie sommer dadelik onder sensuur (sy is juis in Februarie aangeneem). Daar word huisbesoek by die ouers gedoen, en die meisie is ook nie meer by die huis nie. Sy moes na ’n ander huis gaan, ’n huis vir ongehude moeders. Die ouers kom ook nie meer kerk toe nie – hulle is te skaam oor die skande wat oor die huis gebring is. Die Kerk tree op, vermaan, doen aanbevelings, dit is beter dat die kind sodra “dit” gebore is, aangeneem word.

Die meisie gee geboorte – sien nie eens die kind nie – en die kind is dadelik aangeneem. Ek wonder nou nog of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie was. Die meisie kom weer terug by die huis, sy mog nie skool klaarmaak nie, en het sommer gaan werk. En die Kerk, die veroordeel haar. Hoe verskriklik moes dit nie vir haar gewees het nie!

Noudat ek daaraan terugdink, gryser en wyser deur die jare, hoe liefdeloos, veroordelend, letterlik “haatlik” was die Kerk nie daardie jare nie. Selfs as kind is ons bang gepraat oor die God wat ons veronderstel is om te dien en lief te hê.

En nou, nou sê die Kerk hy tree in liefde op teenoor diegene met ’n anderste lewensoriëntering as die normale – en die teoloë worstel met die sewe verse in die Bybel synde dat dit nie na homoseksualisme verwys nie.

Waar in die Bybel staan dit dat ongehude moeders veroordeel is? Vraag: Het die Kerk nie die plig om verskoning te vra vir sy liefdelose optrede teenoor hierdie moeders nie? Hoe baie van hulle smag nog soekend na die aangenome kind? Hoe baie van die kinders wonder oor hul biologiese moeder?

As ons dan nou aan die Kerk van “liefde” behoort, waar is die diepe berou en apologie aan die moeders en die kinders oor ’n gewetenlose, liefdelose Kerk van die verlede?