Die Hervormer

Naledi – die belangrikheid van eerlikheid

Net soos ’n ster se lig van die aarde gesien kan word en bitter min lig op die aarde werp om iets hier te sien, so skyn Naledi (ster) se lig uit die verre verlede. Ons kan die uitsonderlike groot hoeveelheid fossiele sien en bestudeer, maar tot dusver word bitter min van Naledi se geheime geopenbaar.

Trouens, daar het in paleontologiese kringe groot meningsverskil ontstaan oor wat nou in die Wieg van die Mensdom by Sterkfontein gevind is en wat dit beteken, en die diskoers is vererger toe dit blyk dat die wetenskaplike artikel hieroor deur die vaktydskrif Nature afgekeur is. Vir die wetenskap is portuuroorsig vir die publikasie van wetenskaplike artikels ononderhandelbaar.

201511Homonaledi

Skedel van Homo naledi
soos grafies voltooi
deur National Geographic

 

Niemand sal stry dat die bemarking van die Naledi-vonds en bevindings tot dusver baie goed was nie. So goed dat dit ’n nog groter en waarskynlik belangriker vonds in Spanje wat ook nou bekend geraak het, in die skadu gestel het. Die ironie is dat die Spaanse ontdekking in die Sima de los Huesos (Put van Bene) wél in Science, waarskynlik die gesaghebbendste vaktydskrif, gepubliseer is. Ook hier is groot hoeveelhede fossiele gevind, maar voor die publikasie is nie net die ouderdom van die fossiele vasgestel nie, maar is die DNS deur die Max Planck Instituut ondersoek, wat uit ’n tandwortel en been geneem is. In die geval van Naledi is nog nie enige ouderdombepaling gedoen nie omdat dit in die geval van Naledi baie moeilik is, wat die plasing daarvan in die evolusionêre boskaas onmoontlik maak. Daar moet ook nog vasgestel word of DNS onttrek kan word (indien wel, gee dit ook reeds ’n goeie aanduiding van ouderdom).

Die Spaanse bevindings is verstommend deurdat die skeiding van die moderne mens se voorouers en dié van sy eertydse tydgenote, die Neandertals en die Denisovans, tot moontlik 765 000 jaar gelede terugskuif, dit wil sê tussen 100 000 en 400 000 jaar vroeër as wat voorheen gemeen is.

Die vernaamste belang van die Naledi-vonds is dat dit lyk of die vindplek van die fossiele ’n soort begraafplek kon wees, en dus op ’n vorm van godsdiens kon dui. Nie ’n enkele fossiel het aangetoon dat dit deur ’n roofdier aangeval is nie – iets uitsonderlik onder die vroeë mens. Dit maak net die bepaling van ouderdom soveel belangriker, omdat dit ’n aanduiding sal gee van wanneer die mens se godsdienssin begin ontwikkel het.

Om bloot te aanvaar dat die Naledi-vonds, indien dit wel op ’n godsdiensvorm sou dui, die mensdom se oudste sou wees, is ook omstrede. In die Wonderwerkgrot in die Noord-Kaap is ’n deel wat die vorm van ’n “kapel” aanneem, en waarheen die inwoners van ongeveer 2 miljoen jaar gelede byvoorbeeld kristalle aangedra het. Sommige navorsers meen dit kan ook op ’n religieuse bewuswording dui, terwyl ander niks daarvan wil weet nie.

Omdat geen menslike of mensagtige oorblyfsels nog in die Wonderwerkgrot gevind is nie, word aanvaar dat die bewoners tot Homo erectus behoort. Indien Erectus dieselfde as Homo ergaster is – soos baie beweer – is dit waarskynlik ’n regstreekse voorsaat van die moderne mens en ook ander soos die Neandertal. Baie paleontoloë meen Naledi is eintlik dieselfde as Erectus.
Wat belangrik is, is dat die Naledi-vonds vir Teïstiese Christene en Christen-wetenskaplikes geen “nuwe verwarring” skep nie en steeds gemaklik in die evolusiebos pas – dat dit hoogstens ’n takkie of twee byvoeg terwyl nog op talle ander gewag word. Die Heil lê immers nie in die skepping (die presiese hoe) nie, maar die Herskepping (Wederkoms).  Wetenskaplikes én Christene streef immers na eerlikheid.

(Herman Toerien, lidmaat van Gemeente Bloemfontein-Wes, het al vir sowat 30 publikasies geskryf, en is die outeur van die e-boek Die reine waarheid en ander liegstories. Hy skryf die afgelope dekade elke weekdag nuuskommentare, onder meer vir radiostasies.)