Die Hervormer

Die gebeure ná 31 Oktober 1517

31 Oktober 1517 staan bekend as die datum wat die groot Kerkhervorming ingelei het nadat Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van die kerk van Wittenberg vasgespyker het. Ná hierdie insident het besware teen verskillende aspekte van die Rooms-Katolieke Kerk ook na ander lande in Europa versprei. Die gebeure wat ná hierdie datum gevolg het, word soms vergeet.

In Frankryk het ’n verreikende reaksie gevolg wat selfs tot ná Bartolomeusnag op 24/25 Augustus 1572 voortgeduur het.

Nagmaalstryd
Een van die strydpunte het gegaan oor die sakrament van die Nagmaal. Die Kerkhervormers het sterk op die simboliese betekenis van die Nagmaal gesteun. Hulle het die Nagmaal bedien met die oortuiging dat die brood en wyn slegs simbole is wat gelowiges aan die liggaam en bloed van Christus moet herinner. Die twee simbole het saam die betekenis verkondig van die verlossing wat Jesus aan die kruis gebring het. Vir die Rooms-Katolieke Kerk was hierdie beskouing ’n probleem. Hulle het vasgehou aan die oortuiging dat die brood en wyn Christus word na die eet en drink daarvan.

Die stryd teen die Hervormers het so hewig geraak dat die Sorbonne in Frankryk vir Desiderius Erasmus, Martin Luther, Reuchlin en Lefèvre as die vier groot antichriste van die Kerk bestempel het. Op 15 April 1521 word Luther se leer oor die Nagmaal amptelik deur die Sorbonne veroordeel.

Kort daarna is streng maatreëls teen die hervormingsbeweging ingestel en het die vervolging van die Kerkhervormers uitgebreek. Selfs geskrifte is verbied. Die 1528-uitgawe van die Vulgaat wat deur die beroemde drukker Robert Estienne uitgegee is, is skielik tot verbannestatus verklaar. Op 8 Augustus 1523 is Jean Vallière, ’n geestelike van Meaux, op die brandstapel verbrand. Daarna het die aanslag en vervolging van die Kerkhervormers in felheid toegeneem.

Geskrifte verbied
Al meer publikasies van die Kerkhervormers is verbied of verbrand. In 1531 het Luther ’n uiteensetting van die Onse Vader, die Apostolicum en die tien gebooie laat verskyn in reaksie op ’n wydingsboekie wat die Rooms-Katolieke Kerk uitgereik het. Die werk van Luther is erg gekritiseer. In nog ’n insident is ’n digbundel van Marguerite d’Angoulême, wat met die koning van Navarre hertrou het, in 1933 as kettery verklaar en is groot dele daarvan gesensor.

Gedurende dieselfde jaar het Nicolas Cop, die seun van die koning se mediese dokter, en rektor van die Universiteit van Parys, ’n rede na aanleiding van Matteus 5: 3 gelewer. Hy het klem gelê op die regverdigmaking wat deur geloof verkry word, in weerstand teen die geloof dat mense op grond van die doen van goeie werke verlos sal word. Cop se rede is daarna erg gekritiseer. Die Fakulteite van Kunste en Geneeskunde het vir hom in die bres probeer tree. Daarteenoor het die Fakulteite vir Regsgeleerdheid en Teologie ’n saak teen Cop aanhangig gemaak en op sy onmiddellike afsetting aangedring. Aanvanklik het hy hom op sy universitêre immuniteit beroep, maar op advies besluit om nie op die parlementêre uitspraak te wag nie en uit die stad gevlug.

Terselfdertyd het een van Cop se vriende, Johannes Calvyn, ook gevlug. Die vermoede bestaan dat Calvyn die preek opgestel het wat Cop as rede gelewer het. ’n Gedeelte in die preek wat handel oor Christelike pligte is letterlik uit ’n geskrif van Erasmus geneem, terwyl Luther se interpretasie van Matteus 5: 3 ook gebruik is.

Etienne de la Forge
’n Groot wending die daaropvolgende jaar het tragiese gevolge vir die Kerkhervormers gehad. Gedurende die nag van 17/18 Oktober 1534 is beswaarskrifte teen die sakrament van die Nagmaal anoniem versprei. Die geskrif is selfs op die koning se kamerdeur in Amboise aangebring. Dié optrede het tot groot verontwaardiging by die koning gelei. Hy het dadelik opdrag gegee dat die vervolging van die Kerkhervormers moet verskerp. Aan die begin van 1535 het hy ’n mis laat plaasvind en by dié geleentheid ses Hervormers wat as ketters bestempel is, laat verbrand.

Kort daarna het Etienne de la Forge, ’n goeie vriend van Calvyn, ook op 15 Februarie 1535 op die brandstapel gesterf. Hy is ter dood veroordeel vir sy Lutherse geloofsoortuiging in die diskussie oor die Nagmaal.

Baie Hervormingsgesindes het daarna uit Frankryk gevlug. Die koning het daarna aangekondig dat hy amnestie sal toestaan aan diegene wat binne ’n bepaalde tyd van hul “kettery” sal afsien.

Na Oostenryk en verder
Die stryd van die Kerkhervormers het ook na Oostenryk uitgebrei. Op 17 September 1524 is Kaspar Tauber onthoof. Hy was die eerste martelaar in Wenen. Die aanklag wat teen hom ingebring is, was gebaseer op sy oortuiging dat elke gelowige ook oor priesterskap beskik. Verder het hy in die Switserse Hervormer Huldrich Zwingli se oortuiging oor die Nagmaal gedeel. Tauber se familie was bekommerd oor sy standpunt en het probeer om hom daarvan te laat afsien, maar hy wou nie. Ná sy dood het Luther in ’n brief groot lof uitgespreek vir Tauber se standvastige oortuiging en geloof.

Baie adellike families het hul steun aan Luther gegee en onderneem om slagoffers te beskerm. Hul onderneming het egter nie ten volle geslaag nie. In 1527 is Leonhard Käser, ’n voormalige burgemeester van Waizenkirchen, onderweg na Wittenberg gevang en as ketter op die brandstapel verbrand.

Die Kerkhervorming het ook uitgebrei na ander dele in Europa: die Skandinawiese lande, Pole, Swede, Finland, Hongarye, die Baltiese lande, om maar enkele te noem. Na die weste van Europa het die Hervorming ook Engeland en Skotland bereik.

Die behoefte aan ’n evangeliese herlewing is deur die Rooms-Katolieke Kerk onderskat. Aanvanklik is in feitlik al die Europese lande die “ketterse” boeke van Luther verbied. Daardie verbod het egter tot sluikhandel gelei, en sy boeke is die land ingesmokkel.

Mense wat as martelaars vir die geloof gesterf het, het sterk tot die groei van die evangeliese Kerkhervorming bygedra. Een van die belangrike resultate van die Kerkhervorming en van die aksies om die proses gestuit te kry, is dat ’n groot aanvraag ontstaan het na die Nuwe Testament van Erasmus en dié van Tyndale. Mense wou self ’n opinie vorm en die Evangelies oor Jesus lees. Op hierdie wyse het nie net ’n ywer na geletterdheid losgebreek nie, maar is die Kerk se teologiese raamwerk ook radikaal geraak.

’n Verdere uitvloeiing van die Reformasie was dat die Rooms-Katolieke Kerk ook met ’n reformasie in eie geledere begin het wat in Protestantse kringe bekend geraak het as die Kontra-reformasie, en in Rooms-Katolieke kringe as die Restourasie.

Die stryd het egter voortgeduur tot in die 17de eeu en het tot verskeie godsdiensoorloë gelei. Die groot uitkoms van die Reformasie was egter onder andere dat die Bybel in gelowiges se huise tuisgekom het.