Die Hervormer

Godsbeelde of mensbeelde?

In die Augustus 2015-uitgawe van Die Hervormer het prof Juliana Claassens geskryf oor Godsbeelde wat saak maak. Hierdie skrywe van dr Stephan Hoffman dien as repliek daarop.

Ons kan God nie omvat met ons beperkte begrip nie, daarom is alles wat ons oor God sê in ’n sekere sin voorlopig. Die beste wat ons kan doen, is om met metaforiese taal iets van ons ervaring van God se openbaring aan ons te beskryf. Ons begrip van wie God is, is gelukkig nie net begrond in ons eie ideologieë, ervaring en agtergrond nie, maar ook in die getuienis van die Bybel.

Gelukkig het ons die Bybel wat mense se getuienis van die wonderbaarlike openbaring van God aan ons betuig in die taal en metafore van hul tyd. Wanneer hierdie getuienis oor wie God is versmelt met die verstaanshorisonne van ons eie konteks, ervaar ons ten spyte van die diskontinuïteit in terme van taal, kultuur en werklikheidsverstaan ’n kontinuïteit met die getuienis van die teks, waarby ons eie nederige verwondering gevoeg word in die belydenis dat ons ook glo in hierdie God wat deur die geskiedenis heen geopenbaar word aan nietige mense.

Die kontinuïteit setel juis daarin dat ons met verwondering ontdek dat hierdie God waarvan die Ou Testament op verskillende maniere getuig, dieselfde God is wat aan ons geopenbaar is in Jesus Christus, en ook dieselfde God is wat ons in elke oomblik en asemteug ontmoet deur die werking van die Heilige Gees. Dit setel ook in die geloof dat hierdie selfde God ons tegemoet kom vanuit die toekoms waarheen ons saam met God op pad is.

Die Bybel gebruik wel verskeie metafore om oor God te praat. Soms is dit metafore waarvan ons hou, omdat dit resoneer met ons eie ervaringsveld en begrip van wat aangenaam of goed is. Soms is dit egter metafore waarvan ons nie baie hou nie. Wie geniet dit nou om te hoor dat God soos ’n Regter op ’n troon is wat die sonde straf? Tog gebruik die Bybel soms hierdie beelde van wie God is, natuurlik binne ’n bepaalde konteks om iets oor God se aard te probeer verwoord. In dieselfde sin word Jesus ook op verskeie maniere beskryf, en die beeld wat ons van Hom in een Evangelie kry, verskil soms radikaal van die ander.

Ons moet daarteen waak om te kies vir ’n enkelvoudige begrip van wie God of die mens is en dan alle ander perspektiewe af te maak vanuit ons eie ervaringsveld. Die feit is dat niemand werklik op ’n enkelvoudige wyse beskryf kan word nie. Dink maar net aan u eie ouers, hoeveel verskillende maniere is daar om oor hulle te praat, sonder dat die een beskrywing noodwendig die ander uitsluit?

Die beelde waarvan ons nie hou nie, is dalk juis die beelde wat ons eie idee van God en menswees wil temper. As ek byvoorbeeld nie ’n goeie indruk van ’n vrou het nie, kan die beelde van God as vrou wat sorg en troos natuurlik help om my begrip van ’n vrou te verander. Dieselfde geld natuurlik ook van die begrip van God as man. Indien ek dalk ’n negatiewe assosiasie met ’n vaderfiguur het, help die beelde van God as liefdevolle beskermende vader my om daardie konsepte vanuit my eie ervaringsveld te verander.

U sien, ons eie ideologie, of dit nou Chauvinisme, Feminisme, Kapitalisme of Kommunisme is, word nie die norm aan die hand waarvan ons ons Godsbeelde of mensbeelde aanpas nie, dit werk eerder andersom. Die Bybel se beelde oor God wat aan die een kant liefdevol, genadig en versorgend is en ook tegelyk aan die ander kant die sonde haat, straf en oordeel, sluit mekaar nie uit nie, maar poog om vanuit verskeie perspektiewe iets van die wonder en dinamika van wie God is, te laat blyk.

Ons kan eenvoudig nie die fout maak om ons beeld van God te laat reduseer deur blote humanisties gedrewe individualisme, wat God wil beperk tot ons eie ervaringsveld nie. Die resultaat van so ’n benadering sal ’n stuk egosentriese selfsug wees, waar God en ons begrip van God moet aanpas by dit wat ons van God wil weet, ervaar of sê. As ons dit doen, sal ons met ’n enkelvoudige mensbeeld van wie God is opeindig, gevorm deur ons eie konstrukte en persepsies, afgeëts deur dit waarvan ons hou en waarvoor ons lief wil wees. Ons kan ook nie net een aspek van God se geopenbaarde aard uitlig as die enigste enkelvoudige waarheid nie. Indien ons dit doen, verskraal ons die rykdom van beelde waarmee God beskryf word en moet ons noodwendig sekere beelde verwerp.

Wat eerder met ons moet gebeur, is dat ons stereotipes van hoe ’n vrou en ’n man is, moet verander. As ons byvoorbeeld waardes soos omgee, sorg en versorging net met ’n vrou assosieer as gevolg van ons eie verwronge ervarings of ideologie, moet daardie konsepte aangepas word om ook te kan verstaan dat hierdie waardes net so tipies is van ’n man.

Die feministiese teologie het ons wel daarop gewys dat ons nie slegs manlike beelde van God moet gebruik in ons refleksie nie en dit is waar, maar die totale negatiewe voorstelling van mans hou die gevaar in dat alle voorstellings van God as man en vader ook as negatief beskou kan word. ’n Uitspraak soos dié van Mary Daly, If God is male, male becomes God, is ’n duidelike voorbeeld van so ’n wanbalans in teologiese refleksie. Dan moet ons die feministiese teoloog daarop wys dat sy of hy dieselfde fout maak as waarteen daar geveg word. Mans het veral in ons tyd en in ons land ’n massiewe uitdaging om te midde van die omstandighede in ’n positiewe lig waardeer te word. Ons moet nie die Bybel misbruik om hulle nog verder af te kraak vanuit ons eie ideologies gedrewe perspektiewe nie.

’n Gebalanseerde teologiese perspektief kan die verskillende metaforiese voorstellings van God in die Bybel omarm, sonder om aan die een kant ons eie ideologies gedrewe beelde in die tekste te probeer inlees (deur God byvoorbeeld as ’n swart vrou voor te stel), en sonder om aan die ander kant een van die beelde te verabsoluteer as die enigste manier om aan God te dink (soos om God net as ’n man voor te stel). God is baie meer as wat ons Godsbeelde kan beskryf, daarom moet ons die veelheid van metafore in die Bybel erken, saam laat spreek en daaruit leer.