Die Hervormer

Die Heilige Gees en ons besluit

In Handelinge 15 lees ons van die eerste algemene kerkvergadering, toe die apostels en ouderlinge in Jerusalem vergader het om oor die verkondiging van die evangelie aan die heidene te praat en te besluit. In vers 28 lees ons die merkwaardige woorde: Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie...

Ons almal verstaan dat die kerk net een Hoof en Heer het, dit is Jesus Christus. Christus is die ewige Koning wat deur die Woord en Gees oor sy kerk regeer. Maar God roep ook mense tot sy diens. Elke Christen is ’n geroepe priester en profeet wat diensbaar leef en getuig. Sommige lidmate dien ook in besondere ampte, soos diakens, ouderlinge en predikante.

Wanneer ampsdraers van die kerk in vergaderings byeenkom, is dit nie ’n demokratiese volksvergadering nie. Die kerk is nie ’n demokrasie nie, dit is ’n Christokrasie. Daarom is elke afgevaardigde na ’n Algemene Kerkvergadering moreel verplig om noukeurig te luister na die Woord en te bid om die leiding van die Heilige Gees, sodat ons met oortuiging kan verklaar: Die Heilige Gees en ons het besluit...

’n Kleiner AKV
Hierdie belangrike geloofsbeginsel vra dat ons ook krities sal kyk na die funksionering van ons kerklike vergaderings. Oor baie jare was daar al pogings om die AKV te verklein. Dit het telkens misluk omdat die gevoel was dat elke gemeente op die AKV verteenwoordig moet word. Die AKV het met tyd die karakter van ’n “volksvergadering” aangeneem wat op demokratiese wyse meerderheidsbesluite neem.  

Daar is voor- en nadele verbonde aan die huidige samestelling van die AKV. Voordele sluit in sake soos inklusiwiteit, sigbare eenheid, gedeelde verantwoordelikheid en inspraak van ’n groot getal ampsdraers. Nadele is die hoë koste verbonde aan so ’n groot vergadering, lomp funksionering, beperkte deelname omdat die meeste afgevaardigdes net toeskouers is en die gedagte dat afgevaardigdes op ’n demokratiese wyse hul gemeentes verteenwoordig.  Tans vaardig elke gemeente een ouderling af na die AKV, wat beteken dat 290 ouderlinge en sowat 300 predikante sitting neem. Die AKV bestaan gewoonlik uit ongeveer 550 afgevaardigdes.

Hierdie samestelling van die AKV is redelik uniek in die reformatoriese wêreld. In die lig van die vorige AKV se opdrag aan die Kommissie van die AKV om koste te bespaar en meer effektiewe besluitnemingsprosesse te implementeer, is die opdrag aan die komitee wat werk aan die herskrywing van die Kerkorde om met voorstelle vorendag te kom om die AKV te kan verklein. Die normale wyse waarop sinodale vergaderings saamgestel word, is deur middel van trapsgewyse afvaardiging. Trapsgewyse afvaardiging in die Hervormde Kerk sou beteken dat gemeentes na ringsvergaderings afvaardig en ringsvergaderings na die AKV. Gemeentes van die Hervormde Kerk is tans by 38 ringsvergaderings ingedeel. Een moontlikheid wat ondersoek word, is dat die AKV saamgestel word uit 38 ringskommissies, wat die getal na 190 verminder. Indien dit sou realiseer, beteken dit dat die AKV met gemak in ’n kerkgebou gehuisves kan word. 

Ouderlinge en diakens saam
’n Verdere vraag wat beantwoord moet word, is of die diakens en ouderlinge nie weer soos voor 1997 in een vergadering moet sitting neem nie. Dit sou beteken dat aparte ouderlinge- en diakensvergaderings in gemeentes, ringe en sinodaal wegval. Dit kan vervang word met ’n vereenvoudigde struktuur van ’n kerkraadsvergadering, ringsvergadering en AKV. Indien daar terugbeweeg word na saamgestelde vergaderings van die ampte, sou elke gemeente ook diakens na ’n ringsvergadering kon afvaardig en sou die ringskommissie uit twee predikante, drie ouderlinge en drie diakens saamgestel word. Dit sou impliseer dat as die AKV saamgestel word uit ringskommissies, 114 diakens op die AKV sitting kan neem, wat die totale getal afgevaardigdes na 304 verhoog, wat nog steeds ongeveer die helfte van die huidige getal is. Bogenoemde is maar een moontlikheid wat bedink kan word.

Ander moontlikhede is om afvaardiging te doen aan die hand van die getal lidmate in ’n ring – wat beteken dat ringe met ’n groter getal lidmate meer persone kan afvaardig. Dit bou egter weer op ’n meer demokratiese beginsel.

Sinvol om te roteer?
’n Ander belangrike aspek van kerklike vergaderings wat weer oorweeg moet word, is die rotasiebeginsel. Hoewel ’n mens tot elke prys outokratiese leiers wat vasklou aan posisies wil vermy, is die aanduidings tog daar dat die effektiwiteit van vergaderings verlore gaan met ’n voortdurende wisseling in leierskap. Vaardighede wat oor tyd opgebou is, gaan daardeur verlore.

Die verskillende voorstelle sal voor die einde van die jaar aan gemeentes gesirkuleer word vir kommentaar en uiteindelike besluit by ’n volgende AKV in 2016.

Om terug te keer na die besluit van die 70ste AKV dat gekyk moet word na bekostigbaarheid, volhoubaarheid en ’n nuwe kerkmodel, wat besluitnemingsprosesse insluit, het die Kommissie reeds begin om die besluitnemingsprosesse op sinodale vlak te vereenvoudig en vinniger te maak. Wat baie help met dié proses, is die besluit van die AKV om aan die Moderamen afhandelingsbevoegdheid te gee ten opsigte van sekere sake. Dit beteken dat sake nie meer vir drie maande oorstaan tot met ’n volgende vergadering van die Algemene Kommissie nie. Die Moderamen het opdrag gekry om spesifiek aandag te gee aan die welstand van gemeentes en predikante. Die Moderamen kan dit spoedeisend afhandel en doen dit met die hulp van die Welstandsprogram en die Hervormde Teologiese Kollege.

Kostebesparing
Die Kommissie het ook besluit om van die groot getal sinodale rade ontslae te raak. Dit het in die eerste jaar reeds ’n besparing van bykans R100 000 bewerkstellig. Tans aanvaar die lede van die Algemene Kommissie verantwoordelikheid vir geïdentifiseerde diensvelde in samewerking met rade wat deur die AKV aangewys is of kernkomitees wat deur die Algemene Kommissie aangewys is.

Die volgende diensvelde is deur die Kommissie van die AKV geïdentifiseer en baie aandag word aan die ontwikkeling en herstrukturering daarvan gegee:

  • Gemeentelike bediening (in oorleg met die HTK).
  • Kerk in die wêreld (in oorleg met die ADV).
  • Finansies (in oorleg met die Raad van Finansies).
  • Kerklike dissipline (in oorleg met die Raad vir Kerkregtelike Advies).
  • Teologiese opleiding (in oorleg met die Kuratorium).
  • Kommunikasie en inligting (in oorleg met die Raad vir SENTIK).
  • Ekumeniese skakeling (waarvoor die Moderamen verantwoordelikheid aanvaar).

Die nuwe benadering tot sinodale bestuur het reeds daartoe gelei dat al die opdragte van die 70ste AKV afgehandel is en dat nou gereed gemaak word om die inligting in die Kerk te sirkuleer vir bespreking en terugvoer. Dit is vir die Kommissie van die AKV van uiterste belang dat lidmate en ampsdraers deelneem aan die gesprek en aan die Kommissie terugvoer sal gee. Dit sal die 71ste AKV se sinvolheid en waarde verhoog.