Die Hervormer

Hoop sterf laaste

Die Duitsers gebruik dikwels ’n spreekwoord wanneer hulle vir mekaar vra hoe dit gaan: Die Hoffnung stirbt zuletzt. Dit beteken letterlik: Hoop sterf laaste. In Afrikaans sê ons: Waar daar lewe is, is daar hoop.

Ek is nie heeltemal oortuig dat hierdie twee spreekwoorde dieselfde ding sê nie. Die Afrikaanse spreekwoord impliseer dat jy nie moet moed opgee voordat jy jou laaste asem uitgeblaas het nie. Eers wanneer jy gesterf het, kan jy ophou hoop. Ek dink egter dis andersom. Waar daar hoop is, is daar lewe! Die hoop sterf laaste! Sonder hoop is daar eintlik nie ’n kwaliteitlewe moontlik nie. 

’n Amerikaanse navorsingsprojek oor die invloed van hoop op pasiënte wat ernstig siek is, toon aan dat hoop die noodsaaklikste element van herstel is. Medikasie, terapie en chirurgie sonder hoop by die pasiënt, het weinig effek. Die navorsing toon duidelik aan dat mense wat hoop het, baie vinniger en makliker herstel. Die gevolgtrekking van die ondersoek is dat hoop belangriker is as enige medisyne of enige mediese prosedure. 

Spesialiste op die terrein van positiewe emosies beweer dat hoop te doen het met verskillende fasette van ons menswees. Eerstens is daar ’n kognitiewe, rasionele denkproses wat veroorsaak dat ons ’n stel vaste oortuigings het wat bepalend is vir ons siening van die toekoms. Hierdie vaste kernwaarhede word gevorm deur ons ervarings uit die verlede, ons opvoeding en geloofsoortuigings. Dit is soos ’n bandopname wat oor en oor in ons onderbewussyn afspeel. Dit wat jy in jou lewe geleer is en beleef en ervaar het, beïnvloed die deuntjie wat oor en oor gespeel word. 

Die deuntjies wat mense hoor, verskil van mekaar: Ek kan niemand vertrou nie; mense is daarop uit om my te benadeel; God is ’n God wat oordeel; niemand het my lief nie. Of: Mense ondersteun my en het my lief; God is in beheer en sorg vir my; God vergewe en is genadig. Hierdie kernoortuigings beïnvloed my verwagting oor die toekoms en veroorsaak óf ’n positiewe gevoel van hoop, óf ’n negatiewe pessimisme. Dit gebeur intuïtief. Ek besluit nie doelbewus of ek hoop het vir die toekoms of nie. Ek ervaar dit intuïtief, onbewustelik, omdat die bandjie wat oor en oor speel, my daarvan oortuig het. Hierdie deuntjie wat in my speel, is veral ook beïnvloed deur dit wat ek van God geleer het. 

Paulus is een van die skrywers in die Nuwe Testament wat doelbewus die refrein in ons onderbewuste oor God en die toekoms wil beïnvloed. Hy herhaal sekere dinge oor en oor sodat dit in ons gedagtes moet vassteek en ons dit nooit sal vergeet nie. Dis soos iemand wat kinders die ABC wil leer. Kinders, sê agter my aan: A is vir Appel, B is vir Beer, C is vir .... Sonder hierdie herhaling om die basiese fondament van taal te leer, sou lees en skryf baie moeilik wees. Alhoewel volwassenes nie meer doelbewus daaraan dink dat B vir Beer is nie, is dit iets wat van kleins af in ons gedagtes ingeprent is. As ek die simbool B sien, dan weet ek dit stel die klank B voor, omdat ek dit tot vervelens toe geleer is toe ek nog klein was. 

Paulus wil vir ons ’n soortgelyke klank leer wat ons nooit sal vergeet nie. Dit moet so in ons gedagtes vassteek dat ons nie daaroor dink nie, maar dat dit iets is wat deel van ons lewe is. Paulus sê: …die hoop beskaam nie (Rom 5: 5). Hy leer ons: H staan vir Hoop. Paulus gebruik die tegniek wat onderwysers al vir jare gebruik om kinders te leer. Hy begin by daardie bandopname van jou oortuigings wat in jou onderbewussyn afspeel. Hy wil ons daarvan oortuig dat daar ander kernwaarhede is wat ons op die bandopname moet opneem.  Die eerste kernwaarheid is: God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Hy wil hê ons moet iets onthou wat in die verlede gebeur het en wat van beslissende betekenis vir ons lewe is. Dit het klaar gebeur, dit is verlede tyd, dit is afgehandel, dit kan nie verander nie, ons hoef nie daaraan te twyfel nie. God het ons vrygespreek. God is genadig. Hy vergewe, Hy spreek vry, Hy herstel die verhouding tussen God en mens. Sonder dat ons iets hoef te doen, kry ons deel daaraan, ons moet dit net glo. Dit moet so in ons geheue ingeprent word dat ons nie daaroor sal twyfel nie. 

Wat meer is, sê Paulus, ons het vrye toegang tot God deur die genade waarin ons vasstaan. Ek hoef nie God se guns te probeer wen sodat Hy na my sal luister nie. Ek kan te enige tyd, soos wat ek is, na God toe gaan. Ek mag ook met my bekommernis, nood en twyfel na Hom toe gaan. Hy sal dit verstaan en my verseker van sy genade. 

As jy dit weet, as jy dit glo, as dit die refrein is wat jy voortdurend hoor, verander dit intuïtief jou siening oor die toekoms, dit skep ’n nuwe verwagting. Paulus sê ons kan ons oor hierdie hoop verheug, want ons weet dat die volle heerlikheid van hierdie verhouding met God in die toekoms vir ons bestem is. Dit is soos ’n kettingreaksie. Die een lei tot die volgende. Die sekerheid dat God hier is, bring hoop; die hoop bring vreugde en verwagting. Dit is nie al nie, sê hy. Hierdie hoop maak dit moontlik dat jy selfs in swaarkry verheug kan wees. Hy gee nie ’n valse hoop aan mense nie. Hy is realsities. In hierdie gebroke, sondige wêreld waarin ons leef, sal daar altyd swaarkry wees. 

Daar is sekere charismatiese groepe wat selfs in ons tyd aan mense ’n voorspoedgeloof verkondig. As jy glo, verdwyn jou bekommernis en swaarkry. Nee, sê Paulus, wat wel gebeur, is dat jy, terwyl jy swaarkry, nog bly en verheug kan wees omdat jy weet dat jou toekoms by God berus en dat niks en niemand dit tot niet kan maak nie. Swaarkry is volgens hom nie negatief nie. Swaarkry kweek volharding en egtheid van geloof. Swaarkry kan ’n positiewe uitwerking hê. Dit bring volharding, dit laat jou aanhou. Dit kan ook anders vertaal word: Dit gee jou karakter, dit maak jou sterk, standvastig, ryp, wys.  

Ons ken almal sulke mense wat deur swaarkry, lyding en beproewing moes worstel. Terwyl jy swaarkry, maak dit dikwels nie sin nie, maar as jy daardeur is, is jy sterker, ryper, het jy karakter. Hulle kon deur die swaarkry kom omdat die refrein die heeltyd homself herhaal het. Dan word dit ’n sirkel, dit kweek en versterk weer jou hoop, want dit het jou geleer dat jy op God kan vertrou, dat Hy jou deur die swaarkry gedra het. Dan bring die sekerheid weer nuwe hoop: ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort... Die woord uitgestort word ook gebruik vir ’n reënbui wat val. Die liefde van God is soos ’n reënbui in jou hart wat dit skoonwas en die hoop laat groei.

In die Houston Chronicle het ’n artikel verskyn oor Itzhak Perlman. Kenners van klassieke musiek sal weet dat hy ’n wêreldbekende violis is. Hy het op 15 November 1995 op die verhoog verskyn vir een van sy konserte. Om bloot op die verhoog by sy sitplek te kom, was al vir hom ’n grootse poging. Hy het as kind polio gehad en het gevolglik beenstutte aan albei bene gedra, en het boonop geloop met twee krukke. Om hom oor die verhoog stadig en met groot moeite te sien loop, was al ’n onvergeetlike ervaring. As hy by sy stoel kom, moes hy eers die krukke neersit, dan die beenstutte afhaal, voordat hy kon regskuif en sy viool optel. Dan kon hy vir die dirigent knik dat hy gereed is om te speel, maar hierdie keer het daar iets skeefgeloop. Hy het skaars die eerste paar note gespeel, toe breek een snaar van sy viool. Die gehoor het na hul asems gesnak en gewonder wat hy nou gaan doen.  Almal het verwag dat hy eers weer die hele proses moet herhaal om die beenstutte aan te sit en dan met die krukke af te loop om die snaar te herstel of ’n ander viool te gaan haal.

Maar hy het nie. Hy het vir ’n oomblik gewag, sy oë toegemaak, en toe vir die dirigent geknik om te begin. Die orkes het begin speel en hy het ingeval. Hy het met soveel passie en suiwerheid gespeel soos nog nooit tevore nie. Almal weet dat dit onmoontlik is om ’n simfonie te speel met net drie snare op jou viool. Almal weet dit, maar dié aand het Itzhak Perlman verseg om dit te weet. Hy het gespeel, geïmproviseer, geherkomponeer. Dit het geklink of hy die snare so stryk dat die viool nuwe klanke na vore bring wat dit nooit gehad het nie. Na afloop van die konsert het die mense hom staande toegejuig. Hulle het hom nog nooit so hoor speel nie. Hy het sy kop in erkenning gebuig, die sweet afgevee en gesê: Somtyds is dit die kunstenaar se taak om uit te vind hoeveel musiek jy kan maak met dit wat jy nog oorhet. H staan vir Hoop.

Dit is om te kan hoop, om te kan improviseer, verander, moduleer en voort te gaan met ons lewe, al is daar net drie snare oor. Jy kan ’n simfonie voltooi met dit wat jy het. Dit lyk vir my die Bybel wil ons denke verander om nié te sê ...waar daar lewe is, is daar hoop... nie, maar liewer: ...waar daar hoop is, is daar lewe! H staan vir Hoop, en Hoop staan vir lewe.

(Dr Anet Dreyer-Krüger is leraar in Gemeente Rustenburg-Suid)