Die Hervormer

Sinodale offergawes en sentrale vergoeding

Gemeentes van die Hervormde Kerk het ’n sterk onderlinge band met mekaar. Hierdie band is onder meer in Ordereël 2 van die Kerkorde gevestig. Dit sê dat gemeentes die plaaslike gestaltegewing van die Kerk is. Dit beteken dat ’n gemeente die gesig van die Hervormde Kerk in ’n bepaalde dorp is, en dat al die gemeentes saam die Hervormde Kerk vorm.

Ons sien in die praktyk iets van hierdie band met mekaar waar gemeentes mekaar se lidmate aanvaar en versorg, kombinasies aangaan om die evangelie te verkondig en verantwoordelikheid aanvaar vir mekaar se finansiële welstand. Laasgenoemde gebeur byvoorbeeld waar die groter gemeentes die kleiner gemeentes subsidieer ten opsigte van pensioenfondsbydraes. Dit gebeur ook waar gemeentes deur sinodale offergawes die strategiese bediening van ander gemeentes help bekostig en oorbruggingskapitaal ten opsigte van debiteure voorsien.

Die vraag ontstaan tot watter mate dit heilsaam vir die Hervormde Kerk in geheel is dat gemeentes finansieel vir mekaar instaan. Hierdie vraag is op 6 Augustus tydens ’n werkwinkel van die Raad van Finansies, wat deur sowat 60 mense bygewoon is, aan die orde gestel. Twee spesifieke vrae is gevra. Die eerste is of dit ’n gesonde beleid sou wees dat gemeentes saam verantwoordelikheid aanvaar vir die traktering van al die gemeentepredikante (sentrale vergoeding). Die tweede is of sommige gemeentes nie ’n groter koste behoort te dra ten opsigte van sinodale dienste wat gelewer word nie (alternatiewe heffing).

’n Gemeente in ’n klein dorpie

Ek ry onlangs deur ’n klein dorpie waar die gemeente sowat ’n jaar gelede ontbind het. Dit is opvallend dat die gemeenskap groot demografiese veranderinge ondergaan het, maar dat daar heelwat behoefte aan bediening moet wees. Die kerkgebou is verkoop, die lidmate het elders ingeskakel (of nie!) en die predikant moes vroeg emeriteer. Ek wonder toe of dit nie sinvol sou wees dat al die gemeentes van die Kerk saam verantwoordelikheid vir die bediening in die dorp moes aanvaar nie. As almal saam die dominee se traktement en die ander dienste aan die gemeente kon betaal, sou die gemeente kon voortbestaan.

Dit bly ’n mooi ideaal om mekaar se laste te dra. Maar is dit haalbaar en die beste of die enigste oplossing? Daar is so baie gemeentes wat dieselfde lot met hierdie gemeente deel.

Sentrale vergoeding

Die eerste gesprek tydens die werkwinkel het oor sentrale vergoeding gehandel. Ds Dries Beukes het die gesprek ingelei. Hy het ’n kort agtergrond gegee van die gesprekke wat in die verlede hieroor plaasgevind het, en enkele positiewe en negatiewe aspekte van sentrale vergoeding uitgelig. Hierna is die byeenkoms in kleingroepe verdeel om die vraagstuk te bespreek.

Uit die terugvoer was dit duidelik dat dit vir baie gemeentes uiters moeilik is om hul predikante se traktemente te bekostig. Die gemeentes is lief vir hul predikante, maar dit is nie altyd moontlik om hulle billik te versorg nie. Aan die ander kant was daar ook predikante wat vertel het hoe swaar dit vir hulle is om finansieel te oorleef. Heelwat jong predikante moet met ’n onleefbare traktement oor die weg kom, en sommige van die ouer predikante moet teen ’n hoë prys vroeg emeriteer om te oorleef.

Tog was die algemene mening dat, ten spyte van die mooi ideaal, dit nie haalbaar is om predikante sentraal te vergoed nie. ’n Vinnige optelsom wys dat twee-derdes van die Kerk se gemeentes minder as 300 lidmate het. Die derde met meer as 300 lidmate sal dit baie moeilik vind om addisioneel by te dra, aangesien hierdie groep gemeentes net te min is en heelwat van hulle ook net-net kop bo water hou. Net 4% van die Kerk se gemeentes het meer as 800 lidmate.

Berekeninge van die Raad van Finansies toon daarby dat kleiner gemeentes ook nie konsekwent bevoordeel sal word deur sentrale vergoeding nie. In een klein gemeente se geval sal sentrale vergoeding die gemeente R98,020 per jaar ekstra kos. Maar dit sal ook groot gemeentes se volhoubaarheid benadeel. Een groot gemeente se totale koste aan traktemente beloop tans net minder as R500,000 per jaar. Met sentrale vergoeding sal dit die gemeente R1,929,400 per jaar kos. Dit is onwaarskynlik dat hierdie gemeente dit kan bekostig.

Hoe is dit moontlik dat sowel groot as klein gemeentes benadeel word? ’n Logiese afleiding is dat baie predikante nie meer teen skaal vergoed word nie. Gemeentes moes die versorging van hul predikante by hul vermoë aanpas.

Buiten vir die feit dat die somme nie klop nie, sal die sinodale dienste wat gelewer word ook uitgebrei moet word, aangesien die verantwoordelikheid van die werkgewer vanaf die gemeente na die Kerk sal oorgaan. Dit vergroot risiko’s en sal duurder dienste tot gevolg hê.

Dit lyk dus of daar net te veel uitdagings is om sentrale vergoeding ’n werklikheid te maak. Die werkwinkel was redelik eenstemmig daaroor.

Alternatiewe heffingstelsel

Daar is verskeie dienste wat gemeentes saam bekostig. Dit sluit dienste in soos die opleiding en toerusting van predikante en lidmate, hulp aan gemeentes, fasiliterings- en begeleidingsdienste, administratiewe ondersteuning, diakonale dienste en ondersteuning ten opsigte van strategiese bediening. Die koste hieraan verbonde word gelykop tussen die aantal lidmate in die Kerk verdeel. Ons noem dit sinodale offergawes. Sommige gemeentes vind dit moeilik om hierdie bedrag te bekostig.

Die tweede vraag wat by die werkwinkel aan die orde gestel is, was of daar ’n alternatief gevind kan word wat dit moontlik maak dat welvarende gemeentes ’n groter bydrae ten opsigte van die dienste lewer, sodat sukkelende gemeentes ondersteun kan word.

Mnr Elmar Struwig het as inleier hieroor opgetree. Die lede van die werkwinkel was redelik eenstemmig daaroor dat ’n alternatief vir die huidige stelsel gesoek moet word. Die vraag oor wat die alternatief moet wees, kon egter nie so maklik beantwoord word nie.

Een moontlikheid wat genoem is, is dat die heffing bereken moet word op grond van ’n gemeente se netto inkomste. Berekeninge toon egter dat so ’n stelsel nie verligting aan die kleiner gemeentes sal bied nie. ’n Gemeente met 250 lidmate se huidige heffing is tans R84,500. Indien die heffing 10% van die omset word, sal dit hierdie grootte gemeentes ongeveer R10,500 meer kos as wat tans die geval is.

Daarteenoor sal een van die groter gemeentes in die Kerk se bydrae volgens die stelsel sowat R100,000 minder wees. Die groter gemeente word dus bevoordeel en die kleiner gemeente benadeel.

Die moontlikheid is ook genoem dat die heffing op grond van gemeentes se grootte bepaal moet word. Aangesien daar min groot gemeentes is, sal dit ook nie die nodige verligting bring nie. Volgens een model sal kleiner gemeentes sowat R68 verligting per lidmaat kry, en groot gemeentes met tot soveel as R220 ekstra belas word. Dit sal dus ’n baie klein verligting vir die klein gemeentes bied, maar ’n ondraaglike las op sommige groot gemeentes plaas. Die vraag is of dit die Kerk in geheel tot voordeel sou strek.

Die Raad van Finansies het ook die ander moontlikhede wat by die werkwinkel geopper is ondersoek, maar is van oordeel dat dit nie die nodige verligting sal bied nie. Die huidige heffingstelsel is nie volmaak nie, maar na die oordeel van die Raad van Finansies steeds die eenvoudigste en mees haalbare opsie.

Wat het ons by die werkwinkel geleer?

Miskien is die eerste les wat ons geleer het dat daar goeie redes is waarom die Kerk vir soveel jare al die huidige heffingstelsel behou en nie sentrale vergoeding toepas nie.

’n Volgende les is dat die antwoorde nie eerstens in die maak van somme lê nie, maar eerder in die vraag of gemeentes betyds kan aanpas by nuwe omstandighede. Die antwoorde lê dus eerder op sistemiese vlak. Besluit 2 van die 71ste Algemene Kerkvergadering handel juis hieroor. Een van die dienste wat die Kerk lewer, is fasilitering en begeleiding wat deur die Sentrum vir Gemeentelike Begeleiding, onder leiding van dr Frikkie Labuschagne, gebied word. Gemeentes moet aangemoedig word om van hierdie dienste gebruik te maak.

Dit was verder positief om te leer dat daar reeds baie sterk onderlinge sorg tussen gemeentes is. Dit bevestig die unieke band wat ons met mekaar het. Hierin lê heelwat hoop vir die toekoms, en die suksesverhale moet onderling met mekaar gedeel word.

Dit is betekenisvol dat heelwat gemeentes dit reeds kon regkry om by die veranderende omstandighede aan te pas. Nood leer bid, en nood leer aanpas. Dit is bemoedigend, en ons kan heelwat by hierdie gemeentes leer.

Die Raad het opnuut bewus geword van die finansiële uitdagings van gemeentes, en onderneem om steeds te poog om kostes so laag moontlik te hou. Daarby sal die Raad die moontlikheid ondersoek om ’n fonds te skep wat tydelike hulp verleen waar gemeentes worstel met oorgangsbestuur.

Terug na die gemeente in die klein dorpie

Die gemeente in die klein dorpie het ontbind. Ons sal nie weet of dit verhoed kon word nie. Dit is egter duidelik dat die gemeente se beste kans op oorlewing nie primêr daarin gelê het dat die gemeente finansieel meer ondersteun sou word nie, maar  eerder in die vraag of die gemeente aanpasbaar genoeg was. Dit is in belang van elke gemeente, maar ook in belang van die Kerk in geheel, dat gemeentes hierop sal fokus.

Die 71ste Algemene Kerkvergadering het die wyse besluit geneem dat dit in belang van die Hervormde Kerk is dat gemeentes self verantwoordelikheid aanvaar vir die volhoubare bediening in die gemeente se omgewing. Om dit te kan doen, moet gemeentes hul bediening herevalueer en waar nodig aanpas. Die beste hulp wat ons aan mekaar kan verleen, lê nie noodwendig op finansiële gebied nie, maar op terreine soos toerusting, fasilitering, begeleiding en samewerking op grondvlak.

En natuurlik deur voortdurend na die Woord te luister en vir mekaar te bid.

(Ds Colin Hertzog is visevoorsitter van die Kommissie van die AKV,

voorsitter van die Raad van Finansies, en leraar in Gemeente Middelburg-Noord)