Die Hervormer

Die Kerk en ons kerkgeboue

Wat maak ons met die nalatenskap van die vorige generasies – die kerkgeboue wat hulle met harde werk en groot toewyding opgerig het, en die getuienis en voorbeeld wat hulle aan ons voorgehou het?

Ek is in 1989 as predikant georden in Gemeente Kensington (Johannesburg). Dr Daan van Wyk (sr) was voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, en die Hervormde Kerk het 193 890 dooplidmate, 131 697 belydende lidmate en 308 gemeentes gehad – gemiddeld 470 lidmate per predikant. In daardie jaar is 4 363 kinders in ons Kerk gedoop en het 4 693 jongmense belydenis van geloof afgelê. Waar 2 417 lidmate ons Kerk verlaat het, het 3 229 lidmate na die Hervormde Kerk oorgekom – ’n netto groei van 812 lidmate.

Kensington se kerkgebou was bo-op die bult in Troyeville, en die gemeentegrense het ’n wye gebied ingesluit, maar die kern van die gemeente was in die omgewing van die kerkgebou en in Bezuidenhoutsvallei, Jeppestown, en Denver. Dit was ’n klein gemeente met baie ou lidmate wat meestal jare lank in die omgewing gewoon het. Vroeër jare het Gemeente Kensington ook nog die woonstelgebou langs die kerkgebou besit, maar dit is verkoop toe dit onekonomies en onmoontlik begin raak het om te bestuur en in stand te hou. Onder ons buurgemeentes in die ring was Johannesburg Middestad, Brixton en Crosby.

Die gemeenskap in daardie omgewing het toe reeds begin verander. Afrikaanssprekendes het die ou voorstede in die hartjie van Johannesburg verlaat, en al meer anderstaliges het in die omgewing ingetrek. Al die gemeentes in die omgewing het gekrimp. Brixton en Crosby het saamgesmelt tot Gemeente Goudrand. Samesprekings oor samewerking of samesmelting tussen Kensington en Johannesburg Middestad het misluk, deels omdat laasgenoemde gemeente ’n sinodale subsidie gekry het om evangelisasiewerk te doen.

Uiteindelik het die onafwendbare gebeur: Al die genoemde gemeentes het ontbind. Die gemeentes se kerkgeboue is verkoop, want ons het net nie meer genoeg lidmate in die omgewing gehad om die bediening en geboue in stand te hou nie. In die voorstede aan die buitekant van die metropool het die gemeentes gegroei. Dit is waar ons lidmate hulle gaan vestig het, waar die gesinne met jong kinders gaan woon het. En dit is waar die Kerk nuwe geboue moes oprig om ’n kerklike tuiste aan die lidmate in daardie omgewings te bied.

Die proses wat ek destyds in Johannesburg beleef het, het intussen regoor die land ook begin uitspeel. In die meeste groot stede en dorpe trek ons tradisionele lidmate uit die sentrale dorpsgebied. Terselfdertyd brei die grense van die groot dorpe en stede in Gauteng, die Wes- en Suid-Kaap en die Durban-metropool net al verder uit. Die ouer woonbuurte gaan agteruit; die veiligheidslandgoedere ver van die stadskern hou aan groei.

En die platteland ontvolk weens die agteruitgang van die landbou, mynbou, munisipaliteite, posdiens, staatskole en ander sektore.

Daar is nog iets wat ons gemeentes baie hard tref. Die geboortesyfer onder ons lidmate het na 1994 drasties afgeneem. Waar daar tot in 1985 meer as 5 000 babas per jaar in die Hervormde Kerk gedoop is, is daar in 1995 net

1 002 babas in al die gemeentes van die Kerk gedoop. Daardie syfer het vir die volgende 20 jaar meestal tussen 1 000 en

2 000 gewissel en in 2016 tot ’n laagtepunt van 893 gedaal. Gevolglik kwyn ons gemeentes, die kategeseklasse krimp en ons gemeentes het dikwels net nie genoeg jongmense om suksesvol jeugaktiwiteite aan te bied nie.

Dit is nie die dominee se skuld nie. Dit is nie die kerkraad se skuld nie. Dis die gevolg van demografiese prosesse. Ons bevind ons vandag midde-in die tweede groot verstedelikingsproses in Suid-Afrika se geskiedenis. Net soos die Hervormde Kerk se groei in die tweede helfte van die 20ste eeu tot ’n groot mate aan ons lidmate se natuurlike aanwas toegeskryf kon word, kan die Kerk se inkrimping in ons dag aan ons lidmate se kleiner gesinne, emigrasie en ontkerkliking toegeskryf word.

Maar dit laat ons nou met ’n werklikheid wat skerp van die werklikheid van drie dekades gelede verskil: Die Hervormde Kerk het in 2017 net 89 131 dooplidmate, 72 097 belydende lidmate en 298 gemeentes gehad – nou gemiddeld slegs 242 lidmate per predikant. Daar is verlede jaar 988 kinders in ons Kerk gedoop en 1 059 jongmense het belydenis van geloof afgelê. Waar 1 916 lidmate ons Kerk verlaat het, het 296 lidmate na die Hervormde Kerk oorgekom – ’n netto verlies van 1 620 lidmate! Meer nog, weens die demografiese verskuiwings het ons nou kerkgeboue waar ons nie meer lidmate het nie, en lidmate woon op plekke waar ons nie kerkgeboue het nie.

Dit bring onmiddellik vrae na vore oor die getal gemeentes wat ons vandag in die Hervormde Kerk het. Maak dit sin dat ons nog so baie gemeentes het? Elkeen met ’n eie orrelis (wat dikwels moeilik is om te vind), koster, administratiewe beampte, en ander personeel. Het ons al die kerkgeboue nodig? Elk met vaste oorhoofse kostes wat verband hou met munisipale heffings, sekuriteit, onderhoud, klankstelsel, dataprojektor, tuingereedskap en ander toerusting. Moet krimpende gemeentes nie eerder waar enigsins moontlik terugstig of saamsmelt nie?

Waar terugstigting en samesmelting van gemeentes wel plaasvind, moet ons dus nie verslae of moedeloos wees nie. Dit gebeur om  lewenskragtige, volhoubare bediening te verseker. Die Hervormde Kerk is vandag in baie opsigte aansienlik beter daaraan toe as ’n halfeeu gelede. Ons lidmaattal is ongeveer dieselfde as toe, maar ons geniet die vrug van dekades se groei en duisende lidmate se harde werk en opofferings. Ons het uitstekende fasiliteite. Ons het baie meer goed opgeleide predikante as destyds. Ons lidmate is kundig, ervare en beklee dikwels baie senior poste in die gemeenskap.

Maar dit laat ons ten slotte met die baie belangrike vraag: Wat maak ons met die nalatenskap van die vorige generasies – die kerkgeboue wat hulle met harde werk en groot toewyding opgerig het, en die getuienis en voorbeeld wat hulle aan ons voorgehou het?

(Dr Wouter van Wyk is die sekretaris van die Kommissie van die AKV)

 

’n Praktiese implikasie

’n Hartseer gesig. Die leë gedenkmuur van Gemeente Primrose nadat die gemeente met ingang van 1 September 2018 met Primrose-Oos saamgesmelt het. 

Die bewaring van veraste oorskotte geskied kragtens die bepalings van Krematoriumordinansie 18 van 1965 (soos gewysig) en Administrateurskennisgewing 1156 van 1968, wat saamgelees moet word met Hoofstuk 3 van die Wet op Registrasie van Geboortes en Sterftes (Wet 51 van 1992) (soos gewysig).

Volgens ’n begrafnisondernemer in Germiston word toestemming om as te verskuif nie vereis nie. Toestemming is net nodig wanneer ’n graf oopgemaak en ’n liggaam verskuif word.

Die lidmate van Primrose het die keuse gehad om die as van hul geliefdes te neem of dit in die gedenkmuur van Primrose-Oos te laat plaas.