Die Hervormer

Ons het net een aarde

Ons het net een aarde, geskep en aan ons as die rentmeesters toevertrou. Ons moet weer ons skeppingopdrag besef: bewoon, bewerk en bewaar.

Ons planeet degradeer teen ’n ontstellende tempo. Miskien is ons almal onbewustelik gekondisioneer om nie meer te veel aandag te gee aan klimaatsverandering, oorbevolking, stroping van natuurlike bates, besoedeling, die vele ander simptome en die sigbare negatiewe gevolge daarvan nie.

Ons vasteland, ons land en spesifiek ons parke is geseën met ’n unieke biodiversiteit van spesies en subspesies, flora en fauna wat van die laaste op aarde is. Dit is ons erfenis, maar in meer tasbare terme een van die ekonomiese instrumente waarmee ons kan werk en welvaart kan skep deur toerisme. Die huidige plundering van die hulpbronne, en veral van ons renosters, gebeur op ons diensbeurt op aarde en verdien sekerlik ons as Christene se aandag en optrede.

Omgewingsmisdaad

Die impak van omgewingsmisdaad, meer spesifiek in al ons parke, is vernietigend en uitmergelend. Die ikoniese Kruger Nasionale Park beleef waarskynlik sy ergste krisis in die bietjie meer as ’n eeu van sy bestaan met die stroping van renosters. Die misdadigers het met die aanslag op hierdie dier van prehistoriese oorsprong aan ’n senuwee van elke bewaringsbewuste persoon geraak. In ’n stadium was dit tot drie karkasse per dag, en dit kon bekamp word tot die huidige ongeveer een per dag. Dus, nog ’n lang pad wat voorlê, maar dit kan gedoen word. In die vroeë 1950’s was daar geen renosters in die Krugerwildtuin nie. Die ambisieuse hervestigingsprojek in daardie tydvak het verseker dat die Park vandag 40% van die wêreld se witrenosterbevolking van ongeveer 20 000 het.

Die primêre dryfveer vir die stroping is ’n toename in aanvraag uit Suidoos-Asië wat verband hou met hul ekonomiese groei. Misdaadsindikate floreer as gevolg van die vraag en is maar te gretig om die lae risiko van omgewingsmisdaad uit te buit en ’n byna onversadigbare swartmark van diereprodukte te voed. Hulle kombineer die alte bekende “hebsug” van ons tyd met die “desperaatheid” van die arm en werklose bevolking aangrensend aan die Park. Dit vorm ’n toksiese mengsel wat barbaarse optrede binne die Park tot gevolg het.

Mandaat

Alhoewel georganiseerde misdaad die polisie se verantwoordelikheid is, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) ingevolge wetgewing ook ’n mandaat en plig om die natuurlike bates te beskerm. Die stryd word tans veral gevoer teen die stroping van perlemoen, broodbome, ietermago’s, die groot katte en olifante (in dié stadium gelukkig nog op klein skaal). En dan natuurlik die renosters in die Krugerwildtuin en ses ander renosterparke.

Om die mandaat gestand te doen, is die ou bekende veldwagterkorps omskep in teenstropingseenhede. Veld-wagters word paramilitêr opgelei, toegerus en ondersteun deur ’n lug- en hondevleuel asook ’n ondersoekeenheid. Hierdie eenheid funksioneer onder intense omstandighede met bykans twee kontakte per week wat volg uit gemiddeld agt insidente of invalle per dag. Daar is na raming ongeveer sewe stropergroepe in die Park per dag wat infiltreer vanaf enige plek op die 1 000 kilometer grens. Net verlede jaar is sowat 200 stropers in die Park gearresteer.

Om die poging jaar in en jaar uit (sedert 2010) in stand te hou, is duur en die bedryfsbegroting van die eenheid, net in die Krugerwildtuin, beloop om en by R200 000 000 per jaar. Die duurste prys word betaal deur die veldwagters en hul gesinne in hul nuwe rol binne ’n oënskynlik nimmereindigende aanslag.

Impak op die veldwagter

Behalwe vir die opregte poging van die leierskorps om goeie leiding te gee, word die risiko’s vir die toegewyde mense so goed moontlik bestuur. Die grootste risiko is dié van lewensverlies. Om dit te bestuur, word klem gelê op dissipline, opleiding, toerusting en tegnologie om vroeë waarskuwing te verseker. Tot op hede was die genade onbeskyflik groot met net een veldwagter wat gesneuwel het tydens stropergeweervuur.

Tweedens is daar die risiko dat die veldwagter vervolg kan word as daar stroperongevalle was. Weer eens word goeie opleiding gedoen, maar in elke geval word ’n advokaat aangestel wat ingevlieg word om die toneel te ondersoek, rekords te hou en direkte steun aan die veldwagters te verleen. Derdens, hiermee saam verleen ’n sielkundige berading om die veldwagters se trauma te help bestuur. Meer en meer proaktiewe weerbaarheidsessies word ook vir hulle en hul gesinne aangebied om stres te help verwerk.

In die vierde plek is daar die risiko dat die veldwagter verraai kan word deur korrupte kollegas wat die stropers help met inligting teen aanloklike vergoeding, en dit veroorsaak natuurlik nog meer stres en twyfel. Om dit te bestuur, is ’n integriteitsbestuursprogram ontwerp om korrupsie te beveg met professionele leuenverklikkeruitslae.

Die laaste risiko is dié van vervreemding van sy eie gemeenskap. Die held binne die Park en in die getuienisbank in die hof is nie altyd gewild in sy gemeenskap nie. Bepaalde gemeenskapsprogramme word bedryf om die beeld van die veldwagter as bewaarder te bevorder.

Aanvullend tot bogenoemde is daar projekte geloods om in die algemeen die lewenskwaliteit van veldwagters en hul gesinne in afgeleë poste te verbeter, byvoorbeeld beperkte selfoonontvangs om kontak met geliefdes te behou, groentetuintjies, besoeke deur lekepredikers, ontspanningsgeriewe, beter kookfasiliteite asook ruwe sokkervelde.

Ons opdrag

Met hierdie feite in ag geneem, is dit miskien goed om by hernuwing te bid vir ons fantastiese natuurerfenis en vir die mense wat dit so toegewyd bewaar en beskerm ten spyte van groot uitdagings. Verder moet ons weer ons skeppingopdrag laat herleef: eenvoudig gestel, om te bewoon, te bewerk en te bewaar.

Hierdie stryd kan gewen word en elkeen kan bydra – soms met middele, maar meestal met ’n toegepaste verantwoordelikheidsin wat manifesteer in elke eenvoudige bydrae om volhoubaarheid van ons bodem te verseker. Dink maar aan die besparing van water en elektrisiteit, opruiming van rommel (al het ek dit nie gestrooi nie), opvoeding en bewustheid van almal op ons pad, en ’n voorneme om een spesifieke ding per jaar te doen, soos om ’n boom te plant of ’n spruit op te ruim.

(Generaal-majoor – afgetree – Johan Jooste

is hoof van Spesiale Projekte van SANParke)