Die Hervormer

En dit was baie goed!

Dit verg sekerlik geen argument nie en kan sonder weerstand toegegee word dat die skrywer van Genesis, veral met betrekking tot die eerste hoofstuk, nie ’n ooggetuie was toe die skepping gebeur het nie. Hoe dit in die begin gebeur het toe God die hemel en die aarde geskep het, want dit is eintlik die kern van sy beskrywing wat hy in dae soos ons weke verloop, beskryf het.

Die lofuitende vergenoegdheid weerklink ses maal in sy dit was goed, maar die sewende keer hoor ons dit was baie goed! Die skepping sluit die mens in, maar met ’n verskil, want die mens is die beelddraer van God, as man en vrou wat moet heers oor die skepping, om vrugbaar te wees, baie te word, die aarde te bewoon en te bewerk.

In die teologiese debat word groot gewag daarvan gemaak dat God Hom in sy Woord openbaar, veral die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Maar die openbaring van God spreek ook mee in die omgewing waarin die mens as die maaksel van God hom bevind. Daarin kom ook ’n appèl na vore wat in die verlenging staan van die Goddelike bedoeling dat die mens ’n beelddraer van God moet wees. Aan die mens is as’t ware die ruimte verleen om die goddelike genoegdoening wat spruit uit die skepping in die woorde dit was selfs baie goed in die uitvoering van sy opdrag te vergestalt. 

In die omgewing rondom is daar ’n vaste reëlmaat. Na die winter kom die somer weer, soos droogte deur die somerreën onderbreek word. Asof dit onmoontlik is, word die vaal en dorre landskap weer verplaas deur die groen van gras en blaar as teken van die nuwe lewe wat selfs deur die doodsheid van die winter nie oorwin is nie. In die konteks van die Skepper en sy skepsel word laasgenoemde dus deur die werke van sy hande opgeroep om helder te kyk, raak te sien en te waardeer sodat die opkomende geslagte ook die Genesis-vergenoegdheid belydend kan beaam.

Berigte van besoedelde waters, wildstropings en oorbenutting van bronne vir eie gewin is kommerwekkend, om dit sag te stel. In die naam van natuurbewaring en vestiging van menslike belang het die natuurlike bronne ’n groot prys betaal.

Dit is jammer as die ondergang van die son nie meer raakgesien en waardeer word nie.  Miskien word die wildsbok wie se lewe nou voor die voete van die jagter tot ’n einde gekom het bewonder, maar dit is nog mooier wanneer sy beeld lewend vasgevang word deur ’n kameralens. Navraag oor ’n vakansie in die Wildtuin word gewoonlik gevoer oor die vraag of leeus ook op die besigtigingslys was. Ja, dit is nogal fassinerend om die diere in hul natuurlike omgewing te sien, maar dit is nie al nie, kan nie al wees nie. Rooibokke waarvan daar ’n oorvloed is, onder andere, veral die vroulike diere, dra ’n besondere skoonheid, net soos voëls wat in hul kleurrykheid net bewonder kan word. Maar uiteindelik, samevattend en insluitend, staan die omgewing in sy volle verskeidenheid in die teken van die Genesis-genoegdoening, Hy het dit goed gemaak. 

Hoe kan dit nou anders? God het dit goed gemaak, dit word nie deur die sondeval deurkruis nie, want God het dit herskep in Jesus Christus. Daarom kan ons die omgewing geniet, maar verantwoordelik, om Jesus wil.  

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant

en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)