Die Hervormer

Kerkspieël 2018 – om die hartklop van die gemeente te hoor

Die Kerkspieël-navorsingsprojek help die Kerk met nadenke oor die kerk en gemeentes se roeping, bediening en funksionering. Die projek is oor die jare in die NG Kerk gevestig as ’n belangrike bron van inligting vir strategiese denke deur die kerk en gemeentes.

Na gesprekke met die NG Kerk het die Hervormde Kerk deelgeneem aan Kerkspieël 2014. Na aanleiding van die verslag aan die Algemene Kerkvergadering van 2016, is besluit dat die Kerk in 2018 weer aan die ondersoek sou deelneem. 

Wat behels die projek?

Die projek is in 1981 deur die NG Kerk as ’n kerksensus begin en het gaandeweg ontwikkel tot ’n omvattende navorsingsproses wat elke vier jaar plaasvind, in samewerking met die internasionale organisasie National Church Life Survey. Die navorsing gee vir die kerk en sy leierskap, op verskillende vlakke, ’n beeld van patrone en tendense in die kerk en deelnemende gemeentes.

Die projek bestaan uit twee opnames: ’n gemeente-opname en ’n erediensbywoner-opname. Die gemeente-opname vind gedurende Julie plaas. Dit doen navraag oor ’n wye verskeidenheid aspekte van die gemeentelike bediening, asook die demografie en funksionering van die gemeente. Dit help om te verstaan waarmee ons besig is en behoort te wees. Die resultate is nuttig vir doelgerigte beplanning met die oog op dinamiese en volhoubare bediening.

Die vraelys is vanjaar vir die eerste keer per e-pos aan elke gemeente gestuur en kan aanlyn voltooi word. ’n Begeleidende skrywe, wat al die inligting bevat oor hoe die opnames in die gemeente aangepak moet word, is saam met die vraelys aan kerkrade gestuur. Dit is vir die Hervormde Kerk belangrik dat elke gemeente die opname sal doen.

Die tweede deel van die ondersoek staan bekend as die erediensbywoner-opname (NCLS-opname). Dit vra na die hartklop van die gemeente deur te fokus op die roepingsverstaan en kultuur van die gemeente en hoe lidmate die gemeente beleef. Hierdie deel van die ondersoek wil spesifiek aan lidmate die geleentheid bied om hul stem te laat hoor. Elke erediensganger sal die geleentheid kry om die vraelys te voltooi na afloop van die eredienste op die laaste Sondag van September. Dit sluit ook kinders ouer as 15 jaar in. Hierdie vraelys word as harde kopieë aan gemeentes gestuur. Kerkrade sal weer eens per skrywe volledig ingelig word oor hoe om die opname te hanteer. 

Die resultate sal vir gemeentes nuttig wees om doelgerig te beplan vir dinamiese en volhoubare bediening. Elke gemeente se verslag word aanlyn sowel as in gedrukte formaat beskikbaar gestel. Naas die detailverslag, ontvang die gemeente ook ’n visuele voorstelling van die profiel van die gemeente. Gemeentes ontvang ook ’n werkboek vir die beplanning van kort- en langtermynstrategieë. Die navorsingsresultate en die beplanning wat daarop volg, behoort dan neerslag te vind in ’n gemeentelike bedieningsplan soos dit tans in die Kerk in gebruik is.

Aan hierdie deel van die ondersoek sal daar vir die gemeente ’n koste verbonde wees, en kerkrade sal spoedig meer inligting oor die koste en administrasie ontvang. Ons is dankbaar dat ons ook hier saam met die NG Kerk kon werk en billike tariewe kon beding.

Vanuit die gemeentelike resultate word ook ’n profiel van die Hervormde Kerk saamgestel wat op sinodale en ringsvlak gebruik kan word vir oorkoepelende beplanning. Die inligting wat gegenereer word, vloei dus “van onder na bo” – elke gemeentelike leier en lidmaat het die geleentheid om na te dink oor die lewe en werk van die gemeente en die Kerk en so eienaarskap te neem. Dit beteken dat betekenisvolle gesprek oor die roeping en lewe van die Kerk in gemeentes, ringe en by die volgende AKV gevoer kan word. Die resultate van Kerkspieël 2018 kan dan ook vergelyk word met die profiel van die Kerk volgens Kerkspieël 2014 en die besluite van die vorige AKV aangaande volhoubare missionale bediening.

Die opname van 2014 het betekenisvolle resultate aan die Kerk en deelnemende gemeentes gebied waarmee tans gewerk word. Vanweë die beperkte ruimte word hier slegs gefokus op resultate van die erediensbywoner-opname waarmee lidmate uitdrukking gegee het aan hoe hulle die gemeente beleef. Hoe sal u gemeente se spieëlbeeld hiermee vergelyk?

Die Hervormde Kerk in 2014

Aspekte van die gemeentelike lewe waaraan die erediensbywoners die hoogste waarde toegeken het en wat hulle glo bewaar en bevorder moet word, was prediking en Bybelonderrig; deelname aan die Nagmaal; gemeenskapsbetrokkenheid of sorg en sosiale geregtigheid; en praktiese sorg aan mekaar in tye van nood.

Aspekte van die gemeentelike lewe wat die erediensbywoners gehoop het dringende en  besondere aandag sou geniet, was “oorlewing” vanuit ’n na binne gekeerde perspektief; bediening aan kinders en jongmense; geloofsverryking; en erediensgebeure wat bydra tot die verryking van geloof.

Aspekte van die klimaat van gemeentelike leierskap soos wat erediensbywoners dit beleef, moet vanuit twee hoeke verstaan word. Eerstens vanuit lidmate se belewing van hul eie leierskapskwaliteite, gawes en vaardighede en hoe dit in die gemeente benut word: 29% het gevoel dat hulle tot ’n groot mate aangemoedig word en die geleentheid het om hul gawes en vaardighede in diens van die gemeente aan te wend; 35% het gevoel dat dit tot ’n redelike mate so is; 17% het gevoel dat dit baie min gebeur; en 9% het gevoel dat dit glad nie gebeur nie.

Tweedens is die volgende vaardighede by die deelnemende lidmate geïdentifiseer: eerlikheid/deeglikheid en om te luister na mekaar; die bou van verhoudinge; om te leer uit ervaring; en om in moeilike situasies perspektief te behou en oplossings te soek. Dit hou veral verband met die vermoë om interaksie en gemeenskap te beoefen en take tot uitvoering te bring, terwyl die vermoë om ’n gedeelde visie te ontwikkel vir die kerk/gemeente en ’n vaste grondslag vir gemeentelewe te ontwikkel, minder prominent voorkom.

Hierdie resultate bied stof tot nadenke vir leierskap op gemeentelike en sinodale vlak, asook vir die deelname van die lidmate aan die bediening.

Kernkwaliteite

Die ondersoek val uiteen in nege kernkwaliteite van ’n gesonde roepingsbewuste gemeente. Wat behels hierdie kernkwaliteite en hoe interpreteer ons die profiel van die Hervormde Kerk in terme daarvan?

Interne kernkwaliteite fokus op die innerlike (geloofs)lewe van die gemeente as fondasie  wat grondslag en energie bied vir die lewe van die gemeente. Dit word beskryf as gesonde en groeiende geloof; dinamiese/lewenskragtige en opbouende eredienste; en ’n sterk en groeiende gevoel van koinonia/gemeenskap. Hierdie kwaliteite het veral te make met ’n geloofsverhouding met God en die belewenis daarvan as die fundamentele verhouding en vertrekpunt vir die ander twee kwaliteite en die lewe van die gemeente.

Inspirasie-kernkwaliteite fokus op die lewenskragtigheid van die gemeente en faktore wat die gemeente vorentoe laat beweeg. Dit sluit in ’n duidelike roepingsbesef, ’n visie vir gemeentelike bediening, en eienaarskap daarvoor; inspirerende en bemagtigende leierskap; en openheid tot verbeeldingryke en aanpassende innovering. Hierdie kwaliteite hou verband met die rol van leierskap en visie/rigting wat bevorderlik moet wees vir ’n openheid ten opsigte van aanpassende verandering binne die konteks van die gemeente.

Eksterne (missionale) kernkwaliteite fokus op die gemeente se ingesteldheid teenoor die gemeenskap en hoe uitdrukking gegee word aan interaksie ten opsigte van praktiese en diverse diensbaarheid oor grense heen; bereidheid tot effektiewe geloofsdeling met ander (getuienis in woord en daad); en doelgerigte inklusiwiteit, akkommodering en inskakeling van vreemdes.

Die kernkwaliteite (profiel) van die Hervormde Kerk, volgens die 2014-ondersoek, bied positiewe insig van lidmate wat bydra tot die groeipotensiaal van die Kerk en die gemeente.

Die bydrae (energie) wat elk van hierdie kernkwaliteite maak (van sterk tot minder sterk) tot die groeipotensiaal van die Kerk en wat in die gemeentelike bediening benut moet word, is in volgorde erediens/aanbidding; vernuwing/innovering; geloof; inklusiwiteit; getuienis; gemeenskap; leierskap; visie; en diensbaarheid.

Die terugvoering vanaf gemeentes wat in 2014 aan hierdie ondersoek deelgeneem het, is baie positief. Gemeentes meld dat die verslag hulle gehelp het om hulself beter te leer ken en verstaan. Die resultate help hulle verder om, in die lig van ’n grondige Bybelse verstaan van  die identiteit en roeping van die Kerk op die voetspoor van Christus, nuut te dink oor en te beplan vir die uitleef van hul roeping, en vir volhoubare bediening.

(Ds Japie Coetzee is emerituspredikant

en NHKA-koördineerder: Kerkspieël)