Die Hervormer

Genade en dood – ’n etiese perspektief oor eutanasie

In die Reformatoriese teologie figureer die idee van genade nogal sterk. Ons beklemtoon genade as “onverdiend” en “uit guns alleen”. Saam met die Woord van God en geloof in Christus alleen, vorm dit die hoekstene van ons belydenis van die misterie van God se betrokkenheid in die werklikheid. 

Die dood is op ’n andersoortige manier ook belangrik in ons geloofslewe: nie omdat ons baie daaroor praat nie, maar juis omdat ons dit dikwels probeer vermy. Ons belydenis oor die dood het min te doen met die verwoording van hoe ons die dood verstaan – dit het eerder te doen daarmee dat ons daarvan verlos wil word. In ons geloof en teologie het dit algaande so ontwikkel dat verlossing meestal met verlossing van die dood in verband gebring word, terwyl die mense van die Bybel verlossing op ’n wyer manier verstaan het. Verlossing het vir hulle in verband gestaan met –

  • verlossing as bevryding van slawerny (van Egipte en later Rome se politieke, ekonomiese en religieuse onderdrukking);
  • verlossing as terugkeer uit die ballingskap (om huis toe te kon gaan); en
  • verlossing as transformasie (siek-gesond; vrees-vertroue; blind-sien).

Vrae oor lewe en dood

Die feit dat verlossing algaande vir ons uitsluitlik verlossing-uit-die-dood en verlossing-as-ewige-lewe begin beteken het, spreek boekdele oor hoe ons die verband tussen lewe en dood verstaan, en ook hoe ons die betekenis van die lewe en die betekenis van die dood verstaan. Op ’n teenstrydige manier is ons vrae oor die dood eintlik ons vrae oor die lewe, naamlik ’n vooruitsig op ’n beter toekoms, ’n tydperk sonder die pyn van siekte, sonder die seer van eensaamheid of die vernedering van armoede, of ’n vooruitsig op oorwinning oor boosheid, en vir baie, retribusie vir onreg wat aan hulle gedoen is.

Jürgen Moltmann het ’n paar jaar gelede ’n hoofstuk geskryf met die titelvraag: Is there life after death? Hierdie sentrale vraag kom egter met ’n hele paar subvrae: Why do we ask? What are we asking about? Why do we die? Does death have any meaning? Hierdie vrae het my gedwing om diep na te dink oor wat die kern is van die vrae wat ek, vanuit my geloof, oor die dood vra: What “we know” when it comes to the question, “Is there life after death”, belongs to the other sphere of the knowledge that sustains our existence, gives confidence in life and death, gives the courage to live a life that is transitory, and confers the consolation that makes it possible to survive.

“Genadedood”

Eindelik het ek besef die vraag oor die dood is eintlik die vraag oor die betekenis van die lewe en die kwaliteit van daardie lewe, want dit bepaal hoe ons die dood verwelkom, aanvaar, verjaag of vrees. Vir my is dit dus ook die kern van ons etiese vrae en antwoorde rondom die saak van genadedood. Iemand anders sal dit dalk vanuit ’n suiwer deontologiese (’n wettiese perspektief oor “reg” en “verkeerd”) aanpak. Vir my is die fenomeen van genadedood egter heeltemal te gekompliseerd om dit op so ’n gereduseerde wyse aan te pak.

Ek het my opmerkings begin deur na genade te verwys. Dit is omdat ek in my navorsing oor eutanasie, die term “genadedood” net in Afrikaans teëgekom het. Dit is enersyds belangrik om hierop te let omdat daar baie verskillende begrippe is wat uitruilbaar met eutanasie gebruik word en dus verwarring wek in ’n debat oor die etiek daarvan. Andersyds is dit belangrik omdat die taalkundiges en filosowe vir ons leer dat taal enersyds die werklikheid reflekteer en andersyds die werklikheid skep. Hoekom sou ons in Afrikaans, uit al ons moontlike taalkeuses, die begrip “genade” hier aan “dood” koppel om as Afrikaanse ekwivalent vir eutanasie te dien? In Nederlands is “genadedood” euthanasie, in Duits Sterbehilfe, in Engels is dit euthanasia. Uiteraard het elke taal verklarings vir die woorde, en opsommend dui woordeboekverklarings “genadedood” aan as ’n “goeie en sagte dood vir diegene wat ly” (Nederlands) en “die praktyk om ’n lewe opsetlik te beëindig om pyn en lyding te verlig” (Engels en Afrikaans). Die Duitse woord is effens meer vanselfsprekend. Tog sou ek graag die Afrikaanse begrip genadedood se herkoms wou ondersoek. Met ons taalkeuse het ons indirek (of onbewustelik) miskien reeds ’n keuse uitgeoefen oor die verstaan van “eutanasie”. Impliseer dit ’n etiese keuse? ’n Religieuse een? ’n Menslike een? 

In konteks

Vooruitgang in gesondheidsorg, mediese wetenskap en mediese tegnologie het groterwordende groepe ouer mense meegebring. Ons kan trouens nie werklik meer van “bejaardes” praat nie. Dus is die vraag, aldus Miroslav Volf, How should we treat life with diminished capacities in light of increased ability to delay death’s arrival? In Suid-Afrika is die antwoord op hierdie vraag op die spits gedryf met die 2016-saak van advokaat Robin Stransham-Ford. Sy aanvanklike aansoek om sy lewe deur eutanasie, oftewel genadedood, te beëindig, is toegestaan enkele ure nadat hy op natuurlike wyse gesterf het. Daar is egter appèl aangeteken en die uitspraak is omgekeer. In 2017 het die eutanasiedebat weer eens die nuus gehaal toe dokter Sue Walters aansoek gedoen het om medies ondersteunde eutanasie. In albei gevalle het ongeneeslike siekte uiterste pyn, verlies van lewenskwaliteit en waardigheid meegebring. Daarom is dit belangrik om in gedagte te hou dat wanneer dit by debatte of besluite oor genadedood kom, die konteks waarin die vraag of behoefte daarna ontstaan, van beduidende belang is.

Eutanasie, oftewel genadedood, kom in verskillende gedaantes voor, en dit is hier waar die terminologie vir ons ’n gesprek of debat kan bemoeilik omdat ons kan dink dit gaan oor technicalities. Verskillende stukke navorsing en kommentaar oor eutanasie word vanuit verskillende perspektiewe geskryf: medies, regstegnies en teologies-eties. Sommige tref ’n onderskeid tussen genadedood en bystandsdood. Ander tref ’n onderskeid tussen medies-ondersteunde selfdood en medies-ondersteunde eutanasie. Ek het ook die begrip sterwensbegeleiding aangetref as alternatief vir die begrip genadedood. Die verskillende tekste gebruik die terme soms uitruilbaar, en die definisies is nie konsekwent nie.

Etiese en geloofsvrae

Volgens Volf dui al hierdie fenomene of begrippe op verskillende vorme van “genadedood” (eutanasie). Hy onderskei egter eutanasie van die moontlikheid van die staking van mediese sorg of bystand. Die crux van die terminologie is dat die onderskeidende terme gebruik word na gelang van wie beskou word as die agent wat die dood inisieer. Dit is waar die etiese en, vir ons, geloofsvrae ontstaan. By gelowiges en in kerklike kringe is daar dikwels sterk menings hieroor. Hierdie sterk menings het te doen met hoe ons God se mag oor lewe en dood verstaan en uitdruk. Dit het egter ook te doen, as ons eerlik is, met hoe ons die mediese wetenskap se vooruitgang teenstaan of ondersteun, en of ons die implikasies daarvan kan verstaan en uitdruk.

Ten slotte gaan dit nie oor die konflik wat ons meen tussen die lewe en die dood bestaan nie. In werklikheid gaan dit vir ons oor die konflik tussen liefde en die dood (aldus Moltmann): om ’n geliefde se lewe ten alle koste te verleng omdat die verlange en afwesigheid van daardie teenwoordigheid onnoembaar is, of om die ondraaglike pyn en verlies van waardigheid van ’n geliefde nie langer te kan aanskou nie en derhalwe die einde daarvan te wil bewerkstellig.

Daarom keer ek terug na my aanvanklike waarneming aangaande die taalkeuse ten gunste van “genadedood”. “Genade” het ’n baie spesifieke konnotasie en implikasie in ons lewe. Dit is nie ’n terloopse woord nie. Dit is ’n “sterk” woord met verreikende gevolge: onverdiend, uit guns alleen. Daar is geen rede voor en geen beloning te verkry nie. Dit is wat dit is: ’n misterie. ’n Misterie wat bo ons verstand en wetenskap iets ten goede laat meewerk en goed laat geskied, sonder dat ons weet hoe of hoekom. Dit is myns insiens beduidend dat ons in ons spreektaal daardie woord gebruik.

Derhalwe is dit ook dan per implikasie reeds ’n etiese rigtingwyser, veral vir gelowiges: om ’n keuse te maak (wat ook al dit mag wees) na die genade se kant toe.

(Dr Tanya van Wyk is ’n dosent

aan UP se Fakulteit Teologie)