Die Hervormer

Kry my op Facebook...

Sosiale media het eers in die vroeë dae van die 21ste eeu sy babatreë begin neem. Maar teen 2006 met die afskop van Facebook, was dit reeds ’n storm van epiese proporsies. Die spreekwoordelike koeël was deur die kerk. Sosiale media sou binnekort ons lewens infiltreer en permanent daarin kom woning maak.

Hierdie storm het ons egter sonder enige riglyne oorrompel. Sosiale media was enig in sy soort en daar het geen handboek vir die gebruik daarvan bestaan nie. Geen gebruiksaanwysings of etiketreëls het saam met hierdie ontploffing gekom nie en ons moes maar self ons weg deur die onbekende ruigte vind. Dis daarom nie vreemd nie dat ons dikwels verstrengel raak in sosiale media se etiketlokvalle.

Daar is min hulpmiddels wat ons kan lei in die etiket van sosiale media. Dit beteken egter nie dat ons nie ten minste onsself moet probeer vergewis van die moets en moenies van hierdie fenomeen nie.

Ons hoef nie ver te gaan soek vir die merkers van dit wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is vir die gebruik van sosiale media nie. Ons hoef net so ver te soek as ons eie Facebook, Twitter en Whatsapp “feeds”. Daar sien ons gou-gou die dinge raak wat etiket in die krop steek. Daarom dan my beskeie poging om basiese etiketriglyne daar te stel.

1. Minder is ALTYD meer...
Sodra enigiets te lank is, hou mense gewoonlik verby. Daarom is lang plasings sinneloos omdat dit nie gelees word nie. Kort en bondige opmerkings het ’n groter effek. Dieselfde reël geld ook vir die frekwensie van plasings. Goeie etiket is niks meer as drie plasings per persoon per dag nie.

2. Dit sal waarDEUR word as...
Elkeen moet ’n speltoetser bekom of ’n woordeboek raadpleeg voordat ’n plasing publiek gemaak word. Goeie etiket vereis korrekte spelling en goeie taalgebruik.

3. Skinderbekkie
Skinder was maar nog altyd lekker en al weet ons goed dat ons onsself daarvan moet weerhou, bly dit moeilik. Sosiale media het dit egter nog moeiliker kom maak. Van skertsende opmerkings oor ons President se huweliksmaats tot blatant ongeskikte opmerkings oor ’n filmster se voorkoms en talent. Dis skinder, of ons dit wil erken of nie. Die reël geld: As jy dit nie vir my kan sê nie, moet dit dan eerder glad nie sê nie, veral nie op sosiale media nie.

4. Vuilbekkie en vuil wasgoed...
Vuilbekkige, smerige taal is onaanvaarbaar op alle platforms, sosiale media en ander. Dis so eenvoudig soos dit. Dit was ook nog altyd swak etiket om jou vuil wasgoed in die publiek te was. Vandaar hierdie ou bekende gesegde. Die versoeking om dit te doen, het egter soveel groter geword met die koms van sosiale media, juis omdat dit so maklik geword het. Ek vererg my vir jou en met die druk van ’n paar knoppies beledig ek jou voor die hele wêreld. Dis tog so voor die hand liggend dat persoonlike sake, hetsy goed of sleg, juis dít is, persoonlik. Mense met respek vir hulself en ander plaas nie sulke sake op sosialemediaplatforms nie.

5. Speel-speel...
So onvanpas as wat dit vir my is om ’n skaakbord voor jou neus in te druk tydens ’n vergadering, net so onvanpas is dit om sosialemediaspeletjies op mense af te dwing. Hierdie tipe speletjies word spesifiek geskryf sodat ander betrek moet word. Dis egter baie swak etiket om middernag vir jou baas – of dominee – ’n Candy Crush-lewe te vra. Kies jou speelmaats versigtig.

6. As jy vir my lief is...
Baie van ons is meestermanipuleerders en sosiale media het dít van ons samelewing kom uitwys. Die plasings van As jy vir my omgee, sal jy hier lees of As jy ’n kind van God is, sal jy hierdie deel op sosiale media is altyd in swak smaak. My liefde en omgee vir jou en my geloof in God word beslis nie deur die deel van sosialemediaplasings bewys nie. Hierdie tipe plasings is manipulerend en hoort nêrens in ons gesprekke met mekaar nie.

7. Arme ek...
Net omdat jy dit KAN sê, beteken nie dat jy dit MOET sê nie. Dalk interesseer jou ontbyt jou geweldig baie, of jou maagpyn, of jou troetelskilpad. Dalk voel jy dat jy dit met ander op sosiale media moet deel. Moenie. Plasings wat nie informatief, uniek, kontroversieel of interessant vir ander is nie, moet liefs gelos word. Plasings moet bydra tot die leser se lewe. Dit is jou goeie reg om te praat oor jou alledaagse dinge soos dat jy jouself jammer kry of dat jy spyt en verwyt ervaar of dat jy honger is, maar dit is beslis nie nodig of smaakvol om dit op sosiale media vir die wêreld te sê nie.

8. Jou opinie is JOU opinie...
Ons elkeen is geregtig op ons eie opinies oor allerlei dinge. Hoe ek oor iets voel en hoe jy oor iets voel, verskil dikwels, en dis goed, want dis wat die lewe inkleur. Maar nou gebeur dit dat baie van ons so sterk oor iets voel dat ons dit op ’n bombastiese, harde en ongenaakbare manier wil afdwing op ander. Baie maal gebeur dit dat ander plasings maak waarmee ons nie saamstem nie, en soos in enige gesprek is dit ons goeie reg om ons eie opinie daaroor uit te spreek. Wat egter gereeld op sosiale media gebeur, is dat mense soos ’n tornado inkom as hulle met iets verskil. Persoonlike aanvalle en onbeleefde opmerkings as jy verskil, is onaanvaarbaar. Jy mag verskil, maar sê dit tog net mooier.

9. Rol jy dalk jou oë?
Verskeie kundiges meen dat die boodskap wat ons aan ander kommunikeer tot 90% deur ons lyftaal, stemtoon en gesigsuitdrukking beïnvloed word en slegs 10% deur die woorde wat ons gebruik. Dit maak dus sin dat op ’n platform soos sosiale media, waar slegs woorde gebruik word, baie verwarring en waninterpretasie moontlik is. Kies jou woorde dus baie versigtig sodat daar nie verwarring oor jou intensies kan wees nie.

Goeie etiket op sosiale media is eintlik eenvoudiger as wat ons dink. Die reëls vir die lewe is die reëls vir sosiale media. Goeie etiket in ons alledaagse lewe sal ook goeie etiket wees wanneer ons onsself besig hou met sosiale media. Sosiale media kan ’n aanwins in ons samelewing wees as ons dit reg aanwend. Na my mening is hierdie die dinge wat wenslik is op sosiale media:

  • Lag is die beste medisyne: Deel humoristiese plasings sodat ons almal saam kan lag.
  • Saam maak ons ’n span: Nooi mekaar uit om saam te staan teen sosiale ongeregtigheid.
  • Laat ons sien: Deel die dinge waarvoor jy lief is en waaroor jy opgewonde raak. Deel die groot dinge en gebeure in jou lewe. Omdat ek vir jou omgee, wil ek dit graag met jou deel. Nog beter, plaas foto’s daarvan sodat ek self kan sien.
  • Wat die hart van vol is: Hou jou hart so dat wat daaruit vloei op sosiale media, vol liefde, omgee en vreugde sal wees.

Daar is een laaste goue reël wat in elke opsig van die lewe geld, en dit is dat ons in alles, in elke deeltjie van ons lewe – ons eet, werk, speel en besig wees met sosiale media – tot eer van God moet leef. Plasings wat etiket in die krop steek, is ook plasings wat afbreek maak aan die Koninkryk van God. So, dis dalk die vraag wat jy jouself elke keer moet afvra voordat jy ’n plasing maak: Verheerlik ek God hiermee, of verheerlik ek myself?