Die Hervormer

’n Verleentheid, maar ook ’n geleentheid

Tydens die afskeidsgeleentheid van Gemeente Pretoria se kerkgebou op 13 Mei het dr André Ungerer, voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, hierdie afskeidswoord gebring.

We shape our buildings; thereafter they shape us. Die bekende woorde van Winston Churchill op 28 Oktober 1944 toe hy dit op hul parlementsgebou van toepassing gemaak het. Het hierdie spreuk betrekking op kerkgeboue? ’n Dag soos hierdie? Ek dink tog so. Dink aan die era toe hierdie kerkgebou na die stigting van die gemeente op 8 September 1855 ontwerp is. Hoe dit vorm aangeneem het met die boumateriaal van daardie tyd. Die eietydse boutegnieke. Hierdie gebou is ’n produk van sy tyd – groots, imposant met die tipiese aanbiddingsruimte soos ons dit vandag nog vir oulaas beleef. Dit is gevorm vir die gelowiges van sy tyd met hul geloofs-, lewens- en wêreldbeskouing.

Thereafter they shape us. Sedert die hoeksteenlegging op 19 Julie 1904 het die vorming van gelowiges op velerlei wyses plaasgevind. Uiteraard deur die evangelie wat Sondag na Sondag verkondig is, deur kategese en soveel ander geloofshandelinge. In hierdie ruimte het mense tot geloof gekom, is God nuut ontdek, is trane gestort, is skuldbelydenisse gedoen, is genade verkondig, is talle nuwe voornemens gebore, is robuuste debatte gevoer, is mooi en klaaglike besluite geneem, is goeie en slegte dinge mekaar toegevoeg, is haat en wrok gekoester, en dan was daar sekerlik voornemens soos Ek kom weer en weer of Hier sit ek my voete nooit weer nie. In hierdie ruimte is menswees (gelowig wees) op sy beste ervaar en ook op sy slegste. Met die eeufeesviering in 1955 het ds Simon Vermooten onder andere in sy preek gesê: Daar was nie nog ’n gemeente in ons Kerk, waarin by tye soveel beroering en ontwrigting was nie...

 

Die gebou is gevorm. Ons is gevorm. Maar ook die omgewing om die gebou is gevorm. Deur die loop van jare het geboue gekom en gegaan. Hoe sing Koos du Plessis? Ons beplan toringblokke, maar die slopers is betrokke... Strate het bygekom wat blokke afgesper het. Waar die slopers padgegee het, het nuwe toringblokke verrys. Ook die gebou van die Reserwebank in wie se skadu ons vanmiddag sit. Onlangs, nie ver hiervandaan nie, het nog ’n gebou verrys met ’n eiesoortige toring. Saam met die Moskee het die stem van die Imam in daaglikse reëlmaat gekom.

Weer die refrein. Hierdie gebou is gevorm. Ons is gevorm. Die omgewing om hierdie gebou het vorm aangeneem – en dan ’n aandagstreep! Ons is weer gevorm. Hierdie keer is ons gevorm tot ongemak, nie meer tuis wees in die middestad nie, gevorm deur kwynende lidmaatgetalle, swak erediensbywoning en ’n onvermoë om die evangelie aan die vreemdes om ons te verkondig. Het die vorm van hierdie gebou iets daarmee te doen gehad? Het die vorm van die gebou daarmee te make dat vreemdes moeilik in hierdie ruimte sal aanbid? Waarskynlik. Een van ons voorgangers het al verwys na die Hervormde Kerk se onvermoë om in die middestad tuis te bly. En asseblief, liewe broer en suster, as ek dalk krities oorkom, is dit in die eerste plek aan myself gerig oor my eie onvermoë en onwilligheid.

Ek sal op ’n manier altyd gemengde gevoelens koester. Dankbaar vir soveel blye dae wat soos strome kalm en rein gevloei het. Skuldig voel omdat ons nie kon bly nie. Dit terwyl die voete van duisende mense op die sypaadjies hier neffens weerklink en die Imam op eentonige reëlmaat sy stem laat hoor.

Hierdie gebou is gevorm. Ons is gevorm. Die omgewing om hierdie gebou het vorm aangeneem. Ons is weer gevorm omdat ons nie weet hoe om ander wat nie soos ons is te vorm nie. In ’n groot mate vergestalt hierdie dag vir my die krisis in die Hervormde en ook ander hoofstroom Afrikaanse kerke wat soos ons dink en doen. ’n Paradoks van ’n kwynende en sterwende Kerk midde-in ’n snelgroeiende samelewing.

Maar daar is hoop. Die Japannese karakter vir krisis dra twee betekenismoontlikhede, naamlik dié van verleentheid en geleentheid. Oor ons verleentheid is genoeg gesê. Kom ons kyk na geleenthede. Gemeente Pretoria is steeds die moeder van al die Hervormde gemeentes in die stad – al is sy haar gebou kwyt. Haar kinders lê verspreid oor die stad. Sommige is lewenskragtig en groeiend. Ander is sukkelend, kwynend, terminaal en sterwend. Maar daar is nog dié gemeentes wat gebore moet word en wat geboorteplek soek. Daar is ’n groot opbrengs uit die verkoop van hierdie gebou. ’n Opbrengs wat die ongebore gemeentes by die regte geboorteplek kan uitbring. Daar is groeipunte wat hiervoor lê en wag.

Daar rus enorme verantwoordelikheid op die leierskap van hierdie gemeente. Met God se hulp moet die vormingswerk voortgaan. Wat gaan julle vorm? Waar en hoe? Dan die kringloop. Hoe gaan dit wat gevorm is, julle weer vorm? Die oë van die Kerk is op die moeder gerig. Mag haar gryse wysheid instrumenteel wees in nuwe lewe en groei wat geskep word. Ek hoop ons kan na vele jare op hierdie dag met groot dankbaarheid terugkyk. Dankbaar omdat die huidige tydsgewrig nie ’n krisis gebly het nie. Dankbaar omdat die geleenthede wat ons benut het die verleenthede verreweg oorskadu het.

(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die Hervormde Teologiese Kollege)