Die Hervormer

Gemeente Pretoria neem afskeid

Op Sondag 13 Mei, na 133 jaar, het Gemeente Pretoria van haar kerkgebou in Du Toitstraat afskeid geneem.

’n Paar weke vantevore het lede van die Gemeenteboukomitee, Phillip van Staden, Johan van der Wal, Ina Duvenage, Sandra Nel en dr Christo Pretorius, in Seniordal se Raadsaal vergader en besin oor hoe van die kerkgebou afskeid geneem moet word. Uit die staanspoor was dit duidelik dat dit vir elkeen ’n ingrypende en emosionele oomblik is.

Nie net was dit belangrik om met deernis en dankbaarheid van die waardige ou gebou afskeid te neem nie, maar haar rol in die Hervormde Kerk moes ook in herinnering geroep word. Daarom het die kerkraad prof (em) Schalk Botha versoek om ’n oorsig van die gemeente se geskiedenis en haar kerkgeboue voor te hou.

’n Lang en moeilike geskiedenis

Ter aanvang het prof Botha gestel: Ons neem vandag met hartseer afskeid van hierdie kerkgebou op hierdie bepaalde plek, wat vanaf inwyding op 25 Januarie 1905 oor die laaste 113 jaar van die Ned Herv Gemeente se merkwaardige en dikwels gekompliseerde en selfs vreemde geskiedenis van 163 jaar as fokuspunt gedien het.

En ons gemeente en haar kerkgeboue hét ’n merkwaardige, gekompliseerde en vreemde geskiedenis.

Dit was ook die oordeel van prof (em) AD Pont wat in die Gedenkbundel van 1980 opmerk dat sommige gemeentes deur ’n rustige gang gekenmerk word, maar in Gemeente Pretoria se geval het alles nie rustig en vanselfsprekend verloop nie.

Die onrustigheid moet eweneens toegeskryf word aan die pioniersomstandighede waarin die gemeente as Voortrekker-gemeente in die Zuid-Afrikaansche Republiek haar bevind het, en andersyds die aanslae wat sy moes verduur vanuit ideologiese oorde, waaronder die Britse imperialisme, dié se goudsug, en die vernietigende Anglo-Boereoorlog.

Wie die pioniersgeskiedenis nalees, sal kennis maak met ds Dirk van der Hoff en onder die indruk kom van sy invloed en rol, nie net met die stigting van die gemeente nie, maar ook die bestendiging van die Republikeinse Afrikaner se staatkundige vryheid.

Dit was ds Van der Hoff wat sy stem by diegene gevoeg het wat die behoefte aan ’n hoofsetel vir die ZAR aangevoor het, en alhoewel daar reeds in 1851 ’n versoekskrif aan die Volksraad gerig is om ’n meer sentraal geleë setel te vestig en die plase Daspoort en Elandspoort aanvanklik uitgewys is, het die owerhede getreusel.

Ds Van der Hoff het die getalm na ’n kant toe gestuur. Tydens die Algemene Kerkvergadering in Junie 1854 is besluit om ’n gemeente te stig waarvan die grense die veldkornetskappe en plase Daspoort en Elandspoort insluit.

Die naam wat ds Van der Hoff vir die gemeente gegee het, was Philadelphia-Pretoria (Pretorius-Broederskap) ter herinnering aan genl AWJ Pretorius en die ideaal om eenheid en broederskap onder die Afrikaner te dien.

Na die besluit van die Algemene Kerkvergadering in 1854 het dit nog ’n jaar geduur voor die gemeente gestig is. Die eerste kerkraadslede is op 8 en 9 September 1855 gekies. Tydens die voorbereidingsdiens het 41 lidmate geloofsbelydenis afgelê, en tydens die Sondag se doopdiens is 61 kinders gedoop.

Gespande bokseile het eers as kerkplek gedien, en waar die standbeeld van Staatspresident SJP Kruger nou op Kerkplein pryk, het ossewaens en tente tussen doringbome en grasveld gestaan. Na die gemeente se stigting op 8 en 9 September 1855 is die eerste kerkgebou op 21 en 22 Februarie 1857 in die middel van Kerkplein ingewy. Dit was ’n nederige rietdakkerkie.

In 1882 het ’n storm sy letsels op die gebou gelaat, wat nog in dieselfde maand deur ’n brand verder beskadig is. Die vreemde brand is deur van die lidmate en inwoners van die destydse geannekseerde Pretoria en ZAR toegeskryf aan die oordeel van God, omdat Theophilus Shepstone (Slypsteen in die volksmond), nadat hy die ZAR in 1877 vir Brittanje geannekseer het, in die kerkgebou ingesweer is.

’n Tweede imposante gebou in die Victoriaans-Gotiese styl is daarna opgerig, en dit was destyds die eerste kerkgebou noord van die Vaalrivier wat ’n toring gehad het, volgens prof Botha. Hierdie kerkgebou is op 23 Januarie 1885 ingewy, en na 20 jaar in 1905 gesloop. Dat dit gesloop is, kan toegeskryf word aan die Britse bewind se vrees dat die begrafnis van pres Paul Kruger Afrikaner-weerstand sou opwek.

Maar al eerder, na die “mislukte” kerkvereniging, was die kerkgebou op Kerkplein slagoffer van onderlinge verdeeldheid wat teruggelei kan word na die 1879-beskrywingspunt van ds HS Bosman: Wat kan er gedaan worden, om eene vereeniging tot stand te brengen tusschen de Ned Hervormde en Ned Geref Kerke in Transvaal?

Die ruimte ontbreek om aan die oorsake, gang en gevolge van die mislukte “kerkvereniging” hier reg te laat geskied. Die studiewerk van dr SP Pretorius, Die Kerkvereniging van 1885: Sy aanloop en mislukking (1986) kan gerus weer nadergetrek word.

Die naweë van die kerkvereniging het daartoe gelei dat Gemeente Pretoria drie aanspraakmakers op die kerklike eiendom binne dieselfde gemeentegrense gehad het, waaronder die Prokurasie-kommissie onder konsulentskap van ds CW du Toit en die Konsulentsgemeente van Pretoria (Witfontein).

Terwyl die Kerk hierdie droewige tyd deurleef en probeer herorganiseer, breek die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) uit, en meer as 460 000 Britse soldate moes drie jaar lank probeer om die twee Boererepublieke te onderwerp. 

Die “verskroeide-aardebeleid” van H Kitchener en die meer as 40 000 kindersterftes in die konsentrasiekampe het die Afrikaner baie leed besorg en laat verarm.

Nogtans kon die gemeente twee jaar na die verwoestende oorlog in 1904 die hoeksteen van die Du Toitstraat-kerkgebou lê en met die krag en seën van die Here hul nuwe kerkgebou vroeg in 1905 in gebruik neem.

Tydens die inwyding van die nuwe kerkgebou het prof  PJ Muller die diens gelei aan die hand van Openbaring 21: 5: Kyk, Ek maak alles nuut. Hy merk in die prediking op: Het getuigt van geloof, dat in de moeilijke dagen, die wij thans te doorworstelen hebben, nietemin een nieuwe bede huis door haar gesticht is.

 

Deel van Pretoria se geskiedenis

Tydens die 125ste bestaansjaar van Gemeente Pretoria op 7 September 1980 het prof PS Dreyer die feesrede vanuit Efesiërs 2: 11-22 gelei, en tydens die geleentheid het Raadslid SCJ van Rensburg, burgemeester van Pretoria, ’n groeteboodskap nie net aan die gemeente gerig nie, maar ook aan die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Hy het onder meer gestel: Die geskiedenis van u kerk en die geskiedenis van Pretoria is onlosmaaklik aan mekaar verbonde... kan ek met groot genoegdoening die groete en gelukwensing van die Stadsraad en al die inwoners van die stad aan u oordra. Mag dit so gegee word dat wanneer u kerk en ons stad oor nog 125 jaar weer saam sal feesvier, dit weer as bond- en sielsgenote sal wees.

Gemeente Pretoria en haar kerkgeboue het gedien as vergaderplek vir die Algemene Kerkvergadering, vir vergaderings van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, en vir meer as ’n eeu het teologiestudente jaarliks in Du Toitstraat se kerkgebou die proponentsformule onderteken.

Hier het prof PJ Muller ook begin met die teologiese opleiding van die Kerk.

Onderhandelings met SA Reserwebank begin

In Julie 2017 is die gemeente deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank genader met die oog op die verkoop van die kerkgebou, en na verskeie gesprekke en vergaderings van die kerkraad en gemeente, is ’n ooreenkoms behaal. Tydens die onderhandelinge het die verteenwoordigers van die gemeente die verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gewys op die historiese waarde van die kerkgebou en die verhaal van die Kerk.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank was ontvanklik en het begrip getoon vir die gemeente. Hulle het ingestem dat die Erfenisstigting as belangeparty in die ooreenkoms aangewys word, dat dit so in die akte opgeneem word, en dat die toepaslike wetgewing geag word. Die kerkgebou sal voortaan deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank bewaar word en as museum dien.

Die afskeid

Op 13 Mei is van die Du Toitstraat-kerkgebou afskeid geneem, en die teks vir die prediking was Jesaja 43: 18-19. Chris en Alta Janse van Rensburg, vir baie jare die kosterpaar, het na die prediking en  boodskappe die kerkklok vir oulaas gelui, en by baie was daar weemoed met die hoor van die beierende stem. Dit was ’n ou stem wat afskeid geneem het, en onder die orrelspel van Dawie en Annemarie Fourie, wat ook vir talle jare die gemeente se sang begelei het, het dr Christo Pretorius die Kanselbybel verwyder en dit aan die jongste lidmaat van die gemeente, Henco Pretorius, oorhandig.

Met die sing van Gesang 275 is die Kanselbybel aan die skriba, Phillip van Staden, oorhandig terwyl kollegas, gemeentelede en vriende by die kerkdeure uitgestap het.

Alhoewel Gemeente Pretoria nie meer haar kerkgebou het nie, tree sy met geloof voort, met God se Woord en teenwoordigheid in ons harte, en die vaste vertroue dat Hy alles nuut maak en nuut sal skep.

(Dr Christo Pretorius is leraar van Gemeente Pretoria)