Die Hervormer

Regte, voorregte en verantwoordelikhede – ’n delikate balans

Die Handves van Regte is deel van hoofstuk 2 van die Grondwet van Suid-Afrika. Die doel daarvan is om mense te beskerm teen alle vorms van misbruik en om te verseker dat mense hul regte kan geniet. Waarom word dié Handves dan dikwels met agterdog bejeën?

Tydens die onlangse VTT was een van die modules Trotseer jou skaduwee. Dit het gehandel oor die impak wat gebeure en persone uit ’n mens se verlede op jou huidige menswees het en hoe ’n mens die skaduwee van jou verlede moet identifiseer, analiseer en probeer verdiskonteer in ’n poging om ’n meer emosioneel gesonde mens in die hede te wees.

Ek dink dat nie net individue nie, maar ook hele groepe mense uitgelewer kan wees aan die skaduwee van hul verlede. Omdat ons as blanke Suid-Afrikaners en veral Afrikaners ten regte of ten onregte vir so lank die muishond van die wêreld was oor menseregtevergrype onder apartheid, is dit deel van baie van ons se skaduwee dat ons nekhare regop staan as ons hoor van menseregte of die handves van menseregte. Die oordrewe klem op menseregte is deel van die liberalistiese, sosialistiese, kommunistiese denkwyse wat aan die wortel lê van baie van die probleme in ons samelewing, hoor ’n mens dikwels.

Die Handves van Regte (let wel: Regte, nie Menseregte nie) wat deel is van hoofstuk 2 van die Grondwet van Suid-Afrika, is derhalwe iets wat baiekeer eerder met agterdog bejeën word as wat die moontlikhede wat dit bied, waardeer en benut word. Die Handves van Regte moet deur die regering, alle mense en alle organisasies in Suid-Afrika nagevolg word. Die doel daarvan is om mense te beskerm teen alle vorms van misbruik en om te verseker dat mense hul regte kan geniet. Dat hierdie regte so negatief bejeën word, byvoorbeeld iemand wat sê Dis hierdie menseregte wat maak dat ’n krimineel wat seerkry tydens ’n rooftog beter mediese behandeling kry as die slagoffer van die rooftog, lê eerder in die toepassing daarvan en is nie noodwendig inherent deel van die Handves van Regte nie.

Daar word ’n stuk of 27 regte uitgespel in die Handves. Dit kan ’n mens net baat om bewus te wees van al die regte wat in die Grondwet verskans word, sodat jy protes kan aanteken by die Menseregtekommissie of selfs die howe kan nader as jy voel dat jou regte aangetas was.

Vir die Handves van Regte om ’n opbouende rol in die samelewing te speel, kan dit dalk ’n goeie benadering wees om die regte te sien as een been van ’n driepootpot, waar die ander twee bene jou voorregte en jou verantwoordelikhede is. Nes ’n pot nie net op een poot kan staan nie, kan ’n mens nie net hamer op jou regte sonder om jou voorregte en  verantwoordelikhede ook in ag te neem nie. Byvoorbeeld: Artikel 16 waarborg die vryheid van uitdrukking. Dit verleen aan almal die voorreg om hul opinies vrylik te lug, maar jy het steeds die verantwoordelikheid om dit so te doen dat jy nie iemand se reg op menswaardigheid (artikel 10) aantas nie.

Waar dit baiekeer lyk asof ons samelewingstrukture aan die inplof is, kan dit ons dalk net baat om die Handves van Regte as ons vriend eerder as ons vyand te sien en doelgerig op te staan vir die beskerming van ons regte wat die Handves wil waarborg. As dankbare burgers ook van die koninkryk van die hemele, sal dit uiteraard ook ons voorregte en verantwoordelikhede koester en uitbou.

(Ds Etienne Fourie is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Kempten)