Die Hervormer

Coligny ’n jaar later

In die Julie 2017-uitgawe van Die Hervormer het ds Dawie Jacobs vertel van die onrus wat in Lichtenburg en Coligny bly broei het, totdat die pruttende pot sy ontploffende punt bereik het. Ons het ds Jacobs gevra: Hoe gaan dit nou in dié plattelandse dorpe in Noordwes?

Dis winter in die Wes-Transvaal. Ek trek my leerbaadjie stywer om my vas. Bo my reik die hemelruim. Die grootsheid daarvan oorweldig jou... sluk jou in. Die son skyn flou op my gesig. Ek hoor die blare in die bome ritsel soos die ysige windjie daardeur waai. ’n Dwarrelwind skep gras en blaar in ’n wilde sirkelgreep. Dis God teenwoordig en aan die werk. Ek is intens daarvan bewus. Rustig.

My gedagtes gaan terug. Meer as ’n jaar is verby. Tóé was Coligny nie rustig nie. Daar was nog steeds die son en die wind, die hemelruim. Maar daar was ook oorlog in die lug... ’n dwarrelwind van anargie en haat wat dié Noordwes-dorpie geplunder het. In ’n oogwink is die wêreldoog na hierdie plattelandse dorpie aan die suidpunt van Afrika gedraai. Van die rustigheid wat ek nou ervaar, was daar geen sprake nie. 

Dit was nie God se skuld nie. Hy was nie gou-gou iewers heen en het vir ’n oomblik van Coligny vergeet nie. God was nog steeds teenwoordig. Dit was die mens met sy selfsug en eie-ekkigheid wat die rustigheid versteur het. Dis mos wat gebeur, elke keer, as die mens God wil speel... wil oordeel... wil vinger wys. Tydens die onrus en klipgooiery was dit somer, maar die harte was ysig koud! Die nydigheid, die haat, die gegluur het ’n ander soort koudheid deur jou liggaam laat ril. My gedagtes spring terug na die heel begin... na ’n tuin wat in Genesis voorgestel word. Die Bybel leer ons dat die mens ook dáár die Goddelike rustigheid met dieselfde hovaardigheid van ek wil baas wees verwoes het.

Maar dis rustig in Coligny, nou. Wel, so rustig soos dit seker kan wees. Die sekuriteit is opgeskerp, die buurtwag het hul beurte aangepas en vermeerder. ’n Deur word nie maklik oop vergeet nie. Die winkels is met dik staal gepantser. Dít alles gebeur egter meer agter die skerms. Oor die algemeen ervaar ’n mens ’n kalmte. Die twee gemeenskappe, Coligny en die aangrensende informele buurt Scotland, waar Faki Mosweu gebly het, die kind wat so tragies oorlede is, kom heel goed oor die weg. 

Die inwoners het met mekaar begin praat. Oor en weer is vergaderings gereël, met leiersfigure van die onderskeie gemeenskappe om hul saak en behoeftes te stel. Kontak vind op ’n gereelde basis plaas. Die Coligny-gemeenskap het deur middel van sommige van die besighede begin uitreik na Scotland. Aanvanklik het die opstand oor swak dienslewering en politieke onbevoegdheid gegaan, en eintlik het dit in Lichtenburg begin, maar Faki se dood het die fokus na rassehaat verskuif, en die onluste het oorgewaai na Coligny. 

Dis egter ou nuus. Die gemeenskap van Coligny het moeite gedoen om uit te reik. Water is aangery, watertenks is opgerig. Later het die regering nog tenks kom oprig. ’n Sokkerveld is deur ’n sakeman – wat groot skade gely het deur die onluste – geskraap om die kinders en ouers ’n sosiale uitkomgeleentheid te bied. Verskeie gebedsgroepies is deur die jaar gestig, en byna elke kerk in die dorp het gebedsgeleenthede gehad waar die gemeenskap aan die Here God opgedra is.

Oor die algemeen gaan dit goed in Coligny en omgewing. Gemoedere wil-wil opvlam, elke keer as daar nuwe nuus is oor die hofsaak rondom Faki se dood. Die gemeenskapsleiers doen egter moeite om met mekaar in verbinding te bly en tot kalmte te maan, en die reg toe te laat om sy gang te gaan.

Hier waar ek nou op die kerkterrein staan en die dwarrelwind besig is om sy krag te verloor, lyk dit nie asof daar ooit iets ’n jaar gelede gebeur het nie. Besighede is oop. Mense loop op straat en kinders ry op hul fietse iewers heen. Alles lyk normaal. ’n Mens hoop maar net dit sal so bly.

(Ds Dawie Jacobs is leraar

in Lichtenburg-Oos en Coligny)

 

As dit brand om en binne jou

“Skielik raak die gemeenskaplike gevoel oor die gebrek aan dienslewering (onder wit, bruin én swart) ’n rassekwessie. Skielik gaan dit nie meer oor dienslewering nie. In ’n oogwink kry alles ’n raskleur. En die politici spring in en wurg politieke munt uit die ongelukkige situasie. Skielik is die vreedsaamheid daarmee heen. Skielik is jou veilige hawe nie meer veilig nie. Skielik is alles geweldig onseker!

Vreedsaamheid maak plek vir vrees, onsekerheid, bitterheid, ongelukkigheid. Wetsgehoorsame burgers weet nie wat om te doen nie. Wat is jou regte? Skielik het die kriminele element alle regte… en jy kan maar net staan en toekyk. Jou veilige hawe, jou tuiste, jou sekuriteit brand, word geplunder, beroof, besteel, gebreek… en jy mag net kyk – die polisie het skynbaar nie die vermoë om jou te beskerm nie. Hulle is nie opgelei (of goed genoeg opgelei) vir die situasie nie, ook nie na behore toegerus nie. Coligny brand!

Terwyl hul besighede en huise geplunder en gebrand word, was die inwoners se hoofgedagte dié van vrede. Hoe kan ons met mekaar gesels? Hoe kan ons die vreedsaamheid terugkry? Uiteindelik het die vuur van die Heilige Gees vinniger versprei as dié wat huise en besighede brand, en het daar, ten spyte van die absolute chaos en anargie, meer stabiliteit gekom.” (Ds Dawie Jacobs, in Die Hervormer, Julie 2017)