Die Hervormer

Grondonteiening en die kerk

’n Proses is aan die gang gesit om die land se Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening van grond sonder vergoeding ten einde grondhervorming te versnel. Daar is tot dusver min aanduiding gegee van hoe skade aan landbouproduktiwiteit, voedselsekerheid, ekonomiese vertroue en werkgeleenthede beperk gaan word indien dit suksesvol deurgevoer word.

Aantygings dat boere grond “gesteel” het en ander populistiese uitsprake vervlak ongelukkig die openbare diskoers tot ’n punt waar dit dreig om te ontspoor – en skep onrealistiese verwagtinge op die koop toe. Enige mate van geslotenheid ten opsigte van sinvolle dialoog wat strewe na ’n vreedsame en inklusiewe oplossing, dra egter nie by om die simplistiese narratief in sy spore te stuit nie. ’n Nugter en ewewigtige benadering wat die huidige politieke en maatskaplike werklikhede van die land in ag neem, is van kritieke belang – en die kerk se rol hierin kan kwalik oorskat word. Die grondkwessie is ’n komplekse en emosionele saak wat nie oornag gaan verdwyn nie.

Eiendomsreg

Eiendomsreg is ’n internasionaal erkende reg wat onder meer beskerm word deur artikel 17 van die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte (deur Suid-Afrika onderteken op 3 Oktober 1994): (1) Elkeen het die reg om individueel en in assosiasie met ander eiendom te besit; (2) Niemand se eiendom sal arbitrêr afgeneem word nie. Insgelyks bepaal artikel 25(1) van die Grondwet van Suid-Afrika: Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie. Volgens artikel 25(2) mag eiendom slegs onteien word vir ’n openbare doel of in die openbare belang, en onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is. Artikel 25(3) bepaal dat die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling regverdig en billik moet wees, en ’n billike ewewig moet toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van die huidige gebruik van die eiendom; die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom; die markwaarde van die eiendom; die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en die doel van die onteiening.

Wysiging aan die Grondwet

Daar is talle voorbeelde van pogings (soms kreatief, dikwels gewelddadig) om grondwetlike bepalings te omseil, veral wat landbougrond betref. Wettige onteiening sonder vergoeding is wel nie onmoontlik nie. In sekere gevalle kan ’n beroep op artikel 36 (die beperkingsklousule) suksesvol gedoen word, of die vergoeding kan op nul vasgestel word kragtens die Eiendomswaardasiewet (wat die breë riglyne in artikel 25[3] tot ’n formule reduseer).

Onteiening sonder vergoeding oor ’n breë front vereis egter ’n wysiging aan artikel 25. Die prosedure wat gevolg moet word om die Grondwet te wysig, word uiteengesit in artikel 74. Hoofstuk 2 (die Handves van Regte), wat artikel 25 insluit, kan slegs gewysig word deur ’n wetsontwerp wat aangeneem word deur die Nasionale Vergadering (NV), met ’n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede; en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), met ’n ondersteunende stem van minstens ses provinsies. Indien ’n wysiging aan artikel 25 ook ’n wysiging aan artikel 1 noodsaak (byvoorbeeld artikel 1[c]: Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg), word ’n ondersteunende stem van ten minste 75% van die lede van die NV vereis. Hoewel nie onmoontlik nie, is dit hoogs onwaarskynlik dat laasgenoemde rigting ingeslaan sal word en kan aanvaar word dat ’n tweederdemeerderheid in die NV (267 stemme) voldoende sal wees.

Die ruimte wat die Grondwet tans bied vir sinvolle grondhervorming is egter nog nie behoorlik ontgin nie. Die omvang van onderbenutte en onbenutte grond en grond in staatsbesit beklemtoon die mislukking in grondhervorming wat nêrens anders as voor die deur van die staat gelê kan word nie. Die hoop beskaam nie dat die grondwetlike hersieningskomitee mag bevind dat die Grondwet nie die probleem is wat grondhervorming betref nie, en dus nie gewysig hoef te word nie – maar moenie asem ophou daarvoor nie.

 

Openbare deelname

Van besondere belang vir die kerk is die vereiste in artikel 74(5) dat die persoon of komitee wat voornemens is om ’n wetsontwerp wat die Grondwet wysig in te dien, die besonderhede van die beoogde wysiging in die nasionale Staatskoerant publiseer vir openbare kommentaar. Alle skriftelike kommentaar oor wysigings aan die Handves van Regte moet aan die Speaker voorgelê word vir tertafellegging in die NV en NRP (die twee kamers van die Parlement).

Die publiek se reg tot betrokkenheid by wetskrywing word omskryf in sommige internasionale menseregtehandveste, byvoorbeeld artikel 25 van die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte. Artikels 59(1)(a) en 72(1)(a) van die Grondwet verplig die NV en die NRP om publieke betrokkenheid in die wetgewende en ander prosesse te vergemaklik. In Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others (2006) het die Konstitusionele Hof bevestig dat ’n gebrek aan openbare deelname tot die ongeldigverklaring van wetgewing kan lei.

Alles dui daarop dat die publiek wyd gekonsulteer behoort te word en genoegsaam geleentheid gegun moet word om skriftelike en mondelinge kommentaar te lewer op enige voorstelle tot wysigings aan die Grondwet (en alle ander wetgewing). Dit sluit openbare debatte en kommentaar in gedurende al die voorstadiums van wetskrywing (die groenskrif en witskrif), voordat ’n wetsontwerp opgestel en in die NV en NRP gedebatteer word. Hierna word die publiek opnuut uitgenooi om skriftelik kommentaar te lewer en ’n voorlegging aan die betrokke portefeuljekomitee te maak. Na oorweging van al die insette, word die wetsontwerp vir verdere debat na die NV en NRP verwys, wat dan tot stemming daaroor kan oorgaan – en indien dit aanvaar word, word dit na die president verwys vir bekragtiging.  

 

Die kerk se profetiese roeping

Die 17de-eeuse filosoof John Locke, allerweë beskou as die grondlegger van die moderne regstaat, wys daarop dat gesonde regering gebaseer is op die onvervreembare regte van individue. Reformatoriese teoloë se siening van die verhouding tussen die kerk en die staat word dikwels tot ’n mindere of meerdere mate op hierdie siening geskoei (naas die loci classici naamlik Rom 13: 1-7, 1 Pet 2: 13-14 en NGB, artikel 36).

Ondanks ’n aanvanklike (oor)versigtigheid, wen die erkenning en beskerming van fundamentele regte toenemend veld binne die kerk – voortvloeiend uit die driehoeksverhouding mens-God-medemens, aangevuur deur die etiese imperatief, die eise van die liefdesgebod en die Christelike strewe na geregtigheid. Die argaïese oorblyfsels van weerstand teen menseregte vanuit Christen- en selfs eie kerkgeledere, kan egter nie geïgnoreer word nie. Daar word steeds gereeld beweer dat menseregte onskriftuurlik is en teenoor God se wil staan. Hierdie uitgediende siening moet ’n finale nekslag toegedien word indien die kerk (kollektief, maar natuurlik ook elke lidmaat afsonderlik) ’n sinvolle bydrae tot die debat oor grondregte wil maak en getuienis teenoor die owerheid wil lewer, getrou aan die kerk se profetiese roeping. Interne verdeeldheid oor teologiese en etiese kwessies verswak die openbare beeld, en daarmee ook die bedingingsmag van die kerk.

Die Handves van Regte ken in elk geval nie regte toe aan individue en groepe nie – dit erken en bevestig bloot die (Godgegewe) regte waaroor alle mense beskik. Getuienis teenoor die owerheid moet hiermee rekening hou. Die kerk behoort, in die openbare belang, wettige pogings om fundamentele regte (insluitend grondregte) en die Grondwet te beskerm, te steun. Eiendomsreg kan nie effektief beskerm word op enige ander wyse as deur demokratiese grondwetlike prosesse nie. Watter alternatiewe meganismes die kritici van die konsep van fundamentele regte beoog om in te span om grondregte ter plaatse te beskerm, bly ’n raaisel.

Die oorgang na ’n godsdiens-neutrale demokratiese regstaat, met die Grondwet as hoogste gesag en nie meer die Parlement nie, was pynlik en die kerk is steeds besig om die nodige aanpassings in hierdie verband te maak. Die prysgawe van die kerk se bevoorregte pre-1994-posisie ten gunste van ’n onafhanklike profetiese stem bring egter ’n legio nuwe geleenthede op die kerk se pad. Die Kerkorde van die NHKA maak dan ook ruim voorsiening vir getuienis teenoor die owerheid in ordereël 7.4 en ordinansie 7.4. Suid-Afrika is immers ’n deelnemende demokrasie en nie ’n verteenwoordigende demokrasie nie, en ook nie ’n totalitêre regime nie waar mag volledig gesetel is in ’n regering wat nie publieke insette duld nie – soos byvoorbeeld in Soedan (onder die vaandel van teokrasie) en Noord-Korea.

Betrokkenheid by openbare beleidvorming en wetgewing mag die kerk dalk op ongemaklike en ongekaarte weë plaas, uitgelewer aan weerstand en kritiek, maar die kerk moet onbeskroomd ’n kritiese stem wees oor moraliteit, etiek, mag, armoede, vrede, geregtigheid, menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die soewereiniteit van die kerk en die staat, elk in sy eie domein, met die welstand van die totale gemeenskap as gemeenskaplike doel, moet erken en gerespekteer word. Die kerk durf nie swyg in die aangesig van onreg nie, maar eerder smoel krijgen, soos die Nederlanders deesdae graag van die kerk sê.

Grondregte en menswaardigheid

In sy elegante uitspraak in Daniels v Scribante and Another (2017) in die Konstitusionele Hof, verduidelik regter Madlanga hoe eiendomsreg dikwels minder met die materiële te make het en meer met menswaardigheid. In ’n afsonderlike maar instemmende uitspraak brei regter Froneman daarop uit en toon hy aan dat gemeenregtelike verabsolutering van eiendomsreg nie kan slaag nie, en hy wys op die ontoereikendheid van ekonomiese doeltreffendheid as deurslaggewende regverdiging in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die reg op menswaardigheid pas hiervolgens nie gemaklik in as die voorwerp van ’n finansiële marktransaksie nie. In sinvolle grondwetlike hervorming behoort die sosiale gebondenheid van die eiendomsbegrip en die noue verbintenis tussen eiendomsbesit en menswaardigheid dus swaarder te weeg as markekonomie.

Volgens alle aanduidings sal grondbesit in die toekoms al minder deur die mark beheer word en al meer deur ander (hopelik nie-arbitrêre) faktore. Redelikheid, onderhandelde oplossings en versoening gaan voorkeur kry bo markwaarde in die vasstelling van vergoeding, ongeag of die Grondwet gewysig word of nie. Ook hier durf die kerk se openbare rol nie onderskat word nie. 

Die noue verband tussen grond en menswaardigheid geld natuurlik nie net vir grondloses nie, maar ewe veel vir diegene wat oor grond (en dikwels produktiewe boerderye) beskik en gevaar staan om daarvan onteien te word sonder vergoeding. Enige redelike en ewewigtige debat oor eiendomsreg sal deurgaans daarmee rekening hou. 

Slotwoord

Intussen moet daarteen gewaak word om ore uit te leen aan allerlei wilde gerugte en doemprofesieë. Sinistere voorstedelike legendes, fopnuus oor koverte magte wat skynbaar “agter alles sit” en onjuiste histeriese mededelings, onder andere op sosiale media, dien gewoonlik ’n ander agenda as die kerk. Om daaraan mee te doen, ondermyn opregte pogings om ’n werkbare oplossing te soek en te beding.

Hoe daar bygedra kan word tot regverdigheid en billikheid rakende die grondkwessie, en tot maatskaplike en ekonomiese stabiliteit in die algemeen, is ’n saak waarmee die kerk onvermoeid en onverbiddelik besig behoort te bly.

(Dr Johan van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)