Die Hervormer

Finansiële hulp aan teologiestudente

Die opleiding van ons toekomstige predikante aan ’n universteit waar hulle goeie teologiese opleiding kry, was nog altyd vir die Hervormde Kerk van groot belang. Die Kerk was oor baie jare in die bevoorregte posisie om die studente finansieel te kon ondersteun om hierdie doel te bereik. Die situasie het egter verander, en dieselfde voordele is eenvoudig nie meer moontlik nie.

Die finansiële ondersteuning aan studente het daaruit bestaan dat aan hulle ’n beurslening gegee is, wat aangewend was om klasgelde te betaal en handboeke mee aan te koop. Die gebruik was dat ’n predikant, nadat hy of sy afgestudeer het, na ses jaar se studie, ses jaar het om 50% van die verskuldigde bedrag terug te betaal; die res is geag as ’n beurs wat dan nie terugbetaalbaar was nie.

Knelpunte het ontstaan in 2012

Die Raad van Finansies het in Februarie 2012 besef dat die volhoubaarheid van die gebruik om Kuratoriumlenings aan teologiestudente toe te staan in die weegskaal was. Die saak is na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Moderamen verwys vir kennisname.

Die probleem was dat dit vir die Kerk net nie meer moontlik was om die blootstelling aan die studentelenings te dra nie. Indien die toegewyde fondse ingereken sou word, was die kontant wat die Raad van Finansies moes voorsien R4,7miljoen. Indien die toegewyde fondse buite rekening gelaat sou word, was die kontant wat voorsien moes word R7,1 miljoen.

Die Raad van Finansies het ’n geruime tyd gepoog om die hulpverlening aan studente te handhaaf deur besparings uit die sinodale begroting te gebruik. Die probleem was dat die blootstelling wat die Nederduitsch Hervormde Kerk sou hê aan die beurslenings van studente, sou groei tot ’n bedrag wat dan vir die Kerk groot risiko’s sou inhou. Die projeksie is gemaak dat as die tendens sou voortduur, die potensiële debiteure kon groei tot meer as R18 miljoen. Die situasie sou die Nederduitsch Hervormde Kerk in ’n baie moeilike posisie geplaas het, aangesien die Raad van Finansies die verskil sou moes befonds uit die sinodale offergawe. Die realiteit was dat dit vir die Nederduitsch Hervormde Kerk nie moontlik sou wees om dit te doen nie, aangesien die uitstaande sinodale offergawerekening van die Kerk gegroei het tot ’n bedrag wat die kontantvloei van die Kerk drasties beïnvloed het. Die finansiële nood wat gemeentes ondervind het en die afname in lidmaatgetalle het die afname in die betaling van sinodale offergawes veroorsaak. Dit was vir die Kerk net nie meer moontlik om die renteverlies te absorbeer en om dan ook nog 50% van die beurslening af te skryf nie.

Wat was die opsies?

In die lig van bogenoemde finansiële situasie, het die Raad van Finansies gemeen die regte ding om te doen was om alle studielenings met ingang van 2013 te staak, totdat die debiteure binne die vlak van die beskikbare studiefondse was. Indien die hulp aan studente gestaak sou word, sou dit die onhoudbare situasie skep dat dit vir die studente bykans onmoontlik sou wees om alternatiewe befondsing te bekom.

Die Raad van Finansies het die volgende aanbevelings aanvaar:

  • Die aantal lenings wat toegestaan word, moet beperk word.
  • Slegs 80% van die klasgelde kan betaal word.
  • Die studente moet vanaf 2013 die polispremie maandeliks vereffen.
  • Die gebruik om 50% van die beurslening af te skryf, word gestaak.
  • Merietebeurse word toegeken slegs op die jaar se algehele prestasie.
  • Die lenings is rentedraend, wat maandeliks vereffen moet word.

Die aanbevelings is onder baie moeilike omstandighede aanvaar in ’n poging om steeds die Kerk se studente wat in die teologie wou studeer, te ondersteun.

Teologiese Opleidingsfonds

Die Algemene Kerkvergadering het in 1999 besluit om ’n Teologiese Opleidingsfonds tot stand te bring om seker te maak dat die Nederduitsch Hervormde Kerk oor die vermoë sou bly beskik om ons teologiese opleiding te bekostig. Die besluit was dat die Fonds eers opgebou moes word totdat die kerf van R7 miljoen bereik is, en dan kan ’n gedeelte van die renteopbrengs aangewend word vir teologiese opleiding. Die idee was dat die Fonds beskerm moet word om die volhoubaarheid van die Fonds te verseker. In 2015 is die kerf bereik, en ’n gedeelte van die renteopbrengs word sedertdien aangewend vir teologiese opleiding. Dit is duidelik dat die bydrae wat die Teologiese Opleidingsfonds maak, baie tydig gebeur het in die lig van die finansiële druk wat sedert 2013 ontstaan het.

Studentelenings tans

Ten spyte van nog moeiliker omstandighede waarin ons ons bevind, is dit steeds moontlik om teologiestudente te ondersteun om te studeer. Die hulp wat die Kerk kan verleen, kan ongelukkig nie dieselfde wees as waartoe ons in staat was in die 1980’s en 1990’s toe ons ’n bloeitydperk beleef het nie.

In die huidige omstandighede is dit slegs moontlik om aan studente Kuratoriumlenings teen ’n verlaagde rentekoers beskikbaar te stel. Bewus van die nood wat by studente bestaan, is die volgende besluite ten opsigte van die Kuratoriumlenings geneem:

  • Slegs 80% van die klasgelde kan in die vorm van ’n lening toegestaan word.
  • Daar word 5% rente gehef op die lening.
  • Die voornemende student moet aansoek doen om as student van die Kerk erken te word.
  • Die aansoek gaan vooraf gepaard met ’n evaluering deur die Evaluasiekomitee van die Kuratorium wat uit ’n span kundiges bestaan.
  • ’n Polis moet uitgeneem word om die leningsbedrag te beskerm. Dit hou vir die student en die Nederduitsch Hervormde Kerk voordeel in indien daar iets onvoorsiens gebeur.

Van die Kuratorium se kant af wil ons graag belangstellendes aanmoedig om dit ernstig te oorweeg om teologie te kom studeer, aangesien daar heelwat predikante in die volgende paar jaar gaan aftree. Studente wat wil aansoek doen, kan ds Carusta van der Merwe by die Hervormde Teologiese Kollege kontak (carusta.vandermerwe@up.ac.za).

Die Kuratorium hoop dat bogenoemde inligting duidelikheid sal gee vir diegene wat vrae het oor die Nederduitsch Hervormde Kerk se hulp aan studente wat teologie wil studeer.

(Ds Adriaan Roets is voorsitter van die Kuratorium en leraar in Gemeente Swartkop)