Die Hervormer

’n Boodskap van hoop, genesing en oorwinning

Tydens die Algemene Diakensvergadering se Ubi caritas-simposium oor gesinsgeweld was Ina Bonnette een van die sprekers. Die redakteur van Die Hervormer het by Ina gaan kuier – sy is ’n lidmaat van sy gemeente, Waterberg.

Ina Bonnette is ’n baie dapper vrou wat, ten spyte van die hel wat sy moes deurmaak, besluit het om nie ’n slagoffer te wees nie. Sy het doelbewus besluit om op te staan en ander vroue, maar ook mans en kinders, wat deur dieselfde hel gaan as waardeur sy moes gaan, te help om ook hoop, genesing en oorwinning te behaal.

Waar ons in haar kantoor sit, vertel sy my wat sy tydens haar huwelik en uiteindelik gedurende daardie swart dag deurgemaak het. ’n Mens kan nie anders nie as om in totale ongeloof te sit en luister na ’n verhaal wat soos ’n sielkundige riller klink. Terwyl ek luister, wonder ek hoe dit moontlik is dat sy steeds positief kan bly, steeds kan hoop. Maar dan vertel sy ook haar verhaal van hoop, genesing en oorwinning.

Ina sê dat wanneer jy, of iemand naby aan jou, gebuk gaan onder gesinsgeweld, is daar ’n paar goed waaroor jy eerlik met jouself moet wees, waarvoor jy moet uitkyk en wat jy kan doen.

Hier is haar verhaal van hoop.

Nadat hulle mekaar in 2009 ontmoet het, het alles rooskleurig en gelukkig gelyk – totdat alles die aand van hul troue (23 Oktober 2010) verander het, toe die manipulasie en mishandeling begin het. Vyf maande later kon sy nie meer die mishandeling en manipulasie hanteer nie en het sy en haar dogter uitgetrek. Sy het hom verlaat, om maar net weer deur hom omgepraat te word om terug te trek. In Julie 2011 het sy hom egter finaal verlaat. Ses maande later het sy dag van wraak gekom – die dag wat haar seun se lewe sou neem en haar en haar dogter se lewens ingrypend sou verander.

Gelukkig het hy haar dogter daardie dag met vyf minute gemis, en kon hy nie regkry om Ina se ouers na haar huis te lok sodat hy hulle ook kon leed aandoen nie.

Totaal en al magteloos was sy vasgemaak met haar mond toegeplak terwyl alles met haar gebeur het, en sy moes hoor hoe haar kind vir sy lewe smeek en doodgeskiet word. Ina is deur haar aanvallers vir dood agtergelaat.

In die hospitaal het verskeie emosies deur haar gespoel. Sy was kwaad en het skuldgevoelens beleef, sy het magteloos gevoel en was verlam deur al die hoekoms en waaroms... Hoekom het die Here vir Conrad geneem en nie eerder vir haar nie? Hoekom het Hy toegelaat dat dit met haar gebeur?

Maar in daardie hospitaal het Ina ’n besluit geneem. Sy sou nie ’n slagoffer wees nie. Sy sal nie gaan lê en opgee en haarself aan medikasie oorgee nie (tot vandag kom sy sonder medikasie reg). Sy sal God se hand vat, opstaan en die wêreld in die oë kyk.

Wanneer ’n mens by hierdie punt in jou lewe kom, is daar ’n paar dinge wat jy moet doen:

Erkenning

As jy as slagoffer teenoor jouself kan erken dat jy jou in ’n situasie bevind waarin jou menswees, jou selfrespek en jou identiteit vertrap word, het jy reeds ver gevorder. Neem ’n besluit om hulp te kry (onthou, dit is net jyself wat daardie besluit kan neem). Reik uit na iemand wat jy volledig vertrou, en na professionele mense om jou by te staan.

Ina sê dat vroue, maar ook mans en kinders wat onder mishandeling ly, nie skaam moet wees om dit met iemand te deel nie. Moenie bang wees dat jy as ’n slagoffer van verkragting gebrandmerk sal word nie. Deur jou dapperheid kan iemand anders dieselfde lyding en vernedering gespaar word.

Waarvoor moet jy kyk?

Jy moet oplet vir tipiese gevaartekens soos manipulasie, jaloesie, besitlikheid en geheimsinnigheid oor sy doen en late, en leuens en ’n obsessie om almal in die gesin se lewens te beheer. Aan die begin van ’n verhouding voel baie meisies en vroue gevlei deur die jaloesie, maar wees versigtig! Die vraag wat jy moet vra, is of jy gaan toelaat dat jy gemanipuleer word.

Keuse

Elke dag van ons lewens maak ons keuses. Die vraag is, hoe gaan jy die situasie waarin jy jou bevind, hanteer? Gaan jy stagneer, jouself as ’n slagoffer sien en jou dalk aan drank, slaap- of kalmeerpille oorgee? Of gaan jy bekendmaak wat met jou gebeur het en weer begin lewe?

Ina sê dat om die pad van hoop, genesing en oorwinning te stap, werklik nie elke dag maklik is nie, maar as jy die Here toelaat om beheer oor jou lewe te neem, sal Hy jou elke dag van die krag voorsien om op te staan en die wêreld in die oë te kyk.

Moenie toelaat dat die gedagte by jou opkom oor wat die mense gaan sê en dink nie. Dit is jóú keuse om jou situasie te erken en te besluit om daar uit te kom.

Ons is nie deur die Here op hierdie aarde geplaas om mishandel te word nie. Daarom: Praat, soek hulp, want God wil vir jou veel meer geluk en vreugde in die lewe gee.

Wanneer ’n mens na Ina sit en luister, weet jy, daar is ’n lewe ná verkragting en mishandeling. Onthou, jy kán weer opstaan, want dan is daar hoop, en dan volg oorwinning.

(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer en leraar in Gemeente Waterberg)