Die Hervormer

’n Brief aan ’n vriendin met blou kolle

Ek het so lank dié briefie uitgestel. Een van die redes is dat ek nie weet hoe om vir jou te sê wat ek diep in die seer van jou oë herken nie.

Oor ’n lang tyd het ek gesien hoe jou wêreld om jou inplof. Jy het so gejaagd geraak en nooit tyd gehad om te gesels nie, al wag ons albei vir die kinders by die skool. Ek dink jy is so bang jy sê iets verkeerd. Dalk is jy bang dat ek meer in jou oë sien as wat jou veilig laat voel. Ek weet dis nou al ’n paar jaar dat jy en die kinders glad nie by jou ma-hulle uitkom nie. Ek het jou ma ’n paar weke gelede gesien en hulle het een begeerte: om met jou en die kinders te kuier! Hulle sê jy is net te besig.

Wat my regtig so ver gekry het om die brief te skryf, is wat ek gesien en gehoor het toe ons wyk by die kerk gebraai het. Jou hande het só gebewe toe jy besef het dat jy nie die braaisout ingepak het nie. Jy was paniekbevange. Ek verstaan jou reaksie volkome. Toe hy op jou blaps reageer deur te sê dat enige mens dit van jou kon verwag, want jy is onnosel, het jy gelag – ook toe hy gesê het jy skep te veel vleis in, jy is reeds dik. Lag asof dit waar is. Jy en jou kinders loop op eiers uit vrees vir wat gaan kom. Terwyl jy inmekaargetrek stil op jou stoel gesit het, was hy die sjarmante heer vir elke vrou. Bekoorlik sjarmant.

Toe klein Pieter sy seuntjielyfie op jou skoot neervly en sy armpies om jou sit, het hy hom dadelik berispe: Moenie dit doen nie, jy weet Mamma se arm is seer! Vriendin, ek het yskoud geword toe Rianca in al haar onskuld sê: Mamma se arm is altyd seer!

Besef jy wat gebeur? Jy is geïsoleer van jou ouers en ons as vriendinne. Jy het geen steunstelsel nie. Jy het begin glo wat hy vir jou sê. Jy  is nie dom nie, jy is pragtig en ’n goeie ma. Jy het toegelaat dat hy jou denke en jou brein van jou steel. Dit het gebeur sonder dat jy dit agtergekom het. Jy is nie sy slaansak nie. Geen man het die reg om sy hande vir ’n vrou te lig nie. Ek sien jou magteloosheid. Jy het geen manier om jou kinders teen sy kwaai woorde en die klank van ’n klap te beskerm nie.

My vriendin, al draai jy jou hart met bloudraad toe, sy woorde en dade het jou werklikheid geword. Jy moet nou die stilte breek. Bel jou ma, vandag nog. Dink jy hulle weet nie wat aan die gang is nie? Begin ’n dagboek byhou waarin jy alles skryf wat gebeur. As jy net die woorde self kan sê, is jy al op die regte pad.

Jy kán die siklus breek wat boos om jou woed, die stilte stuit wat soos ’n kanker groei. Ek weet, want ek het self al dié pad geloop.

Onthou, ek is daar vir jou. Ek gee om, want jy is spesiaal.

Jou vriendin