Die Hervormer

’n Dankbare vriendin skryf terug….

Liefste vriendin, baie dankie vir jou briefie. Jou handgeskrewe briefie wat jy met soveel omgee geskryf het.

Ek het regtig die laaste paar maande gedink ek word mal. Nee, ek is mal. Ek het geen manier om myself te verweer nie. Daar is aanhoudend hierdie beskuldigings van goed wat ek vir seker weet nooit gebeur het nie. Ek hoor daagliks dat daar fout is met my en dat die kinders nie in my sorg veilig kan wees nie. Ek weet dis nie waar nie. Ek weet die vrou waarvan hy praat, is nie ek nie, maar ek begin twyfel.

Ons was al by ’n huweliksberader. Toe hy afsonderlike konsultasies voorstel, was die gort gaar. Ek moes hoor dat ek met die berader ’n verhouding het. Met die kliniese sielkundige was dit dieselfde. Ek konkel agter sy rug en het met alles en almal buite-egtelike verhoudings! Hy noem my by tye ’n slet. Ek het al uit desperaatheid bely dat ek ’n slegte vrou is en ’n swak ma vir my kinders. Miskien sal hy dan ophou om my te teister. Vriendin, ek is dit nie, ek kan dit nie wees nie! Tog, ek het begin twyfel… Wat is fout met my? Is ek regtig net mal?

Ek het ’n tydjie gelede twee voorskrifte by twee dokters gekry vir slaappille. Ek het dit by verskillende apteke ingegee en al twee keer gevul. Ek het 120 slaappille in my kas. Sondagmiddag na die braai het ek besluit dat ek nie meer so kan aangaan nie. Ek het Maandagoggend al die pille in ’n pilhouertjie uitgedruk. Dis soveel makliker om te drink. Jy het daardie selfde middag die briefie deur die skrefievenster gedruk.

Dankie, dankie. Dis al wat ek kan sê. Dankie dat jy besef het dat ek nie kan of wou praat nie, maar dat ek dalk iets sou lees. Ek was so emosioneel toe ek jou brief klaar gelees het. Ek het met alles in my probeer om my emosies weg te steek. Toe ek die familiekamer instap, het my kinders soos meerkatjies op die mat gesit. Mamma, is jy okay? Op daardie moment het ek besef dat, al wil ek net vir ewig en ewig slaap, hierdie kinders my nodig het. Ek het besef ek kan hulle nie uitlewer aan my eie selfsugtige begeerte om van alles te ontvlug nie.

Toe klein armpies om my bene en my lyf vou, het ek net gehuil en gehuil. Hulle wou net weet wat gaan aan, wat is fout? Weet jy wat het ek gesê? Ek huil want ek is bly! Ek is nie onsigbaar nie, ek is nie sleg of ’n slet nie. Ek is ’n vrou met waarde. Ek is ’n goeie ma. My kinders het my lief. Ek is hul branderbreekmuur. Ek moet opstaan teen hierdie teistering en mishandeling. Ek gaan die stilte breek. Dis die enigste manier waarop ek die siklus kan stop.

My vriendin, jy het my lewe gered. Ek teken alles op in ’n dagboek en dink meer nugter oor alles wat gebeur. Ek weet die tyd om ’n besluit te neem, is hier. Ek alleen kan dit doen.

Naskrif: Al die pille het ek by die apteek afgegee om vernietig te word. Ek het dit vir seker nie nodig nie!

Baie liefde, jou dankbare vriendin