Die Hervormer

Waarom ’n simposium oor verhoudingsgeweld?

Die Algemene Diakensvergadering se jaartema vir 2018 is Gesinsgeweld. Op 21 Maart (Menseregtedag) is die Ubi caritas-simposium oor hierdie tema by Gemeente Rooihuiskraal aangebied.

Aan verhoudingsgeweld en al die trauma wat daarmee gepaard gaan, kleef ’n geweldige stigma. Dit is nie iets waaroor lidmate sonder meer met hul leraars of kerkraad praat nie. Daarvoor is daar bepaalde redes, en die kerk dra ook skuld daaroor.

In die eerste plek is die slagoffer van fisiese geweld binne ’n verhouding in alle gevalle eers ’n slagoffer van sistematiese en afbrekende emosionele geweld. Die slagoffer glo dus met verloop van tyd dat die fisiese mishandeling wat hy of sy moet verduur, eintlik verdien is omdat hul sin vir eiewaarde tot ’n groot mate deur konstante afbrekende en vernederende optrede van die verhoudingsmaat vernietig is. Vir ’n individu wat glo dat die geweld waaraan hy of sy blootgestel is eintlik hul verdiende loon is, is dit byna onmoontlik om dit aan die leraar of die gemeente bekend te maak, want dit lei tot persoonlike skuldgevoelens.

Tweedens plaas die kerk deur ons ondeurdagte en onkritiese uitsprake vanaf die kansel, veral wat huweliksluiting betref, onmenslike druk op die slagoffer, wat hom of haar noop om in die geweldsituasie te bly, want dit is immers wat van ’n Godvresende gelowige verwag word. Die slagoffer sal redeneer dat ek voor die kansel trou aan hierdie lewensmaat beloof het en dat ek ten goede of ten kwade altyd en in alle omstandighede daarby moet bly. Om die geweldenaar te verlaat of om uiteindelik van hom of haar te skei, skep gevolglik by baie gelowiges ’n geloofskrisis, want hulle kan hul gehoorsaamheid aan God nie versoen met hul persoonlike welstand nie. Uit vrees vir oordeel en verdere verwerping deur die kerk en die geloofsgemeenskap, word ook hierdie trauma verswyg.

Die eendagsimposium met die fokus op verhoudingsgeweld het daarom ten doel gehad om hierdie seer en ongemaklike saak in die openbare forum te bring sodat ons sinvol, deernisvol en bemoedigend met mekaar oor hierdie spesifieke trauma kan praat. Suid-Afrika het een van die hoogste verhoudingsgeweldsyfers ter wêreld. Dit is net die statistieke waarvan ons weet en wat wel aangemeld is. ’n Artikel wat in De Rebus van Januarie/Februarie 2018 verskyn het, vermeld ’n studie deur die Universiteit van die Witwatersrand waarin 56% van die respondente erken het dat hulle wel al fisiese of seksuele geweld gepleeg het. Die kerk durf hier nie volstruispolitiek beoefen nie, want dit sou ons belydenis en ons fokus of missionale kerkwees nietig verklaar.

Uit die aard van die saak kan ’n klein kerk soos die NHKA nie ’n globale ommekeer of impak teweegbring nie. Dit sou naïef wees en is eenvoudig meer as wat die Kerk se menslike hulpbronne toelaat. Maar wanneer één individu op grond van die klem wat op bewusmaking geplaas word die vrymoedigheid het om hom of haar tot die predikant of geloofsgemeenskap te wend in die hoop dat daar dáár vir hom of haar genesing sal wees, was dit al die moeite werd. Ons sing immers graag in die erediens die lied wat deur die monnike van St Gallen in die 8ste eeu gekomponeer is: Ubi caritas et amor, Deus ibi est (Ges 526). Waar die slagoffer liefde en deernis ervaar, word iets van die teenwoordigheid van die Here God self vir hulle waarneembaar en ervaarbaar.

Dit is op ’n dieper vlak vir die predikante en die leierskap van gemeentes en strukture in die Kerk van kritieke belang om ernstig te besin oor die taal wat ons aanwend as medium van verkondiging. Die hermeneutiek van suspisie en die insig van die feministiese teologie ten opsigte van die kritiese evaluering van die patriargale konteks waarbinne die tekste van die Bybel ontstaan het, moet in die prediking, liturgie en pastoraat ernstig opgeneem word. Om konteksloos te verkondig dat dit ’n Godvresende vrou betaam om aan haar man onderdanig te wees, kan letterlik tot die dood van ’n slagoffer van gesinsgeweld lei. Dit is onverantwoordelik en nie te versoen met die evangelie van hoop, bevryding en ewige lewe vir alle mense nie. Taal moet gevind word wat die hoop van die werklikheid wat Jesus Christus se opstanding in die lewe van ’n individu skep, te verwoord. Taal moet kreatief ingespan word om hierdie ander werklikheid te verbeeld en om dit ook ervaarbaar te maak. Dit verg toewyding, kritiese eksegese, nugterheid, nederigheid en voorlopigheid van ons predikante. Fundamentalistiese Skrifbeskouings en oorvereen-voudigde morele uitsprake wat die Bybel laat buikspreek, sanksioneer uiteindelik verdere geweld en laat die slagoffer met geen hoop nie, maar uiteindelik ’n gevoel van selfhaat, veragting en Godverlatenheid.

Wanneer ons bely dat die primêre aktiwiteit van die kerk Woordverkondiging is en behoort te wees, moet daar ernstig besin word oor die mag van taal. Verkondig ons ’n bevrydende, lewegewende woord, of verkondig ons gevangenskap en onderdrukking? Woorde het geweldige mag: Dit kan vertroos, bemoedig en opbou, of dit kan verneder, afkraak en uiteindelik vernietig. Die kerk kan nie met erns teen verhoudingsgeweld optree indien daar nie anders gedink en gepraat word nie.

Uiteindelik was dit die primêre oogmerk van die simposium: om nuut te dink, te besin en te praat in die gees van die woorde van Paulus in Romeine 12: 1-2: Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

(Dr Elritia le Roux is leraar in Gemeente Middelburg)