Die Hervormer

Dankie vir die gesprek

Daleen van Tonder, ’n lidmaat van Gemeente Waterberg, skryf:

Die simposium van 21 Maart 2018 was inderdaad leersaam en interessant. Ek dink iedere een wat dit bygewoon het, het die middag daar weggestap met ’n beter begrip van wat gesinsgeweld is en hoekom dit so moeilik is om die siklus te breek.

Gesinsgeweld het ’n geweldige traumatiese impak op ’n mens. En die enigste manier hoe ons, as gewone mense, gesinsgeweld kan hanteer, is deur te begin luister wanneer ander met ons praat. Nie net te hoor nie, maar werklik te luister.

Daar is ’n groot verskil tussen hoor en luister. Indien jy dan vermoed daar is fout, rapporteer dit aan mense wat kan help en wat kennis het om so ’n situasie te hanteer. Deur net dit te doen, kan jy dalk iemand se lewe drasties verbeter.  Ons moet ook begin let op gevaartekens, soos as ’n persoon jou nie in die oë kan kyk nie, mense hulself eenkant hou of iemand selfs naels kou of senuweeagtig is tussen ander.

Ekself, wat vandag hier staan as oorwinnaar oor gesinsgeweld, kon dalk baie hartseer en pyn gespaar gewees het indien iemand ’n hand na my uitgereik het.

Daar is verskillende redes vir gesinsgeweld, byvoorbeeld dwelm- en alkoholmisbruik. Dit word dikwels van geslag tot geslag oorgedra. Tydens die simposium is bevind dat leraars voldoende opleiding moet kry om gesinsgeweld te hanteer. Die sprekers van die dag was Rhona van Niekerk (kliniese maatskaplike werker en kriminoloog), ds Mariaan Beukes (berader by langtermyn vroueoortreders), en Ina Bonnette (oorwinnaar van ekstreme verhoudingsgeweld). Aan elkeen van hulle wil ek my opregte dank uitspreek vir die werk wat hulle doen. Ek kan dink dat dit nie altyd maklik is nie, maar dis mense soos julle wat ’n groot verskil in ander se lewens maak. Baie dankie!

Dankie aan Gemeente Rooihuiskraal en dr Elritia le Roux en haar span vir die warm ontvangs en heerlike middagete. En dat julle die inisiatief geneem het om so ’n sensitiewe saak te takel. Dis regtig ’n groot probleem in ons samelewing, en dit kom al hoe meer voor.